Die goddelose troep

  • 6

Dit was Januarie 1983, en ek het so pas in Bloemfontein in die Weermag gearriveer. Dit was my eerste kerkparade, en ek had geen idee hoe hierdie tipe ding werk nie. Ek voer toe maar net bevele uit.

Bevele het gekom vanaf die groot, vet oom wat ons "Sammajoor" genoem het. Hy kon nie praat nie, net skree. Alles aanmekaar. Niemand het hom van leestekens geleer nie. Hy het die duisend of so van ons aangetree en begin blaf.

"NG - KERK - TREE - AAN - ROER - JOU - GAT - TROEP - EK - WAG - NIE - OP - 'N - SONDAG - VIR - JOU - NIE!"

Met 'n allemintige geskarrel het omtrent die helfte van 1SAI Bataljon aangetree. Pelotons van so veertig elk het weggemarsjeer kerk toe.

Ek het nog gewag. Is mos nie in die NG-kerk nie.

"HERVORMDE - KERK!" bulder hy voort, "TREE - DAAR - BY - KORPORAAL - DA - SUZA - AAN!"

Stilte.

"NIE - DA - SUZA - NIE - DIE - DONNER - IS - 'N - KATOLIEK - WAAR - IS - 'N - HERVORMDE - KORPORAAL!"

Nog 'n groot klomp marsjeer daar weg.

"GEREFORMEERDES - MOENIE - LAAT - EK - VIR - JOU - WAG - NIE - JOU - DANCE - PARTY - IS - VERBY - DIS - TYD - VIR - KERK!"

Die volgende drie het hy altyd bymekaar gehou.

"NUWE - APOSTELS - BY - KORPORAAL - KOSTER - OU - APOSTELS - BY - KORPORAAL - SMIT - EN - AGS - BY - SMIT - SE - MAATJIE - TREE - AAN!"

Wanneer hulle so wegmarsjeer voeg hy by: "HOOP - DIE - DAM - IS - NIE - TE - DIEP - VANDAG - NIE!"

"KATOLIEKE - MARIA - WAG - VIR - JOU - MAAR - EK - WAG - NIE - VIR - JOU - NIE - ROER - JOU - TROEP - ROER - JOU!"

Daarna volg 'n hele klomp kerke waarvan ek nog nooit gehoor het nie.

Ek was 'n Baptis nadat die NG-kerk ons gevra het om te bedank. Iets met 'n dopery te doene. Ons kerk het toe later die Baptiste-Unie verlaat en saam met 'n ander paar kerke die IFCC begin. Ek was seker Sammajoor sou my nie glo as ek vir hom sê ek behoort aan IFCC nie. Ek besluit toe maar om 'n Baptis te bly.

Naderhand was daar net drie van ons oor. 'n Vaal Cortina het langs die paradegrond gestop. Die troep langs my het die bestuurder herken. Sammajoor ken hom klaarblyklik ook.

"NOU - JA - JULLE - MORMONE - DAAR - IS - JULLE - GROOT - HORMOON - NOU!"

Hy wou net omdraai en loop toe hy sien dat ek nie in die Mormoon-motor klim nie.

"JOU - GODDELOSE - TROEP!!!!"

Skielik had hy nie woorde nie. Hy kon nie sy oë glo nie. Ek lyk dan so christelik-nasionaal.

"IS - JY - IN - DIE - RONDE - KERK - WAAR - DIE - DUIWEL - JOU - NIE - IN - DIE - HOEK - KAN - VASKEER - NIE!!!"

Hy staar my aan en besef dat net ek en hy oor is op die paradegrond. Skielik is sy bravade oor en word hy weer 'n mens.

"In watter kerk is jy?" vra hy.

"Baptiste Kerk, Sammajoor" lieg ek ter wille van 'n lang verduideliking.

