Dagsê Thomas

  • 3

Ek verwys na jou kommentaar onderaan my brief van 2 deser.

Jy't my uitgevang oor die aantal state in Afrika. Jy's reg; dit is toe oor die vyftig in plaas van oor die 60 soos ek gesê het (en ek het nogal 'n groot kaart van Afrika). Dit verander egter nie veel aan die prentjie nie, dit beteken daar is gemiddeld 37,7 tale/volke/etniese groepe per staat in plaas van 31,8. Trouens, dit maak die prentjie erger.

Ek het niks gesê van swart regerings nie maar dit is nogal beduidend dat die korrelasie in jou onderbewussyn is. Maar, noudat jy daarvan praat, jy sê die oorgang was te vinnig en verkeerd. Kan wees maar, as jy reg is, hoekom het ons dit toe ook te vinnig en verkeerd gedoen? En hoe lank reken jy moet dit vat om ‘reg’ te kom? Clem Sunter het gesê ons moet eers deur ‘n ‘vale of tears’ gaan maar ek dink twintig jaar in die vale of tears – met min vooruitsigte vir verbetering of verandering (grondeisesirkus onder andere) – skud selfs vir Clem.

Jy praat van ‘ekonomiese aanvaarding deur die wêreld’. Waar is daardie wêreld? Hy bestaan nie; die ouens wat meelsakkies gegooi het, met plakkate loop en betoog het, die soort van ding, is maar in ‘n groot mate opkommandeer. My tuinboukundige assistent byvoorbeeld, wat al van 1984 af by my is, bly in Thembisa en hy sê, kort-kort, word hulle 4-uur in die oggend wakker gemaak en gedwing om in busse te klim wat hulle vervoer na plekke waar hulle moet gaan ‘march’ soos hy dit stel en hy sê hy’t nie die vaagste benul waaroor dit gaan nie.

Soos jy sê, jy het Afrika deurreis om ‘n paar dinge agter te kom. Daardie betogers waarvan ek gepraat het, het NIE Suid-Afrika deurreis om die ware toedrag van sake te ervaar nie, hulle was maar opgesweep deur die media (vandaar wat julle ouens ‘Muldergate’ noem; dit was ‘n poging om die speelveld gelyk te maak). Die meeste het nie ‘n idee gehad waaroor dit gegaan het nie, hulle het maar saam met die stroom gegaan.

Jy hou vol met jou storie dat ons mense onderdruk het en dit is onsin; hoe kan iemand in onderdrukking wees as hy sy eie vlag, taal en selfs weermag het? Ek stel dit weer eens aan jou; hierdie onderdrukkingstorie móét jy/julle eenvoudig aan vasklou as regverdiging vir jou/julle aandeel in die teenswoordige gemors.

Jy sê die vorige bedeling was onvolhoubaar en moes eenvoudig tot ‘n einde kom. Jy’s miskien reg dat hy onvolhoubaar was maar jou redes (of liewer die redes wat ek vermoed jy in jou kop het want jy het geen redes gegee nie) is verkeerd. As dit nie volhoubaar was nie, was dit nie omdat ‘landsburgers’ nie kon stem nie (want hulle kon), dit was weens die totale aanslag. Die hele vasteland van Europa, Amerika, Engeland, Australië, Nieu-Seeland en nog ‘n paar ander lande se pers het ons daagliks verguis (of dink jy die ANC het na 84 jaar uiteindelik oorwin?).

In sielkunde sê hulle as jy ses keer vertel word jy is sleg glo jy dit maar ek reken as jy twee keer vertel word ‘n ander ou is sleg glo jy dit éérs en dit is presies wat die oorsese koerante (en moenie ons eie vergeet nie) op ‘n daaglikse basis gedoen het; vertel SA (lees Afrikanerregering) is die vark in die verhaal. Dié dat ouens oorsee sommer dadelik aan Suid-Afrikaners begin slaan het sodra hulle agterkom jy is van SA.

Jy sê hierdie regering is nog jonk en vol probleme. In 1981 was die SA Republiek net so oud soos die huidige regering; het jy toe ook gesê hulle is nog jonk en vol probleme? Ek twyfel, en jy is nou al lank genoeg in die tand om destyds met nou te vergelyk. Die probleme wat ons nou het, het niks met jonkheid te doen nie want, soos tyd aangaan, word die ‘uitdagings’ al hoe minder aangespreek. As mens ekstrapoleer van ’94 af (eintlik het die nuwe bedeling al in die laat 70’s begin) lyk dit of die ‘vale of tears’ vir ewig gaan aanhou.

Die ‘ons’ en ‘julle’ waaroor jy so kla is maar grammatika, hoe anders kan mens van mense met verskillende sienings oor politiek, rugby, kwantummeganika, astrofisika en veeteelt praat as ons met dié siening en julle met dáárdie siening. Dit is maar bloot die meervoud van ‘ek’ en ‘jy’.

Die bydrae wat jy wil hê ek moet lewer ten opsigte van die nuwe SA lewer ek wel en is presies dieselfde as die bydrae wat ek ten opsigte van die ou SA gelewer het; ek betaal belasting en kla oor verkeerde dinge, destyds oor die sensuurraad en die feit dat vrouens nie dieselfde salaris as mans gekry het nie en deesdae oor die jag op, en agteruitgang van, Afrikaans en wegholmisdaad.

En jy het nie nodig om aan te beveel dat ek aansluit by AfriForum nie; ek is reeds ‘n lid.

Groetnis

Jan Rap

NS Het jy toe al jou doktorsgraad gekry? Indien wel, baie geluk, dit is voorwaar ‘n prestasie. Indien nie, vasbyt; ek is seker jy is amper daar.

NNS Aanbevole flieks: Hero (Dustin Hoffman), The Best Little Whorehouse in Texas (Burt Reynolds) en Mars Attacks (Pierce Brosnan). Illustreer duidelik hoe die media van enigiemand ‘n ikoon of vark kan maak en hoe maklik, deur naïwiteit, mens in die pomp kan dinges.

  • 3

Kommentaar

  • Jan Rap

     
    Ja die doktorsgraadjie is afgehandel - dié dat ek so baie tyd het om twak te praat op die Sê. Dankie vir die gelukwensing, ek waardeer dit regtig. 
     
    Ek dink nie Steve Biko en die mense wat deur Eugene de Kock en trawante na bewering vermoor is, sal heeltemal met jou ontkennings saamstem nie. Terloops ek dink hulle moet summier vir Eugene vrylaat en 'n paar van sy politieke base vir 'n rukkie laat sit. 
     
    Ons moet maar ons neuse laat sak en SA deur hierdie huidige drif kry anders skryf ons later vir mekaar  uit Australi?. Deur oor die verlede te teem gaan niks bydrae nie. 
     
    Groetnis
    Thomas
     
  • Jan

    Jy skryf: " jy het nie nodig om aan te beveel dat ek aansluit by AfriForum nie; ek is reeds ‘n lid."

    Mooi man!  Ons het tog iets in gemeen.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top