Die heilige katolieke Kerk se verkondiging van die Evangelie

  • 0

Heil die leser.

Wyl daar nou reeds jare lank gespot word met die heilige katolieke Kerk (katolieke met 'n klein "k"), is ek hartseer, dog glad nie meer verbaas oor die swye midde al die hoon deur die sogenaamde ware Christengelowiges - byvoorbeeld Trienie Mahne en Kobus de Klerk - nie. Duidelik te ywerig en te besig met hul egotistiese veldtogte op die werf, hulle eweneens geen katkisasie kon ontvang het selfs aan enige hoofstroom Protestante organisasie nie.

Ek het reeds verskeie kere die wesenlike en vandag steeds van belang, artikel 27 uit die Nederlandse Geloofsbelydenis hier aangehaal.

Soos menige ander artikels in dieselfde belydenis vervat, vloei artikel 27 - eeue voor die Protestante se regsinnige (gereformeerde) benadering tot Godsdiens - uit die Roomse (Katoliek met 'n hoofletter "K") lering.  Die Protestante, het uit die Roomses gebreek - dus 'n Katolieke sekte in die korrekte sin van die woord:

sekte, =s. 1. Groep mense wat 'n bepaalde vertolking v.d. godsdiens aanhang, afgeskei v.d. hoofkerk of die gevestigde godsdiens. 2. Afgesplitste godsdienstige groep.

Trienie Mahne en Kobus de Klerk byvoorbeeld, is elk onderskeidelik en heel waarskynlik deel aan so 'n sekte, wat uit 'n sekte gebreek het, wat op hul beurt uit 'n ander sekte afgesplits het, wat lank gelede iewers in hul geskiedenis weer uit een van die vele ander hoofstroom en susterlike Protestante sektes geprotesteer het ...

Meeste hier wat vandag die Bybel as Jesus Christus aanbid, had egter hul wortels iewers uit die Roomses eeue gelede, en het toe verdwaal.

Ek glo en bely 'n enige katolieke of algemene Kerk wat 'n heilige versameling is van ALMAL wat in Jesus Christus glo, wat hul hele saligheid in Jesus Christus verwag en gewas is in Sy bloed, geheilig en verseël is deur Shekhinah, God onse Moeder - die Heilige Gees.

Hierdie katolieke Kerk (katoliek met 'n kleinletter "k"), was daar van die begin van die wêreld af en sal daar wees tot aan die einde.

Die katolieke Kerk, is ook die opregte en eerlike draers van die Evangelie.

Die sogenaamde ware Christengelowiges onder die toejuiging van hul ewe siniese ongelowige aanhangers so berug hier, dring nes die Skrifgeleerdes en Fariseërs van ouds daarop aan dat hulle, ons Almagtige Lewende Skepper in pag het. Sonder skroom verwys hulle na die Bybel, woedend en boos geklem in hul hand, as Jesus Christus (die Woord van God). Daarmee misken en ontsier hulle in absolute haat, ander se harte in diens en eer tot onse Skepper.

Ja, oral sing, dans, en verfraai mense tot eer van GOD. Geloof, hoop en liefde is elkeen se empirie in die lewe. My betoog is dat as jy sulke ervaring vir jouself toe-eien, jy ander se persoonlike ervaring om te glo, hoop en lief te hê, ook moet respekteer.

Ag jou eie ervaringe. Niemand - nie eens die dood - kan jou dit ontneem nie. Niemand kan dit eien of ontsê nie. Geen wetenskap kan dit verklaar nie. Dis joune - net joune!

Elke naam wat ’n mens ooit uit sy hart tot eer van ons Almagtige Skepper uitgeroep het is vir my heilig. Harte wat ons Almagtige Lewende Skepper eer behoort aan Hom. God openbaar self in elke mens, kultuur en Godsdiens. Oral sing, dans en verfraai mense tot God se eer.

Die Goeie Nuus is dat God ten volle mens vir ons almal geword het. Hierdie Blye Boodskap kan nou by elkeen se Godsdiens gevoeg word.

Kom ons vat hande en buig saam voor Jumala, Allah, Yahwe, Thathagata, Brahman, Big Chief, HaShem ... en dien ons EEN Almagtige Lewende Skepper wat ten volle ’n mens in Jesus Christus, vir ons almal geword het.

Mag Jesus Christus onse enige God, self die Tuinier in ’n ieder se hart wees.

Namaste!

Hindoe-, Moslem-, Joodse, Boeddhistiese, katolieke en Afrikaliefde,

Cornelius Henn

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top