Die ander een se moeder

  • 0

Dis darem maar interessante grondpaaie, teerpaaie, sandpaaie, sypaadjies en afdraaitjies wat ons lewenskarre op rondry. Sommiges sal sommer net daarna as “die lewe” verwys. Ek dink daar kruip so baie hoeke en kante van ’n dag se bestaan na vore, dat hierdie kort woordjie net té marginaal is om die omvang daarvan behoorlik te beskryf, én te verstaan.

“Each to his own”, soos die Britte sou sê.

Gisteraand, toe bied ek, grappenderwys, vir my skoonmoeder ’n akkoord aan: “ek sal nie oor haar skryf nie, indien sy dan nie oor my skryf nie!”

Laataand, met die beterhelfde sag-snorkend op pad droomland toe, toe lê ek aan hierdie akkoord en die betekenis daarvan en dink ...

Vandat ek kan onthou was daar net een vrou wat werklik die middelpunt van my aandag, agting, respek en liefde geniet het. My moeder. Behalwe ’n tyd daar iewers in my tienerjare, was ek nog nooit skaam om dit te erken of selfs te verkondig nie. Tot die dag wat ek nog ’n vrou in my lewenskar gelaai het ... (of dalk het ek in haar lewenskar geklim; soms is dit ’n grys area) maar ieder geval, toe het ek ’n maat gekry saam met wie ek nou meer as ooit, aandag, agting, respek en liefde mee kan geniet. Moeder is nog altyd daar; sal altyd wees, maar in die binnekamer van my hart, sit elkeen op haar eie kussing.

(Ons moet tog eendag van die troonplasery probeer ontslae raak.)

Dit is nou alles goed en wel, behalwe dat vroutjielief ook ’n moeder het. In die beskrywende woorde van ons volkstaal, het ek ’n “skoonmoeder” gekry. Wie sou 25 jaar gelede daaraan gedink het?!

Skielik was daar nóg ’n moedersfiguur om aan te dink. Nog ’n vrou wat op die Amerikaners se moedersdag in ag geneem moet word. Nog ’n vrou wat ’n sitplek en kussing in die hartskamer moet kry.

In ’n poging om allereers met myself eerlik te wees, moet ek erken dat dit nie ’n maklike taak was nie. Ek ken tog net een Moeder. Een Moeder met haar gedagtes, gewoontes en manier van doen. Haar manier van liefhê. Haar manier van liefde wys en omgee. Skielik was ek gekonfronteer met iemand anders wat deel van my lewe word; iemand wat ook as moeder behandel, oorweeg en aangespreek moes word. Praat van ’n kopskuif!

Baie getroudes kla oor hulle skoonmoeders. Naas die afgesaagde grappe oor “blondines”, skelm politici en die Blou Bulle, is skoonmoederstories en grappe seker daar iewers onder die top-tien. Eienaardig genoeg, is selfs die skoonmoedergrappe so skrikwekkend, dat baie ouens lag vir die vrees wat dit skep, eerder as die snaaksheid daarvan!

Die lastige “intervensies” in gesinsdinge en die knaende gekla oor die afskeep, die alleenheid en skete, is gewoonlik die strekking van die skoonmoeder-sage. Amper soos Juffrou Rottemaaier destyds in Heidi, maar net baie erger!

Eienaardig genoeg, het ek nie hierdie ervaring nie.

Ja, ek spot altyd dat ek verseker nie juis my skoonouers se eerste keuse as huweliksmaat vir hul oudste dogter was nie; dat hulle haar gelukkiger in die welversorgende arms van ‘n ryk boer of so iets sou kon sien. Maar nou-ja, wie het gesê almal se hoop en drome sal altyd waar word?

Terwyl ons gisteraand om die etenstafel skerts en gesels, het ek iets in die lewende oë van my skoonmoeder opgemerk. Iets, wat ek jammerlik nog nooit die moeite gedoen het om raak te sien nie: Omgee.

Omgee, omdat te midde van die seermaak spore wat ek op haar hart getrap het, sy sekerlik nog baie dieper as ek moes gaan delf, om my daarbinne terug te laat.

Om daar waar die gat van teleurstelling oop gedolk was, vir my weer ’n kussing te kon neersit. Sodat ek ook ’n sitplek kan kry.

So baie keer, is dit so maklik om teen die grense van ons eie gebrekkige oordeel en onvermoë vas te kyk, dat ons onsself eerder ‘n valse regverdiging gee, in plaas van openlike afhanklikheid.

So baie keer is die sogenaamde kopskuif wat ’n ander oor jou moet maak, ente groter as wat joune ooit kan wees. Soms moet mens net terugstaan, stil word en kyk.

Die gejaagde asem, honger na suurstof, grypende mond en die starende blinde oë van ’n vriend en kollega op sy sterwensbed, het die vorige nag se nagrus vir my effens moeilik gemaak. Net voor en verskeie kere deur die nag, het hierdie gesig in flitsende beelde by my kom woel.

In kontras daarmee, en voor ek stil weggedwaal en die nag geïn het, het ek gisteraand met ’n glimlag in my gedagtes aan die slaap geraak. My Skoonmoeder se glimlag, wat nie net met die plooitjies om haar mond en oë saam gelag het nie, maar in haar oë te siene was. Daardie orgaan wat die mense sê die “venster na die siel is”. Deur daardie orgaan, wou ek my kussing raaksien ...

Vanoggend toe ek lees ek êrens ... “our Lamb has conquered; let us follow Him”... toe weet ek: dis nie alleen die gevolg en sukses van ’n menslike kopskuif wat liefde en lewe gee nie, maar wel die aanvaarding en volgehoue toepassing daarvan deur Sy genade. Genade van moeders wat omgee; ook genade om dit allereers of soms uiteindelik, raak te sien!

Ek moes skrifgedwonge die akkoord verbreek.
 

Hennie Fritz

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top