Die "goeie apartheid" van Jan Rap

  • 5

Jan Rap skryf op 15 Oktober (oor apartheid) in sy inleidende paragraaf die volgende:

 “Dis verkeerd om te sê slegte goed is nie nou meer apartheid se skuld nie … want dit sou beteken daar wás op 'n kol iets leliks wat wel (sogenaamde) apartheid se skuld was. Ek sê spesifiek 'sogenaamde' apartheid want met 'apartheid' word bedoel die onderdruk en uitbuit van mense deur spesifiek die Afrikaner.  Laat ek dit weer sê:  Waar die woord 'apartheid' gebruik word, soos in '... oorblyfsel van apartheid ...' byvoorbeeld, word bedoel 'bose onderdrukking van swartmense deur die Afrikaner'.  Daar was nooit so iets nie; die Afrikaner het, anders as veral die Engelse, nog nooit iemand onderdruk nie.”

Dan vervolg hy ‘n ent verder:

“Die feit is die Afrikaner het nooit daardie soort apartheid toegepas nie (apartheid kom buitendien van die destydse Engelse regering af).  Daar was, wat genoem was 'petty'  apartheid, ook 'n oorblyfsel van die Britse goewerneurs en Smuts-hulle maar dié was lank voor 94 al van ontslae geraak. Die Afrikaner het dus niks… maar NIKS, om voor verskoning te vra of boete te doen nie.”

In kort sê Jan Rap dus, óf direk óf by implikasie, die volgende:

1.      Apartheid het nie bestaan nie. (“sogenaamde apartheid”, “daar was nooit so iets nie”)

2.      Die Afrikaner het nooit apartheid toegepas nie. (kyk maar, dit staan nét so hierbo)

3.      Die Afrikaner het nog nooit iemand onderdruk nie. (ook hierbo)

4.      Die Afrikaner het NIKS om voor verskoning te vra nie.

Ek het in my kommentaar onderaan sy brief, sy skrywe as “onsinnig” afgemaak. In reaksie hierop, skryf Jan Rap op 17 Okt. die volgende:

“Maar wys my waar ek valse stellings gemaak het sodat ek kan regmaak en my kan bekeer … ”

Nou maar reg, kom ons toets Jan Rap se vier stellings hierbo nét eers aan (sommige van) die wetgewing wat die Afrikaner na die 1948 verkiesing op die wetboek geplaas het. Meeste wette spreek by name vanself, maar ek gee ek ‘n kort beskrywing:

1949: Die Wet op die Verbod op Gemengde Huwelike. Spreek vanself.

1950: Die Ontugwet. Seks oor die Kleurgrens is ‘n kriminele oortreding.

1950: Die Bevolkingsregistrasiewet: Verplig elke inwoner van Suid-Afrika om volgens sy/haar ras geklassifiseer te word.

1950: Die Groepsgebiedewet. Duisende Swart en Bruinmense is ontheem.

1951: Die Naturelle Bouwerkerswet: Swart mense word nie toegelaat om enige geskoolde arbeid  te verrig nie, behalwe in spesifiek-toegewysde gebiede.

1951: Die Aparte Kieserslyswet: Die omstrede verwydering van die Bruinmense van die kieserslys.

1952: Die Naturelle Paswet: Dwing Swart mense om te alle tye identifikasie (met foto) by hulle te dra wat geboorteplek, werksrekord en enige interaksie met die polisie aandui.   

1953: Die Naturelle Onderwyswet: Gerig om swart mense na “eie behoefte” te onderrig (“dumning down” soos die Engelse sê.)

1953: Die Wet op Aparte Geriewe: Verorden segregasie in alle openbare gebiede, geboue, publieke vervoer, ens.

1959: Die Wet op die Uitbreiding van Universiteite: Verbied swart studente aan blanke universiteite.

1967: Die Wet op Terrorisme: Magtig die staat oa tot onbeperkte aanhouding sonder verhoor.

1970: Die Bantoe Tuisland Wet: Ontneem swart Suid-Afrikaners van hul burgerskap en dwing hulle om burgerskap van hul etniese “tuisland” aan te neem.

