Dit is nie altyd duidelik wat aan wie behoort nie. Dit is onlangs weer by my tuisgebring toe ek oor die gedrag van Philip Roth (gebore in 1933) in Greg Bellow se boek, Saul Bellow's Heart (SêNet 3 Maart) gelees het. Dit het my laat dink aan Meraai en Gatiep wat in die skeihof beland het en daar verskil van mening was oor wie toesig oor hulle enigste kind behoort te kry. Meraai het aangevoer dat sy hulle kind nege maande lank gedra het en dat sy daarna swaar geboorte gegee en die kind gevoed het. Sy het dus gereken dat die kind eerder aan haar as aan haar man behoort. Gatiep het verkies om sy pleidooi vir toesig analogies aan te bied. Hy het gesê: "As ek 'n Coke wil hê, gaan ek na 'n koeldrankmasjien en plaas my muntstukke in die gleuf. Die Coke val onder uit. Die vraag is nou: Aan wie behoort die Coke, aan die masjien of aan my?"
Kort na Saul Bellow (1915-2005) se dood is van die briewe wat hy aan Roth geskryf het in die New Yorker gepubliseer (Greg Bellow, Kindle 762). Die toespraak wat Greg by sy vader se begrafnis in Roth se teenwoordigheid gelewer het, is later feitlik woordeliks in Roth se fiksie aangebied. "Philip Roth's Everyman contains a funeral scene reminiscent of Saul's during which a fictional character speaks, almost verbatim, my final graveside words to my father as I tossed a ceremonial handful of dirt onto Saul's coffin" (2083). Die vraag is of die eiendomsreg van hierdie twee voorbeelde van inligting nie eerder aan die Bellows behoort nie. Dit is blykbaar ook nie twee uitsonderings in Roth se gedrag nie. In Patrimony, wat oor Roth se pa handel, vertel Roth hoe sy pa op sy sterfbed bewus daarvan was dat hy aantekeninge maak van wat hy sê, klaarblyklik om dit later as teks in 'n boek te gebruik. Greg: "I asked myself, 'Has Philip no shame?'" (58; ook 2621).
Ek skryf hierdie keer veral na aanleiding van Claudia Roth Pierpont se boek, Roth Unbound: A writer and his books (New York: Farrar, Straus and Giroux, 2013, 372p; Amazon Kindle $12.99). Daarin staan: "Roth had been writing about his father since the brain tumor was diagnosed" (Kindle 3113). Tensy anders vermeld, is my verdere aanhalings uit Pierpont se boek.
Bostaande is 'n standaardmanier van Roth om inligting te versamel. Byvoorbeeld, in 1988: "While Roth was in Jerusalem, he saw a notice in a newspaper about the trial of John Demjanjuk, the Ukrainian-born Cleveland autoworker who stood accused of having been an infamously brutal camp guard, known as Ivan the Terrible, at Treblinka [Poland]. Roth attended sessions of the trial and took careful notes, although he had no idea how he might use them" (2999). Hy het die notas in Operation Shylock (1993) gebruik. Oor 'n ander teks het Roth opgemerk: "I guess I stole that from Saul" Bellow (3843). Ook: "Roth alerted his brother that he was making use of some of his life's story" (5158). In een van Roth se boeke word tereg gevra: "And the savage snooping calling itself fiction?" (5302).
Waarna Roth klaarblyklik op soek was, is enersyds realistiese uitbeelding van die werklikheid en andersyds stof om sy beperkte verbeelding mee aan te vul. John Updike (1932-2009) het oor Roth geskryf: "It's tempting to see his work as variations on what seem to some people not enough themes. But you have to admire the way he sticks to his themes and, like Bach, does one more turn through his obsessions" (3061). Pierpont kom met die interessante gedagte dat die mededingende verhouding van Roth en Updike met dié van Pablo Picasso en Henri Matisse (SêNet 23 Sep) vergelyk kan word. Roth moet Picasso wees, want hy het nooit vir risiko’s en eksperimentering teruggedeins nie. "Updike was a painter in words ... although the bleak loneliness of his vision is often closer to [Edward] Hopper [SêNet 7.06.2012] than to Matisse" (5491).
In Roth se skryfwerk vind 'n mens aanvanklik sy sinisme oor Joodsheid en Amerikaansheid, 'n satiriese aanslag op en bespotting van wat vir baie mense heilig is. Soos by Saul Bellow word Roth egter met verloop van tyd al hoe meer pro-Joods omdat hy sy wesenlike etnies-kulturele aard nie kan ontgroei of ontken nie. "Jews are to history what Eskimos are to snow" (2659). Sy pro-Amerikaansheid, sy patriotisme, word ook al hoe duideliker. Hy buit Amerikaanse sentiment in sy boeke uit deur met verwysing na aktuele gebeure te skryf. Our Gang (1971) is anti-Nixon. The Human Stain (2000) is geskryf na aanleiding van Bill Clinton en Monica Lewinsky: "Moral disgrace as public entertainment" (4405). The Plot Against America (2004) is geskryf met verwysing na die 9/11-ramp.
