Dankie George …

  • 0

… vir die bemoediging. Maar as jy nou mooi dink is dit eintlik alles behalwe, dit is om die waarheid te sê kommerwekkend. Met 75% van die bruines, 60% van die wittes, 600 000 swartes en amper 5% van die Indiërs wat Afrikaanssprekend is, EN met die dat Afrikaanssprekers met 870 000 toegeneem het sedert die vorige sensus, maak ons nie hond haaraf nie.

Spyskaarte is in Engels, Afrikaanse besighede se produkte het Engelse name, Afrikaanse feeste se kosstalletjies, lyk dit my, se name en inligtingsuithangborde is Engels, Dawie Roodt (waar wil jy 'n meer Afrikaanse naam hê?) het 'n Engelse boek geskryf, VISI het Engels geword (altans ek dink so, daar is geen Afrikaanse VISI's meer op die rak waar ek dit altyd gekry het nie), ALLE kommunikasie met die staatsdiens, semi-staatsdiensinstansies en munisipaliteite is Engels (selfs SANparke se saketaal is Engels wat beteken f#k die Afrikaanse ondersteuners, ons dink net aan toeriste), alle besighede, selfs die met oorwegend Afrikaanse klandisie, se name (en saketaal) is Engels soos in Bloemfontein byvoorbeeld ens ens.

Soos ek hier skryf is luister ek met so 'n halwe oor na 'n program op die radio waar 'n ene dokter Tessa van Wyk die gas is, sy gee raad aan mense wat trauma beleef het en so aan. En jou wrintiewaar, 'n Afrikaanse vrou bel in en vra of dr Tessa se boek ook in Engels gaan verskyn, van haar vriendinne wil weet. Kan jy glo?

So, George, hoe meer die statistiek wys hoe goed dit met Afrikaans gaan, hoe slegter gaan dit met Afrikaans. Dus, óf die statistiek is gekook, óf dit word nie in die regte perspektief gesien nie. Hoe dit ookal sy, ons Afrikaanssprekendes tel nie. Wie se skuld is dit? Ons eie.

Groetnis

Jan Rap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top