Die EFF se grondbeleid is om alle maatskaplike, stam, blank en nie-blank landbou grond sonder vergoeding te onteien, en soos die huidige geval met ondergrondse miniraalregte, staatsbesit te maak. Voorts sal landbou grond vir hoogtens, op ‘n non-diskriminerend basis, vir 25jaar uitverhuur word, hernubaar daarna. Huur kan te engie tyd gekanseleer word indien die plaas nie aangewend word waarvoor ‘n lisensie voor uitgereik is nie. Residensiele grondbesit word nie hierdeur geraak nie. http://www.effighters.org.za/policy/on-land/
Die nadele van die huidige privaat grondbesit wat aanleiding tot hierdie beleid gelei het, om net ‘n paar voorbeelde te noem, is:
Hoofsaaklik in blanke besit
Die groot gaping in inkomste tussen eienaar en werker
Die kwesbaarheid van werkers in situasies wanneer die einaar misoeste ondervind
Die onekonomiese aanwending van landbougrond, soos die geval in stamgebiede.
Die afwesigheid van die plaasboere wat eerder in stedelike gebiede werk, met die dienooreenkomstige verval van sodanige landbougrond.
Die onvermoe van die meerderheid voornemende swart boere om kapitaal te kan bekom om implemente te kan bekostig om suksesvol te kan boer.
Dat S.A. ‘n netto voedsel invoer land geword het, volgens die EFF. Nie waar nie, volgens SouthAfrica. info. http://www.southafrica.info/business/trade/export/agriculture-030212.htm#.SQlZuCh8z_M, is S.A. 30% meer ‘n netto uitvoerder as invoerder van voedsel produkte
Dat die staat dit nie sal kan bekostig om hierdie beleid te kan implementer deur middle van gewillige koper/verkoper stelsel nie, dus liefs maar die pad van onteiening te gaan.
Die gevolge van die EFF beleid:
S.A. se bevolking is nou 66% verstedelik http://www.southafrica.info/news/urbanisation-240113.htm#.SQlelCh8z_M. Van al die moontlike beroepe, heg swart studente die minste waarde daaraan om boer te wil word. Selfs onder blankes, is boerword laag op die beroeps-agenda. Dus sal die meerderheid swart boere vanselfsprekend vanuit die huidige plaaswerker gemeenskap verkry moet word. Dit in sigself skep reeds die eerste groot en belangrike struikelblok vir die EFF.
Die transformasie van werker tot boer (entrepreneur) sonder die nodige opleiding en kundigheid, is reeds ‘n resep vir ‘n voortdurende misoes welke verliese die einaar van die plaas (in hierdie geval die staat) voortdurend sal moet funder vanuit belastinginkomste van ander verdienstelike beroepe. Selfs kundige boere wat in vreemde omstandighede probeer boer, faal soos die geval waar net 9 vanuit 28 S.A.boere met sukses in die Kongo boer. http://www.timeslive.co.za/africa/2014/02/23/sa-farmers-struggling-in-congo
Dit is te betwyfel of die kapitaaluitgawes benodig vir die aankoop en instandhouding van plaasgereedskap en implemente genoegsaam vanuit die staat se plase se opbrengs gaan wees sonder bykomstige staat bydraes nie. Banke sal die boer nie kan help nie, want die staat se plaas kan nie as sekuriteit vir enige lening verpand word nie.
Dit gaan ‘n duur administratiewe beurakrasie so groot soos ten minste die spoorwee verg om die hele land se indiwiduele staats landbou eenhede te kan monitor vir produktiwiteit en inkomste.
Alle soortgelyke landbou konsepte wereldwyd het reeds gefaal, veral in lande soos Rusland en die kommunistiese oosbloklande van die vorige eeu. Selfs hulle het met groter sukses na die kapitalistiese stelsel oorgeskakel na die be-eindiging van die Sowjetunie. Sjina is ook vinning besig om na privaat landboubesit oor te skakel.