Nou toe nou. Gegewe dit hierbo, sê Jan Rap apartheid het nie bestaan nie, die Afrikaner het dit nie toegepas nie en het niemand onderdruk nie, en hoef oor niks verskoning te vra nie. Regtig, glo Jan Rap homself?

Moet mens dit uitspel: Is die uitgooi uit en platstoot van duisende mense se huise nie onderdrukking nie? “Loop, julle, die witmense wil hier bly!” 

“Waar’s jou pas, die sirene het al 9 uur vanaand afgegaan en jy’s nog in die dorp. Skoert lokasie toe!”

“Sien julle nie daai bord nie? Slegs Blankes, Whites only. Wat soek julle hier op die strand / stasie / poskantoor / bus / kerk!! Julle het mos julle eie plek / ingang daar agter waar julle ons nie pla nie.”

Aan die lesers hiervan: jammer vir die voorafgaande drie paragrawe, maar dis hoe dit was, ek het dit as Afrikaner gesien en beleef. Ons kan nie die geskiedenis ontsnap nie.

Aan Jan Rap: ek staan by my punt. Jou skrywe oor apartheid is onsinnig. Laat die lesers maar oordeel.

Dirk Rigter

  • 5

Kommentaar

  • Pieter Redelinghuys

    Beste Dirk,

     

    Jan Rap leef in 'n metafisiese wêreld vêr verwyder van hierdie realiteit, in 'n dimensie wat hyself vir hom geskep het, om die morele vraagstukke rondom Apartheid te kan hanteer, en sy strategie is baseer op dié van ontkenning. Normaalweg sou mens verwag dat 'n persoon die realiteit en waarheid sal raaksien, en erken dat Apartheid vir die swartbevolking "boos" (evil) was soos wat Biskop Tutu dit in een woord uitgedruk het.

     

    Jan Rap gedra homself soos die beskuldigde in die hof wat sy skuld ontken, en/of dit probeer afskuif op die skouers van ander, in dié geval op "die Engelse". Hy vergeet gerieflikheidsonthalwe die rol wat die Verenigde- en Progressiewe Partye, ook dié van die Liberale- en Kommunistiese partye, gespeel het om Apartheid te versag of om dit totaal af te skaf, en die rol van die (vervloekte)  Engelse Pers wat die Nasionaliste gedurig beroerte gegee het wees hulle kritiek op die apartheidswette.

     

    Jan Rap sal nooit vrede kry met homself nie totdat hy die Afrikaner se rol in die uitbreiding en instandhouding van Apartheid erken nie. Sy laaste verdediging sal ook wees: "maar daar was geen Apartheid omdat die swartes dan hulle eie stamlande gekry het (die Bantoestans)."

     

    Die Afrikaner sit vandag met dieselfde dilemma as die Duitsers na die Tweede Wêreld Oorlog waar die volk totale onkunde gepleit het oor die bestaan van konsentrasiekampe in hulle midde omdat die erkenning daarvan eenvoudig 'n té groot skuldbelasting sou wees. Miskien is dieselfde proses aan die gang by sekere Afrikaners wat die skuld probeer verskuif op ander, of dit totaal wil ontken. Maar dit sal nie werk nie - die geskiedenis van Apartheid sal nooit weggaan nie, en kan nie weggetoor/weggewens word deur ontkenning nie.

     

    As 'n bietjie Boeretroos kan ek aanbeveel dat Afrikaners kan leer en besef dat ander nasies soos die Britte en die Amerikaners nog groter booshede veroorsaak het, wel op ander volke, en gelukkig nie in hulle eie lande nie maar genoeg vêrweg daarvan, hoewel "two wrongs do not make a right". 

     

    Beste groete,

     

    Pieter Redelinghuys

  • CorneliusHenn

    Beste Dirk Rigter,  

     

     

    Met die grootste respek en bewondering vir jou netjiese uiteensetting hierbo; jy het duidelik vir Jan Rap verkeerd verstaan.  

     

     

    Jan Rap, is egter 'n man wat homself kan staan en daarom weerhou ek my verdere kommentaar daarop.  

     

     

    Nietemin, jy is ewe duidelik 'n redelike mens met wie 'n mens wel kan waag om rede te voer.  

