Dagsê Dirk
Ek verwys na jou kommentaar onderaan my brief van 2 deser.
Jy’s ‘n ander een; jy reageer op George en FC Boot se skrywes aan my maar raak nukkerig oor ek kommentaar lewer op jóú reaksie; sê skoon jou reaksie was nie aan my gerig nie so ek hoef nie te gereageer het nie. Het jy nog nie gehoor van die Engelse spreekwoord oor die goose en die gander nie?
Doen bietjie introspeksie swaer, Dirk Rigter is nie die enigste ou wat kan en mag nie. Jy kan ook nie so veralgemeen nie; as jy in die 60’s vir almal wat nie wit is nie gehiet en gebied het soos dit jou gepas het is dit nie te sê almal het dit gedoen nie. Nie my pa of ma of oupas of oumas of ooms of tannies of niggies of neefs of die se mans en vrouens het dit gedoen nie.
Ek het die woord ‘segregasie’ gebruik as teenpool vir ‘gedwonge integrasie’, met ander woorde soos die nasies van Swaziland en Lesotho gesegregeer is, of Ysland en Denemarke, in plaas van saamgegooi in kunsmatig begrensde plekke soos Nigerië en die DRK byvoorbeeld waar etniese geweld aan die orde van die dag is.
Jy moet ook besin oor die idee wat jy in jou kop ronddra dat ‘n gebeurtenis wat chronologies op ‘n ander volg die beter gebeurtenis is. As ‘n ou van ‘n 45 meter-hoë brug afspring om 10h00 is hy om 10h03 in ‘n beter toestand, volgens jou, want dit is later? Simplistiese analoog, ek weet, maar 20 jaar later of drie sekondes later, iets kan nog steeds agteruitgaan.
Ek het lekker gelag vir jou storie oor die ossewa, dat ek nou die seilkappie moet lig en oor die span osse die toekoms in moet tuur. Ek doen dit wel, weliswaar nou nie vanaf ‘n ossewa nie maar, as mens ekstrapoleer, lyk die toekoms nie goed nie met die nou dat stakings en slaggate en rioolvuil en onteiening deel van die daaglikse lewe is. Wat jy moet doen is om op te hou die toekoms in tuur en daardie pyp waardeur jy loer voor jou gesig wegvat en bietjie om jou kyk; jy sal dan ophou harp speel terwyl die biblioteke brand en die klippe rondvlieg.
En terloops, wat jou naskrif betref, Standaard Afrikaans (of is dit Standaardafrikaans; help tog Webvoet – dis ’n wisselvorm sê Webvoet) was nog nooit in enigiemand se keel afgedruk nie. Waar kom jy daaraan?
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Jan Rap
Geen kommentaar op die bg nie, want dis onmoontlik om op onsinnighede en onsamehangendhede en sommer plein nonsens kommentaar te lewer. My raad aan jou: Maak toe die ossewa-seil, steek op die kers en olie die voorlaaier se loop. En moenie worry nie, Front Nasionaal wag op jou in 2014.