Die huis oppie hoek wat almal Die Withuis noem

  • 0

Ek is van gedagte dat daar 'n rede is waarom huise gebou word. Daar met soveel sorg beplan word waar die slaap- en eet- en badkamers moet wees. Want mense moet daarin bly vir langer as 'n nag. Daarom dalk dat hotelkamers altoos so huislik as moontlik beplan word? Ek weetie want die meeste hotelle waarin ek was (die goedkoop soort waar jy net 'n uur of wat in spandeer logies uitgesluit) is onpersoonlik en as dit nie vir die Gideonsbybeltjie innie bedkassie was nie kon jy netsowel in die hotel se gange geslaap het.

Die Withuis se oorsprong is so ver terug dat min mense lewend dit kan onthou. Ek weet dat oupa en Oom Dan die ding gebou het. Twee of wat geslagte terug. Voor Eskom en lank voor munisipale water. Groot tenk langsaan vir die tydige reëns en later is die krag mos met pype ingesit van bo uit die ceiling uit. Dik drade wat later met die vat van die hand sommer so verkrummel het. Genadiglik nooit kortsluitings had nie, want die ou huis is lankal ontruim want die ou tante vir wie dit gebou is, is onner die grond in en haar nasate het genoeg geld vir die meer luukshede van Buffelsbaai en Hermanus.

Later het 'n ryk boer van die Wes-Transvaal die plek vir spotgoedkoop gekoop want die ou kasarm was aan't uitmekaarval. . Die plek met regte egte Dulux en baie sement en teëls en moeite gerestoureer na iets meer leefbaar en selfs aangebou hier en daar, want die familie is groot, selfs vir Wes Transvaalse families.

Kort na die Wes-Transvaal omskep is en nie meer bestaan het nie het ek gehoor dat die ryk boer toe ook sy trekkers en planters en ek weet nie wat nog nie moes beskou op 'n bankrot veiling. En die Withuis is toe verkoop aan 'n verlangse tante of neef of soortgelyke verwantskap. Nie uit liefde virrie plek nie, maar om die plek darem nog innie familie te hou soort van vermoed ek.

Die familielid was een keer hier en het beduie dat die plek nie vir haar is nie. Verhuur maar. En so het die "Spreeus" (waarom mense altoos hier rond moet name kry weet ek nie) hier ingetrek. 'n Horde klogoete en karige maar baie meubels en ou rusbanke uit die laat 80's en swart potgerei en getjipte borde en baie pot en ek sweer ek het die kort mannetjie wat die hoof tans van die huishouding is nog nie een dag minder as hoog gerook gesien nie. Kom later uit dat die patriarg van die gesin iewers in Sonderwater of een of ander gevangenis sit vir moord. Hy kan oor vyf of so in aanmerking kom vir parool hoor ek van die brandmaer Moeder met die regte egte laat 60's kapsel.

Waarom die armstes altoos die meeste klogoete en die meeste honne en katte moet hê is steeds vir my duister maar dit is die harde realiteit al weet niemand hoekom nie. Saam met die Moeder wat eerder Grandpa's as brood verkies (nog iets wat vir my duister is) draf daar altyd 'n maergat basterbrak. Nie maergat weens ondervoeding nie maar maergat omdat hy, so vermoed ek, heeldag skoppe en vloeke moet ontduik.

En toe gebeur wat ek gedog het die tweede maand moes gebeur: Die spreeus betaal nie meer die R500 huur nie. Hofbevele is beteken en die balju is dankbaar dat hy nog lewe na hy verwilder is. Selfs die munisipale amptenaar wat die water moes kleiner draai se gesin moet Boontoe kyk want hy is bestook met alles wat vierkantig of swaar genoeg was om skade te doen. Die krag is kort daarna genadiglik nie in persoon nie afgesit en toe sit die Spreeus en hulle gedy tot die punt waar hulle selfs begin onderverhuur. Per kamer per nag. Ongeag. En die huur is vooruitbetaalbaar.

Vanmiddag hoor ek die balju het genoeg moed bymekaar geskraap om met 'n spul vannie Boere daar op te daag en die Spreeus te probeer verwilder. Hulle kom vroeg voor die Boom behoorlik trek en die Rooi prop geskink is en die Boere wat kom is hardebaard manne wattie kak vattie en wat 'n keer of wat deur hierdie tipe ontruimings is.

Een van die Spreeus kom hier in en sy is blink gedrink en sy knyp haar goed versorgde Bokkie hond onder haar groot boesem vas en vra of ekkie weet van 'n goeie huis virrie donnerse hond waarvoor sy so lief is nie. Ek bekyk al vir lank die mooi hond want sy gesig het altyd so 'n hartseer uitdrukking. Ek beduie haar dat ek reeds soveel honne via die Animal welfare op my werf het dat hulle my gaan toesluit as hulle hier moet kom inspekteer en buitendien Kakkie my Jack Russel hou nie van nog honne op die bed nie. En mens kan mossie so 'n hond buite laat slaap nie. Veral nie meddie Winter wat op hanne issie?

"Waar gaan julle heen?"

"Plaas toe. Jy sien mos hoe wild my kinders is ... Piet het werk gekry daar oppie wildsplaas naby Riversdal. Ons kry huis en krag en water als."

"En die hond?" Ek vat aan haar (die hond bedoelende) en sy lek my hand.

"Ek weetie. Ons is more op pad en dan moet die hond 'n huis hê. Sy maggie samie. Daar’s wild oppie plaas.” Jy ken daai uitdrukking as mense wil skuld hê, iets wil vra of sommer net wil bullshit.

"Hoeveel wil jy hê virrie hond? “ Want ek weet daar is geen manier hoe hierdie hond die SPCA gratis gaan ontduik nie.

"R200. Ek sal wag tot more as jy weet van iemand. Sy het papiere en als ..."

Ek sit en teug aan my Chesterfield Menthol en ek sit en wonder wie volgende die Withuis gaan bewoon ... En wat dit my gaan kos uiteindelik. Want ek het nou reeds meer as genoeg honne op my werf.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top