     

     

    Daarom Dirk Rigter; toon asseblief hier met dieselfde toegewydheid dat Apartheid, eksklusief 'n Afrikaner beginsel is - met ander woorde; dat Apartheid enige ander groep se aandadigheid daarin uitsluit, en spesifiek - besonderlik - bepaaldelik - net deur die Afrikaner se toedoen en hul belang bedryf is.  

     

     

    Ek verneem ook graag van jou die bakens en datums (nes jy dit so netjies hierbo gedoen het), hoe Apartheid wortel geskied het vandat Jan van Riebeeck sy voet aan wal in die Kaap, hier aan die Suidpunt van Afrika gesit het (dit sluit natuurlik die Ingelse se sistematiese kolonisasie in).  

     

     

    Boeregroete,  

     

     

    Cornelius Henn

  • Pieter Redelinghuys

    Jan Rap sit vandag met 'n probleem wat hy nie vrede mee kan maak nie, en ook met meer as net 'n "image probleem".  Hy wil graag glo dat die Afrikaner 'n eerbare Christen-nasie is, en hy sien homself as die room van hierdie volk, 'n ware Afrikaner in murg en been, verdediger van die Afrikaanse taal, edm. Maar daar bestaan ongelukkig  'n probleem, 'n ware slang in die gras, nl Apartheid. Basies kom dit daarop neer: Hoe kon 'n ordentelike nasie met pretensies tot Christelikheid  'n landsbeleid aanvaar en volg, en nogal met geweld  toepas, wat universieël verdoem is? Maar  welbedoelde kritiek deur die Weste is afgeskryf as "die totale aanslag".

     

    Die gehate "Engelse pers" het alreeds in die vroeë vyftigerjare van die vorige eeu gewaarsku dat die Apartheidswette begin lyk soos die Nuremberg-wette teen die Jode. Daar was natuurlik Afrikaners soos Beyers Naudé wat gehoor gegee het aan hierdie waarskuwings, maar hulle is geignoreer of onder huisarres geplaas. So het die Afrikaners 'n staat opgebou reëlreg teenoor al die demokratiese beginsels en menseregte  elders in die Weste, en persone van kleur was ewe sleg, of slegter af, as inwoners van Oos-Europa en Rusland. 

     

    Nou is daar diegene wat beweer dat die grondslag van Apartheid deur die Engelse gelê is en gaan terug na Milner. Dit mag so wees maar daarna het die Afrikaner (met sy sin vir geregtigheid) mos dekades tyd gehad, voor of na die Tweede Wêreld Oorlog, om Apartheid af te skaf. Die rede waarom hierdie koers nie gevolg is nie is seker baie kompleks maar basis kom dit neer op gemaksugtigheid, vraatsugtigheid, en die uitbuiting van goedkoop nie-Blanke arbeid op die plase en op die myne, ook dat die Afrikaner 85% van die land vir homself wou behou.

     

    Vandag kan die Afrikaner terugkyk na sy geskiedenis en sien dat sy grootste suksesse berus op die feit dat die vroeë koloniste die land kon verower sonder grootskaalse genocide van die inboorlinge, en dat 'n vreedsame oplossing in 1994 gevind kon word sonder die oorgang na 'n Algerynse-tipe oorlog wat grootskaalse vernietiging in sy wyk sou meebring met 'n permanente erfstuk van haat. As lg plaasgevind het sou die witman maar sy goed moes vat en permanent die land moes verlaat.

     

    Dit sou beter wees vir Afrikaners om die foute van die verlede te erken, en die waarheid aan hulle kleinkinders te vertel as om hulle 'n onware weergawe van die geskiedenis te gee. Hulle sal eendag tog die waarheid hoor en dan vra: Maar oupa, hoekom het jy vir ons gelieg?