Wanneer die staat nie lenings kan bekom nie, verkoop hy van sy bates. In sodanige geval sal hy van sy plase begin verkoop, wat die sirkel weer 360 grade sal laat draai.
Ongetwyfel, soos Zimbabwe, sal Suid Afrika se landbou onmiddellik ineenstort met die soortgelyke tekorte aan voedsel verskaffing en gepaardgaande hongersnood en sosiale oproer. Skade sal vinnig deur sodanige beleid tot gevolg he, maar dit sal jare, selfs dekades, verg om sodanige skade weer te kan herstel.
En Ja. Die huidige negetiewe aspekte van privaatboerdery hierbo genoem en veral blanke besit, sal ongetwyfel aangespreek moet word om ontevredenheid te bestry. Die beste manier is blanke mentorskap van voornemende swart boere, wat in die proses ook goeie betrekkinge weerskante toe sal bewerkstellig; asook om werkers met die entrepreneuriale sy van die boerdery te betrek om sodoende toekomstige swart boere te kan help skep.
Indien blankes voortdurend die strominge aan verandering wil bestry, sal hy ongetwyfel op die langduur die kortste daarvan afkom. Liewer aan verandering deelneem waaraan jy beheer kan uitoefen, eerder as waar dit tot groot verliese afgedwing word.


Kommentaar
Jaco, ja, dit is 'n onderwerp waaroor daar redekawel kan word dat die spoeg spat. Soos ek voorheen al genoem het, verstaan die manne nie die konsep van 'n beskaafde demokratiese bestel nie. In die sg wêreldbeste grondwet wat ons het, is dit net vir 'n deel van die bevolking van toepassing. Die ander vetolk dit soos hulle, in die Afrika styl, wil. Ek het ook al genoem die grondwet wat ons het, is nie die papier werd waarop dit geskryf is nie. Grondbesit en eiendomsreg is van die pilare van 'n beskaafde samelewing, soos 'n goeie regverdige regstelsel. Ek glo nog steeds ons "Afrikane" sal baie vinnig 'n staatsbestel/regeringsstruktuur moet uitdink om al die inwoners op regverdige gelykvlak te akkommodeer. Julius en sy trawante word op 'n baie slim manier manupileer. Gebruik die gepeupel om jou ideologie af te dwing. Sweep die mense op. Die Afrika-demokrasie gaan op die ou end tog seëvier. Die getalle is oorweldigend in hul guns. Die Afrika-demokrasie is, "winner takes it all". Die probleem van grondbesit in Suid-Afrika deur 'n blanke sal in dag des lewens nie opgelos word nie.
Reusedwerg.
Die toon van jou brief is "hensop" want daar is niks aan te doen nie. Jammer dat jy so 'n swartgallige uitkyk oor die politieke prentjie van Suid Afrika huldig.
Jy sê dat die EFF gemanupileer word. Deur wie? Die swart getalle pla jou want jy sê: "Die getalle is oorweldigend in hul guns". Die swart getalle was in hulle guns sedert 1652. Wat is nuut daaraan? Het dit ons voorgeslag gepla? Ja. Maar kyk net hoe suksesvol het hulle in hulle eiesoortige omstandighede die probleme oorbrug.
Vandag se omstandighede is wel anders as die van ons voorvaders, wat ander strategie vir ons uitdaag om dit ook te kan oorbrug. Afrikaners het nieteenstaande oorweldigende struikelblokke in sy geskiedenis oorleef weens sy vermoë tot aanpasbaarheid met veranderende omstandighede. Die vlug vanuit Europa na SA. Die stryd met die VOC en goeweneurs. Die stryd met die Engelse. Die stryd met die KoiSan; die Xhosas; die Zulus; ens. Na elke stryd het die Afrikaner uiteindelik geseëvier. Selfs in nederlaag, nl die ABOII, om onmiddellik daarna die eerste en daaropvolgende eersteministers en presidente van die land te verskaf oor 'n tydperk van 1910 tot 1994, in werklikheid oor 'n groter grondgebied met SWA ingesluit, as die van die vorige Republieke! Die 1994 oorgawe was noodgedwonge en onvermydelik om verdere Afrikanerlewens in die terreuroorlog te spaar. Daar was geen kans vir oorwinning oor die langtermyn nie.