Die truuk waarvan Roth graag in sy teks gebruik maak, is om 'n teenhanger (alter ego, dubbelganger) soos Nathan Zuckerman te gebruik om gesprek met die hoofkarakter te voer en hom teen te spreek. Roth "likes to argue both sides of every question" (4691). "There are not one but two Philip Roths in the book" (3167). "Without Zuckerman - or some other mask - Roth is kind, diskreet, and far from exciting" (2919). "Roth, the author of so many masks, is clearly captivated by the mysteries of identity" (3176). Roth: "You make a fictional world that is far more exciting than the world it comes out of. My guess is that you've written metamorphoses of yourself so many times, you no longer have any idea what you are or ever were. By now what you are is a walking text" (Roth, The Facts, p 162).
Roth se werk is half-outobiografies. By hom is daar klaarblyklik toenemend 'n poging om gewildheid by die leserspubliek te verwerf deur bv dinge aan die orde te stel wat in die openbaar gewoonlik onnoembaar is: Hy "makes a speciality of saying things one should not say" (4822) en dit in te klee in taal wat skokkend kru en veramerikaans is. "The American language was useful, strong, powerful in me" (3707).
Roth soek aandag via sensasie en hiervoor gebruik hy veral seks as dié gebied waar hy soms heeltemal oorboord gaan. "He is a man deeply bound up in the flesh" (4832). "Roth tends to find self-incrimination far more interesting than innocence" (737). Soos in die geval van Bellow word van Roth gesê: "Writing was the essential condition of his life" (2874). Onderliggend is daar die feitlik onvermydelike vermoede dat Roth skryf nie net omdat hy wil of moet ten einde 'n bestaan te maak nie, maar ook dat hy só skryf om al hoe ryker te word. Soos Bellow sou hy te graag die Nobel-prys vir letterkunde wou ontvang.
Dit behoort duidelik te wees dat ek etiese voorbehoude oor die skrywer Roth het. "A Roth hero without a moral problem is inconceivable" (2251). Maar hy skryf in baie opsigte sulke goeie deursigtige prosa, bv sy kenmerkende funksionele gebruik van herhaling, dat ek telkens verlei is om sy boeke te koop. "Roth is a master of the rapturous list" (3853). Byvoorbeeld: "Art is life too, you know. Solitude is life, meditation is life, pretending is life, supposition is life, contemplation is life, language is life" (101, 5348).
Elke keer nadat ek 'n boek van Roth klaar gelees het, het ek gedink dat dit amper die moeite werd was, maar dat ek liewer nie nog 'n Roth-boek moet koop nie. Dit is amper soos wat van een van Roth se boeke gesê is: "It is neither a book one would want to be without nor a fulfilled achievement" (1920). My eerste Roth-boek was Portnoy's Complaint (1969). Wat Portnoy so oortuigend maak, is "his confiding, close-up, artfully artless style" (2616). Daarna het ek die volgende romans aangeskaf: The Breast (1972), Deception (1990), The Human Stain (2000), The Dying Animal (2001) en Everyman (2006). Ek het ook twee van sy nie-fiksie werke gekoop: The Facts: A novelist's autobiography (1988) en Patrimony: A true story (1991).
Roth het Gustave Flaubert (1821-1880) se leuse sy eie probeer maak: "Be regular and orderly in your life like a bourgeois, so that you may be violent and original in your work" (745). By Henry Miller (1891-1980) het Roth geleer om oor seks te skryf. Albei was geneig om soms swak smaak aan die dag te lê, maar Miller se boeke bied myns insiens veel meer oortuigend deurleefde ervaring aan sy lesers. "Roth says he learned about the importance of admitting the repellent, in literature, from Henry Miller" (3583). Roth se "Sabbath's Theater [1995] is a very cheerfully dirty-minded book, elevating the familiar theme of sex as freedom into sex as a protest against the grave itself" (3494). Sabbath "enlarges the sense of female possibility" (3535) deur "completely uninhibited" te wees (3526); "for not being 'big on oughts'" (3607).
Roth is al tereg daarvan beskuldig dat daar 'n "absence of real characters and feelings" in sy boeke is (1387). Dit gaan veel eerder om die uitbeelding van situasies. Na die publikasie van Portnoy's Complaint was Roth ryk en "not merely famous ... but notorious" (1121). "The editorial's general concern was the plummeting of 'standards of public decency'" (1126).
In Franz Kafka (1883-1924) se werke het Roth kennis met die absurde gemaak. Kafka: "We should read only those books that bite and sting us" (2274). "Roth shocks us into feelings that pieties could not induce" (3449). By Roth is daar 'n "desire to shock, or, rather, to keep the reader from becoming complacent" (4757). Maar Kafka se verpersoonliking van 'n insek (Metamorphosis, 1915) is baie meer oortuigend as Roth se banale verandering van 'n man in 'n vroue bors in The Breast.
Toe Roth 'n magisterstudent aan die University of Chicago was, het hy Saul Bellow leer ken. Hy het groot bewondering vir Bellow se skryfwerk uitgespreek, maar hulle verhouding is soms vertroebel, veral omdat Bellow nie altyd ontvanklik vir sy vriendskap was nie. "Roth thought that Bellow's last novel, Ravelstein, ... was deeply flawed" (5129) - iets waarmee ek saamstem (SêNet 10 Maart).
