Agter my dierbare vriend Ivan se kleinhuisie se deur, het daar altyd ’n plakprent van ’n bobbejaan gehang. Bokant die verdwaalde gesigsuitdrukking van kees, kan ek onthou, staan die volgende slimteks: “sometimes I sits and thinks ... and sometimes, I just sits.”
Nou-ja, ewewaar is dit wel ook by hierdie keeskind die geval ...
Van kindsbeen af tot hier knap in die veertigs, was dit vir my ’n gesukkel om goeters net botweg te aanvaar. Totdat daar ’n kersligstraal van wysheid in my donker gemoed opgevlam het. Van daar het ek eintlik baie vrede met dinge soos dit is. Soos ’n kalm kollega al terloops opgemerk het, “dit is wat dit is”.
Maar is dit wel so?
Moet ’n mens nie tog êrens so dan-en-wan ’n vragie of twee vra en antwoord nie? Veral wanneer die oplossing vir ’n probleem of kwessie uit die bos spring, lank voordat die vraag ’n kans gehad het om homself te kom bekendstel.
Sedert ek my soekende geheue het, was die regerende party van ons ou volkstaatjie altyd ywerig aan die “spit-en-polish” ... ’n paar maande voor die verkiesing. Die wyksraadslid het skielik eredienste en skolerugby bygewoon ... ’n paar maande voor die verkiesing. Die party en sy mense se goeie geite en welslae vir die nasie, was voorbladnuus. Ai, en so het dit toe met die swaai van die eeu, glad nie verander nie. Regstellende aksie het by die politieke narstreke heeltemal verbygegaan. Die nuwe geslag beroepspolitici drink nog van dieselfde beker, as hul amateur voorsate.
Op my draadloos sonder grense, is daar elke oggend ten minste twee goewerment departemente wat die een of ander lof oor hulself deur die senders laat lewe. Die Arbeid-ministerie herinner ons Afrikaanssprekende plaaswerkers daaraan, dat hulle verlede jaar verhoging gekry het; dat hulle meisies nou vier maande se betaalde kraamverlof moet kry – natuurlik terwyl hulle werk het – en dat hulle gerus betaalde siekteverlof ook kan neem. Natuurlik ook terwyl hulle werk het.
Ai, en wat van die Gevangenis-minister se maatskaplik groothartige poging om verkragters en hul slagoffers te laat versoen. Blykbaar is versoening die antwoord vir meer uitdagings as wat ons dink. Hoe aangenaam moet die ervaring vir ’n tienermeisie of pensionaris-tannie wees, om weer hul vernedering en sielsverskeurende oomblik aan die hand van ’n monster-met-‘n-penis, te herleef? Ek vermoed dat hierdie “versoening” dalk net meer vir die oortreder se paroolaansoek mag beteken, as vir hom óf sy slagoffer.
So ’n ruk gelede het ek iets êrens oor ontbinde huweliksverhoudings en ons gemeenskap se lewendige verlies van lewensmaats, kwytgeraak. As iemand wat baie vêr van die rolmodel lewensmater is, wil ek uiteraard dit nie waag om standpunte te maak wat ek nie kan volstaan nie, maar ...
Waarom sal ’n man na die emosionele gesanik van ’n geskeide vrou luister. Nee, nie net luister nie, maar met omgee oorgawe die mees sensitiewe oor en droogste ween-skouer wees. Ons manne het die vermoë om reikhalsend ontferming aan die gewonde duifies te betoon. Om met empatie en ongesteurde aandag op haar storie van verlore en vertrapte liefde te fokus, soveel-so, dat hoor en sien, ongesiens sal vergaan.
Die antwoord op hierdie veralgemeende vraag, my agbare broeiers, is myle in planting vooruit ...
’n Bypen riller, is egter die vragie wat daarteen kan volg: Hoekom sal ons manne die nuwe prooi gaan inhardloop en sagmaak vir die slagting? Hoekom is ons met blindheid geslaan en sien ons nie die lam op kamp raak, terwyl sy daar is nie? Juis daardie lam, wat waarskynlik self tot slagting sou trippel, indien sy aan die ontvangkant van ’n aks van dieselfde empatie, aandag en liefde was. Dis amper so waar en redelik verwagbaar, soos die meisie wat die lieste van liefde aan ’n ander se eggenoot openbaar. En dit, omdat sy vrou hom nie verstaan nie ...
Al hierdie optredes is net oplossings vir probleme en gebeure wat eintlik voorkom kon wees! Genade, hoe moeilik kan dit wees om ’n ander mens met menswaardigheid te behandel? Hoe vêr opgeleid of verstandelik ontwikkeld, moet iemand wees om dit tog as ononderhandelbaar te beskou?
Of het ons so slim in onsself geword dat daar voortdurend iets nuuts moet wees? Voortdurend ’n strewe na beter, na anders. Vernuwende denke, is mos juis die “DNA” van ons geleerdes se MBA.
Op hierdie slagveld van ons daaglikse bestaan, sien ek elke dag afvlerk-mense. Ouens wat sielskreupel is na ’n sakemislukking; of ouens wat hande-vier-voet in ’n bottel ingekruip het, om van hul stukkende drome af weg te kom. Mense wat die swarthond van depressie met selfverwyt of haat vir ’n ander voed.
Toe ons laerskool-outjies was, was daar een seker manier om iemand terug te kry wanneer hy of sy jou sou slegsê: gooi hulle met ... ”dit vat ’n grootte om ’n kleintjie raak te sien”. So is ons.
Soms wens ek dat almal vir wie ek omgee, ‘n slag ’n draai agter vriend Ivan se toiletdeur kan gaan maak. Want vir solank as wat ons Vader my die teerpad van hierdie dorp sal laat ry, vir so lank, sal ek ’n stuk spyt in my sak waardering saam met my dra. Spyt omdat ek soms van vriend Ivan se kees se gesegde vergeet het, maar andersyds so ontsettend dankbaar, dat Hy op Sy tyd, my laat sit het. En, toe laat dink het.
Hennie Fritz


Kommentaar
Hennie, lank dink agter die toe deur kan verskeie oorsake hê. Die algemeenste probleem (uitdaging!) is waarskynlik hardlywigheid. Een of ander aalwyn ekstrak of dalk net meer liggaamlike aktiwiteit mag die oplossing wees. Lank sit om wysheid te bekom lyk vir my na tydmors en 'n dom plan. Die hele idee moet wees om op die bobbejaan se prestasies te verbeter.