"Nou waar gaan hulle nou weer heen?" wonder hy hardop. Toe laai hy my in sy motor en sit die pelotons agterna. By elkeen stop hy en vra die korporaal waarheen die Baptiste moet gaan.

Die Katolieke weet toe en antwoord: "Free Churches, Seageant-Major! The Baptists, Methodists and Presbyterians are together as the Free Churches!"

"Vrye Kerke!" haal sy geheue hom weer in. "Vrye Kerke … nou wat op aarde dóén julle daar?"

Ons kon hulle toe op die ou end nie opspoor nie, en Sammajoor het my toe maar vir 'n koffie by die Wimpy ge-stick.

Eintlik 'n nice oom, dié Sammajoor!

  • 6

Kommentaar

  • CorneliusHenn

    Dankie Sandvelder! ... hierdie is gewis my gemeente: "DIE - RONDE - KERK - WAAR - DIE - DUIWEL - JOU - NIE - IN - DIE - HOEK - KAN - VASKEER - NIE" ... katolieke (met 'n klein k) groete, Cornelius Henn

  • Oulike stukkie! Mmmm - vrye Kerke? As ek in die groep was het ek seker saam jou en die Sammajoor gaan koffie drink by Wimpy.   

  • Ja dit het maar soms 'n bietjie woes gegaan in die ou SADF.  Ek onthou nog goed my eerste dag op
    Potch, toe almal onherkenbaar met amper geen hare, soos bandiete bymekaar kom en daar 'n ou met 'n rang
    wat later "wit rot" gedoop is op 'n kassie klim en homself soos volg voorstel:

    'Ek is ..... ek het nie hart nie, maar 'n twee silinder Listerenjin, wat nie bloed maar alkohol, deur my are pomp.
    En ek is hier om julle ouens op te f-k.' .

    Dit was die dae van die 'monkey suits' en gestyfde broeke, waarin jy klim deur op die katelstyl te staan, wanneer iemand jou broek vir jou vashou en jy daarin seil, soos 'n slang in gat, en jy jou bed 'gedixie' het.

    Die betaalstelsel was ook maar primitief, jou soldy is nl in rooi kryt, op die sak van jou 'monkey suit' geskryf
    en dan het jy by die betaalvenster geloop en jou 'army pay' ontvang. Was nie baie in my skik met my 10c nie,en totaal ongewild, veral nie toe ek dit teruggee nie en sê  hy moet dit bêre waar die son nie skyn nie.

    Die 10c was die resultaat nadat aantal tot nou toe duistere  aftrekkings gemaak is,.

    Die grootste sports was gewoonlik op die 'obstacle course' en 'river crossing'. Die is gehou waar daar met 'n Bedford tot by die rivier kon gery word. Die toue is dan aan die Bedford  en oorkantse wilgerbome vasgemaak.

    Die Bedford het dan die effense bultjie uitgeklim en die toue soos kitaarsnare gespan.Wanneer die toue dan
    vol manskappe was wat heen en weer die rivier gekruis het, het die Bedford stadig agteruit gery sodat die ouens in die middel aan die water raak. Dan vlieg die Bedford tot groot vermaak weg en val die manne soos vlieë in die rivier.

    Wonder hoeveel toerustig het daar verlore geraak. Die ander groot 'treat' was om uit 'n bewegende voertuig te spring en dan te rol sonder dat jou 'vrou', dit is nou jou geweer beskadig word. Dit was dan ongelukkig so dat op die betrokke dag die  voorste Bedford se 'speedometer' nie gewerk het en die manne met redelik spoed uit
    die Bedfords gevlieg het.

    Wonder bo wonder  was daar behalwe 'n paar skrape en blou kolle geen gebreekte arms of bene nie.
    En soos dit met 'n goeie storie gaan het die Bedford se spoed ook met die jare toegeneem.Toe ek laas gehoor het was dit teen 65 kilometer. Glo nie ek sal lank genoeg lewe om tagtig te haal nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top