Die feit dat die Afrikaner die onmiddellike verliese van staats-en-myn-betrekkings na 1994 grootskaals verloor het, het na emigrasie en grootskaalse werkloosheid onder Afrikaners gelei, wat hom tydelik gekniehalter het. Op daardie stadium was swart / Afrikaner betrekkinge op sy beste, want die persepie was dat die Afrikaner verewig vernietig was. In swart oë was hy uitgedien. (Jou swartgallige uitkyk hierbo skep dieselfde indruk.)
Intussen, stil maar stelselmatig het die Afrikaner sedert 1994 aangesterk. Sy werkloosheidsyfer sedert 1994 het tot vandag se 4% gedaal met die jongste statistiese rapport, vergeleke met die van swartes wat 25% is, dieselfde persentasie as toe die ANC mag oorgeneem het ! Die Afrikaner entrepreneur het ook intussen die ruggraat van die ekonomie geword. Agter die skerms, ook die dryfveer van swart entrepreneurs, soos Ramaphosa agv Johan Rupert. Die top tien rykste mense in Suid-Afrika is merendeels Afrikaners. Die aantal Afrikanerkunstefeeste het vermenigvuldig. Die Afrikane musiek en musieksterre as kuns het ontplof in gewildheid. Sekere beroepe, soos bv IT, indiensmakelaars en sekuriteitsmaatskappye is oorweldigend Afrikanerbesit. Solidariteit en AfriForum groei vinnig uit hul nate.
Die gevolg?
Afguns, en opnuut 'n poging om die Afrikaner te probeer uitwis; deur sy vermoë om te kan werk soek; sy landbou, universiteite, skole, taal en kultuur te probeer onderdruk deur middel van rasgedrewe vervolgende tipe wetgewing. Jy sê die konstitusie is nie die papier werd waarop dit geskryf is nie. Sies vir jou! Dit is juis deur middel van hierdie konstitusie waardeur die Afrikaner tans sukses het om die swart regering te kan aanvat, in die meeste gevalle met groot sukses. Die jongste "hitch" mbt tot BEE, gaan Afrikaners dit by die VVO opneem. Indien hierdie Afrikaners jou "hensop" siening gehuldig het, kan ons maar net sowel as Afrikanerkultuur vrek!
My waarneming is dat met die volgende algemene verkiesing in 2019 gaan die EFF of die regering van die dag word; of die amptelike opposisie, met die ANC en DA as koalisieregering. Die vinnig groeinde ontevredenheid onder swart werkloses asook die regering se onvermoë om selfs minimum standaard dienste te lewer, is aanduidend vir sodanige moontlikheid. Die munisipale verkiesings in 2016 gaan ook aandui tot watter mate die ANC verdere steun verloor. Afrikaners moet juis NOU reeds vir so 'n moontlikheid voorbedag wees deur die vrese en afguns wat swartes huidig teenoor Afrikaners huldig te neutraliseer; een voorstel 'n swart opheffingsprogram, deur Afrikanerbesighede en landbou gelei. 'n "Buddy-buddy" of mentorskap stelsel.
