Die Innerlike Getuienis

  • 0

Dit was warm, snikkend warm gisteraand. Keer op keer steek my hand uit na die yswater wat onder die warm liggie op my lessenaar staan. Ek is besig met die Innerlike Getuienis. En dit moet reg wees voor die naweek.

“Hulle is weer voor die hek ...” frons Manlief en plons agter my op die bed neer.
“Werklik?” sê ek half ingedagte terwyl my kognitiewe skarrel om feite agtermekaar te kry op papier.
“Het blykbaar nie water nie.”
“Wat nou.”
“Weet nie, wil jy nie met hulle gaan praat nie?” fluister hy kamstig gedaan en skop skoene uit.
Ek loer onderlangs na hom. Manlief is ‘n liewe mens. Soms te jammerhartig. Kannie nee sê vir mense en sal sy onderklere uittrek vir ander.

Vies slaan ek bybel toe en spring op. Hierdie storie moet nou end kry. Hier kom ‘n ding ...

Deur die traliehek sien ek drie mense wat buite staan en wag. ‘n Klein ouerige vroutjie met ‘n seun langs haar wat nog op skool moet wees. Die meisiekind met die selfoon staan teenaan die hek en tik ongeduldig. Van haar weet ek. Was nog laasjaar in matriek, en het ek net laas week vir haar baby weggooidoeke gekoop. Manlief het nog gewonder hoekom gebruik sy nie materiaaldoeke soos ons in die ou dae gedoen het nie.

“Kan ek help?” vra ek en steek my kop deur die tralies.
“Ons wag vir die Oom.”
“Het julle ‘n probleem?”
“Die Oom het gesê hy kry ons hier oor tien minute.” Snou sy cheeky na my en hou aan tik op die selfoon.
“Die Oom is moeg, het gaan bad. Wat is fout?”
Meisiekind kyk my vies op en af. So asof die kat my hiernatoe gesleep het. Nee, nog erger, asof ek die oorsaak van die probleem is. Ek probeer in-zoem op Innerlike Getuienis. Die se stem is ook doodstil.

“Ek hoor julle het nie water nie. Het julle nie die rekening betaal nie?” vra ek reguit.
“Dis nie ons skuld nie, dis die mense wat voor bly, ons bly agter.”
En seker nie jul huurgeld aan hulle weer betaal nie, dink ek en probeer luister wat die opdrag vanaf Innerlike Getuienis is. Daar is geen opdrag of spontane invloei.
“Die Oom het gesê hy sal ons na my Tannie toe vat,” snou sy weer cheeky na my en maak my die skuldige. Nou tik sy eers hortend op die selfoon. Liewe land!
“Ek kan vir julle water gee, selfs warm as jul wil.” Stel ek voor en onthou Seuna se 20 liter kanne waarin hy water vir sy visse uit die bergstroom gaan haal. Ek meen – die baby se boude kort seker ook ‘n afspoel teen dié tyd.

Skielik staar al drie na my. Woordeloos. Ek probeer luister. Innerlike Getuienis het ook geen beter voorstel. Vir die eerste keer praat die klein vroutjie: “Nee wat,” brom sy vies: “Los dit maar!” En kan jy glo – die volgende oomblik draai al drie om en loop wipperig weg.
Ek frons en probeer agterna roep. “Dis nie ‘n probleem nie, ek kan vir julle water gee ...” Hul steur hul egter nie aan my nie.

Terug in die kamer maak ek my bybel driftig weer oop.
“Wat sê hulle?”
“Jinne, weet nie, maar sy is cheeky met my. Sê nie eers dankie vir die doeke!”
Verlig dat hy hulle nie hoef rond te ry die tyd van die aand nie, maak Manlief sy badwater oop.
Ek is vies. So ‘n klein klits, dat sy my so kan ontstel. Moet ek skuldig voel omrede ek hulle nie maar gaan rondry het nie? Maar, wou hul ooit nét water gehad het? Iets strook nie.

Skielik glimlag Innerlike Getuienis vir my. “Dis hoekom ek jou geen opdrag gegee het om te help nie.” Ek word stil. Voel hoe innerlike vrede deel van my wese word.

“U is so kosbaar,” glimlag ek terug en sien hoe feite deur ‘n Groter Hand reggeskuif word.

Trienie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top