Diamant-Kind van God

  • 2

Wanneer mense in God se wil is en in Christus se geregtigheid staan sonder rebellie, is daar niks om te vrees nie.  Volmaakte liefde verdryf alle vrees en as daar iets is wat ons nog vrees ... of as daar iets is wat nog vrees-aanjaend vir ons is ... dan is ons nog nie in God se volmaakte liefde nie. (1 Joh. 4:18)  Nie ek nie en ook nie die een wat die vrees by my gewek het nie.

Min van ons ... indien enige, se liefde het al volmaak geword en ons kom daagliks met mense in aanraking wat ons ‘liefdeloos’ behandel en baie van hulle glo hulle is reg en sommige glo selfs dat hulle God ’n guns bewys. Soos die Jode geglo het toe hulle Jesus gekruisig het en soos Hitler geglo het, toe hy al daardie duisende mense doodgemaak het.

Dit is belangrik dat ons kan weet wie ons is, waar ons staan en waarnatoe ons gaan.  Selfondersoek is belangrik.  Soek ek dan nou die guns van mense, of van God?  Of probeer ek om mense te behaag?  As ek nog mense behaag, dan sou ek nie ’n dienskneg van Christus wees nie. (Gal 1:10)    Dit is nogals ’n ernstige Woord!

Die woorde wat Jesus tot ons spreek is gees en is lewe. (Joh. 6:63b)

Wanneer ons onsself vol maak met Hom ... dan raak Sy vrede ons deel en kan ons in stille vertroue op Hom wag. Die swaard van die Gees is dan ook die Woord van God.  (Efe 6:17) Hy word ons Rots en ons Verlossing, ons verdediging, veilige vesting en ons sal nie wankel nie.  Hy is ons Rots van onwrikbare krag en ondeurdringbare hardheid en ons toevlug is in God. (Ps. 62:5-7)

In Eseg. 3:9 sien ons hierdie ondeurdringbare hardheid waar God sê Hy maak ons voorhoof om soos diamant te wees, harder as ’n rots en ook mag ons nie vir hulle wat wederstrewig is, bang wees nie.

Buiten dat Hy sê dat ons vir hulle nie bang MAG wees nie en buiten vir die feit dat Hy ons bemagtig met die swaard van die Gees en met ’n voorkop van vlymskerp Diamant ... verseker Hy ons dat ons altyd op Hom kan vertrou. Ons harte kan ons voor Sy aangesig uitstort. Hy is vir ons ’n toevlug.

Dikwels dink ek aan die jare oue advertensie van hoofpynpille. Twee Bisons (dit is Amerikaanse buffels met baie harde koppe) staan teenoor mekaar en dan storm hulle direk op mekaar af en nie een gee weg nie. Hulle koppe slaan kliphard teenmekaar vas en daar staan hulle tot lank na die stof gaan lê het.  In ons lewe moet ons ook koppe stamp en verseker voel dit soms asof ons teenoor ’n waardige kragtige teenstander staan, maar God sê ons mag nie bang wees of verskrik nie. Hy is met ons en het ons beter toegerus as wat enige wederstrewige, rebelse ou op hierdie aarde ooit kan wees. 

Kyk ...  die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus, en ons gereed hou om elke ongehoorsaamheid te straf ... (2Co 10:5,6) 

Laat ons met diamant krag en prag opstaan.  Skitterend in ons vaste sekerheid dat God ons bemagtiging is en dat ons waardig en bruikbaar is en dat ons in Sy hand is ’n hamer en oorlogswapens.  Met ons verbrysel Hy nasies en met ons verwoes Hy koninkryke. (Jer. 51:20)  Laat ons moedig wees en sterk. Sonder vrees want die Here ons God is met ons ... oral waar ons gaan. (Jos 1:9)

En dan, ten laaste roep Hooglied tot haar Beminde ... Dra my soos ’n seëlring op u hart, soos ’n seëlring op u arm; want liefde is sterk soos die dood, die liefdes-ywer is hard soos die doderyk, sy gloed is ’n gloed van vuur, ’n vlam van die HERE.  (Songs 8:6)

Wanneer ons met die Here een geraak het soos ’n seëlring op Sy hart en soos ’n seëlring op Sy arm, werk sy liefde deur ons, sterk soos die dood en Sy liefdes-ywer ... Sy liefdes-begeerte ...  hard soos die doderyk. Niks kan standhou nie.

Skitter Diamant-Kind van God!  Jou gloed is ’n gloed van vuur, ’n vlam van die Here. Jou prag ... skitterende, ondeurdringbare reinheid.

  • 2

Kommentaar

  • Berdine

    Kosbare diep woorde. Die diamant is voorwaar 'n uitsonderlike simbool wat God gebruik om ons voorhoof (gedagtes, optredes, besluite) mee te vergelyk. Interessant dat die diamant se kaleidoskoop van kleure ontstaan vanuit die kern van die diamant en terugweerkaats na buite. Daarom ontstaan ons prag en gesag ook vanuit ons innerlike kernwese wat deur hierdie kaleidoskoop van kleure terugweerkaats na buite vir almal om te sien.

    Selfs die fasette van die diamant wat blink geslyp word, spreek van die verskillende fassette in ons eie lewe. Interessant word die diamant as hardste metaal aan ons bekend, gevorm onder geweldige hitte en druk. Sou dit ook betekenis dra?

    Mmmm, ek glo ook dat ons almal begeer om geen "flaw" in ons fasette te vertoon. Het jou stuk geniet. Dankie.

    Trienie 

     

  • Dag Berdine,

    Wat verstaan jy onder "om in God se wil te wees"? Is dit gehoorsaamheid?

    En verduidelik asb hoe jy besluit het dat die Jode gedink het hulle doen God 'n "guns" om die Messias te kruisig en ook hoe jy tot die gevoilgtrekking gekom het dat dit die Jode was en nie die Romeine nie.

    En die "duisende" wat deur Hitler vermoor is, Berdine, ek dink jou kennis is bietjie min. Teen die einde van die oorlog was daar reeds genoegsame bewyse om die moord van 6 miljoen Jode te bewys. Die ondersoeke het nooit opgehou nie en dit hou steeds aan. Die Duitsers was baie noukeurige mense en hul rekords was noukeurig gehou, net so noukeurig soos die Jode wat dit ondesoek. Ons het tans genoegsame bewys vir die massamoord van 18 miljoen. Agtien miljoen mense wie niks met die redes vir daai oorlog te doen gehad het nie, mense wie vermoor is omdat hulle die Lewende God aanbid.

    So in wie se belang is dit dat die Jode uitgewis word? Een van die Christendom se tragedies is juis dat hulle nie weet onder watter voorwaardes die Messias sal terugkeer nie.

    Terloops, 'n diamant is nie 'n metaal nie.

    Duitswester

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top