     

    Beste groete,

     

    Pieter Redelinghuys

  • Oor politiek het ek nog in my lewe nie 'n kind hoor vra aan ENIGE oupa wêreldwyd nie: hoekom het jy vir ons gelieg (ek hou meer van die woord jok - ek word bang wanneer mense se "lieg", maar ek is 'n eenvoudige skepsel). Jy kry mense wat derms uitryg en mense wat die derms cm vir  cml uitryg - dis nou wat hierbo gebeur het. Niemand op die aarde het soveel verdriet in die geskiedenis veroorsaak soos Engeland nie. Julle't groot idees wat ek nie op my eie lewe kan toepas nie. Cornelius, ek het ook nog nooit vir Jan Rap op iets "uitgevang" nie. Maar beteken apartheid dan nie om apart te wees nie? Ek weet verseker, sonder twyfel, en maak hierdie stelling met 'n skoon gewete: "my ma se Engelssprekende bure, het hulle bediendes omtrent dwarsdeur al die plekke waar ons gewoon het, baie slegter behandel as die Afrikaanssprekendes. HULLE bediendes het dikwels 'n probleem gehad waarmee hulle eerder na MY ouers toe gekom as na hulle eie "base" - en "base" was hulle wel! 

    Nou voel ek vere vir julle boere bashing want elke dag moet ek my oor my kinders en familie bekommer - ons woon agter geweld(dadige) elektriese drade - binne-in die gang moet ek snags 2 staalhekke EN nog 'n deur oopsluit en die sleutel op plekke kry om net bietjie water in die kombuis te gaan drink. 
     
    In 1988 het MY bediende 'n dogtertjie gehad, Mtabiseng, wat met 'n verskriklik hartdefek gebore is. Toe sy so 11 is toe neem ons haar na die Johannesburgse Algemene Hospitaal. 'n Afrikaanse professor het 'n ingrypende hartoperasie op haar uitgevoer - agterna het sy haar eie hoogs opgeleide verpleegsters gehad en is 'n hele ICU-saal aan haar toegewy omdat haar lewe aan 'n draadjie gehang het. Sy't wonderbaarlik herstel en daai einste Afrikaanse dokter moes haar elke maand sien, dan't hy vir haar 'n sakkie lekkers of iets gehad, ek het hulle aangery na die hospitaal - soveel deernis het ek min in my lewe gesien. En wat doen Mtabiseng? Sy word 'n afvallige tiener wat haar ma die grootste verdriet aangedoen het. Toe sy vigs opdoen was daai einste professor gebroke - al sy toewyding was verniet. Mtabiseng wou nie meer vir haar opvolgings gaan nie MAAR wat ek wou sê ...  waar was ek nou - o ja, tot vandag toe het Liesbet (die ma) nie 'n enkele rekening vir 'n pilletjie of 'n rolletjie toiletpapier gekry nie. Destyds was daar afrikaners en engelse ook wat moes hartoperasies kry - kan iemand onthou hoe hulle in die koerante fondse moes stig sodat hierdie of daardie persoon se operasie gedoen kon word - donasies moes dringend gegee word. Hierdie is die reine waarheid wat ek nou vertel het. EK is maar stupid soos stupid lyk, maar julle groot woorde is te veel en onverstaanbaar - ek verstaan net dit wat ek hier voor my sien en voel. 
  • Ek het ’n paar vrae
    1886 wat was met Paul Kruger bespreek.
    As daar twee aanslae was op Verwoerd, was dit so maklik vir Tsafendas om by Verwoerd te kom.
    Wat het van Verwoerd se aktetas geword?
    Wou hy die RB onder Staatsbeheer plaas?
    Daar is ook gerugte dat hy ’n ander aankondiging wou maak nl die afskaffing vd paswet?
    Wat was project Hammer presies?
    Lyk vir my Verwoerd was meer in die pad van die blanke as enige iets anders?
    Rentekoerse as voorbeeld.
    3% 1966
    9%
    16%
    24% 1989.
    Btw 4%
    Btw tans 15%
    Ek weet hoe dit was met die paswet.
    My pa het ’n konstruksiemaatskappy gehad en die paswet het hom geweldig nadelig beïnvloed. Sekere bouers met konneksies se werkers was gelos en ander s’n gearresteer. As jy nie aan die susterkerke behoort het nie, was dit ook ’n probleem verstaan ek.
    Sal waardeer as iemand my vrae kan beantwoord.
    Ek sou graag ook meer wou weet wie Verwoerd se aktetas laat verdwyn het.
    Sien ook die plundering vd PIC was blykbaar al van 1972 af.
    Is dit alles fopnuus?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top