Jaco, dis jammer dat jy my opinie van die Suid-Afrikaanse politieke arena as swartgallig sien. Dit is nie swartgallig nie, ek is net sinies (bevraagteken) oor die huidige stand van sake. Wat is die blanke se politieke bydrae in elk geval op die stadium in die land? Sal die blanke enigsins op politieke vlak 'n beduidende verskil kan maak? Ek weet nie so mooi nie. Elke ou het mos maar 'n opinie oor hoe hy 'n ding sien. Solidariteit het seker al oorwinnings behaal, goed en wel, maar wat het daarvan gekom? Dit is hoe ek die huidige situasie opsom. Ek hou vol dat "demokrasie" soos in westerse riglyne nie in Afrika werk nie. Jy kan dit nou sien wat in Zambië gebeur. Die oomblik toe daar 'n blanke as waarnemende staatshoof aangestel is, is daar onluste en geweld. Solank ons as mens nog spoor trap, sal die kolonialisme (rasissme?) nie uit die Afrikaan se bloed, wese en gene verdwyn nie. Grond is sy reg. Hy was eerste hier. Ons kan redeneer en stoei, dit is sy siening. Die witgesigte het sy grond kom steel en kaart en transport is 'n blanke ding. Intussen klits ek my nie oor beuselagtighede op nie. Ek vat sy geld.
Reusedwerg
Jammer indien ek jou verkeerd gelees het.
Die ongeluk is dat baie steeds ou politiek wil bedryf, en die Afrikaner in daardie lig wil sien. Vir hierdie mense is 'n politieke grondgebied die enigste manier wat die Afrikaner sy selfstandigheid kan handhaaf. Ek sê NEE.
Die Afrikaner bevind homself vandag in 'n heel anderste bestel als voor 1994. Dit verg nuwe aanpassings asook nuwe strategie vir ons selfbestaan. 'n Politieke gebied is onmoontlik en tydmors om dit selfs te debatteer.
Huidig is Afrikanerpolitiek nie hoog op sy prioriteitslys nie, wel inkomste en kapitaal aanwas, asook die beste opvoeding vir sy kinders; en daarmee is hy merendeels baie suksesvol. Politiek gewys stem hy saam met andergekleurdes hoofsaaklik vir die DA, wat eenders as die ANC mbt tot beleid is, maar nie as anti-Afrikaner soos die ANC gewaar word nie.
Gemeenskapliksgewys, trek die Afrikanerse musiek, kunstefeeste en Afrikanervakansieoorde hulle vir samehorigheid. AfriForum is stelselmatig besig om onder Afrikaners gewild te raak, en kan moontlik in die toekoms die "nucleus" vorm van 'n politieke entiteit of selfs raad of parlement vir Afrikaners buite die bestek van die nasionale politiek.
Soos die Jood, kan ons laer trek en eksklusief as Afrikaners in hierdie land lewe en terselfde tyd inklusief optree in verhoudings met anderkleuriges tot eie belang.
Ek bekla nie my lot in hierdie land nie, want ek vaar besonders goed, nieteenstaande al Jan Rap se gedurige herinneringe aan die verval in strukture; en ek voel ook vere hoe die anderkleuriges optree. My belangstelling is suiwer hoe Afrikaners optree tot voordeel van Afrikaners, en daarin bly hy steeds tops. Hier en daar is daar "hiccups", maar oor die algemeen doen hy blerrie goed vir homself en kan homself op die skouer klop daarvoor.
Jaco, dankie vir jou uiteensetting. Ek is heelwat ouer as jy, ek dink, maar ek word ook die moer in as iemand heel tyd loop en kla en kerm. Ek het vriende (tydgenote) wat loop en mor, maar wat doen hulle aan hul eie heil? Jy maak jouself siek as jy die hele tyd negatief en afbrekend optree. Ek beweer nie alles is 100% nie, maar om jou oor goed te verknies waaraan jy niks kan doen nie, gaan jouself vernietig. Ek was nou die dag in gesprek met iemand wat wil landuit. My antwoord was, se moer ek bly net hier en irriteer die wit waks uit die manne uit. Soos die Ingelse spreekwoord, "there are many ways to skin a cat". Jy moet "streetwise" wees.
Reusedwerg
Dankie vir jou "streetwise" houding. Ek hou daarvan.