Roth was kinderloos getroud met Margaret Williams (1959-1963) en Claire Bloom (1990-1995). Soos Bellow skryf Roth oor sy vorige eggenotes in sy romans. Oor Williams: "She produced the perfect atmosphere in which I couldn't think" (The Facts, p 102). "He is turning art into a chamberpot for hatred" (1442). Dit word "literary revenge" genoem (4274). Vir Roth is daar die "awful realization that long-term love and sexual desire are mutually exclusive" (4724). Bloom het in haar outobiografie, Leaving a Doll's House (1996), teruggekap met 'n onvleiende uitbeelding van Roth: "a self-centered misogynist" (4100). Sy het hom daarvan beskuldig dat hy woorde van haar gesteel en in sy werk gebruik het. Een van sy vriendinne uit 1974, Janet Hobhouse (1948-1991), het ook oor Roth in 'n "memoir-like novel titled The Furies" (1992) geskryf.
Deur sy skryfwerk en openbare optredes, bv onderhoude met joernaliste, het Roth heelwat vyande gemaak. "Many people don't like you as a writer just because of the ways you invite the reader to distrust those very sentiments that you now publicly embrace" (The Facts, p 168). Daar is by hom 'n behoefte om die "ware" beeld van hom en sy skryfwerk by die publiek tuis te bring, dus sodat sy openbare beeld moet wees soos wat hy dit wil hê. Dit is grootliks die doel van Pierpont se boek. Dit is taamlik duidelik dat die teks 'n gesamentlike poging van Pierpont en Roth is om die "waarheid" oor hom en sy skryfwerk openbaar te maak. Sy is 'n joernalis wat feitlik vanselfsprekend heel aan die begin van die boek twee dinge beklemtoon. Eerstens dat sy nie familie van Roth is nie (92). Tweedens dat Roth (grootmoedig) aan haar die vryheid gegee het om te skryf wat sy wil (88).
Wat Pierpont in die teks doen, is om Roth se werke kronologies een na die ander te bespreek, die lesers in te lig oor resensies en ander mening daaroor en dan ook Roth se mening weer te gee. Hierdie boek is 'n belangrike en omvattende dokument wat vorentoe nie deur bv biograwe en literatuurgeskiedskrywers geïgnoreer sal kan word nie. Daar is bv heelwat biografiese inligting. My hoofbeswaar is dat daar nie genoeg afstand tussen Pierpont en Roth is nie. Sy vertel van iemand wat in 2002 "introduce me to Philip Roth, whose work he knew I admired" (35). Gebrekkige objektiwiteit is die hooftekortkoming van die teks.
Wat deurgaans in die gedagte gehou moet word, is dat Pierpont se aandeel was om al Roth se boeke te lees, asook baie van wat daaroor geskryf is, en dit in 'n duidelike en gesistematiseerde teks weer te gee. Die boek sou egter nie sonder die hartlike samewerking van Roth moontlik gewees het nie. Dit is heel moontlik Roth wat baie van die resensies en ander geskrifte oor hom en sy werk aan Pierpont gegee het, insluitende ongepubliseerde werk (5648) van Roth. Daar is dermate 'n samewerkings- en vertrouensverhouding tussen Pierpont en Roth dat hulle bykans mede-outeurs van die boek genoem kan word.
Dit verduidelik die hoogs positiewe beeld van Roth wat te voorskyn tree. Die oppervlakkige kritiek wat hier en daar uitgespreek word, is van so 'n aard dat Roth maklik daarmee kan saamleef. Pierpont beweer dat die ooreenkoms was dat Roth "would read not a single word in advance of publication" (88). Maar dit is heeltemal moontlik dat die teks in wording deurlopend aan Roth vir kommentaar voorgelê is. Dit is immers die soort hulp wat Pierpont reeds geruime tyd aan Roth lewer (60, 5363). Hy het 'n aantal lojale lesers om hom versamel aan wie hy sy romans in wording vir kommentaar stuur. Pierpont is een van hulle.
As gesoute skrywer weet Roth dat 'n skrywer nie 'n teks eenmalig skryf en dan vir publikasie aan 'n uitgewer stuur nie; dat goeie skryfwerk meesal baie herskryfwerk noodsaak. "He doesn't produce more than a page or two a day - sometimes, agonizingly, less - but he works his way through several drafts" (2621). Roth: "The book really comes to life in the rewriting" (2626). Dit is 'n uitputtende proses: "It's the pain of being a writer. Sick of everything about his vocation - the hours and years alone, the use of people as material, the long habit of 'starving myself of experience and eating only words'" (2423). Van êrens af moet hy inspirasie kry: "A writer has to be driven crazy to help him to see. A writer needs his poisons" (2702).
Roth se laaste boeke is heelwat korter as die vroeëres. Hy is nou in sy 82ste jaar. Sy "affairs were becoming shorter and more difficult to maintain - just like the books" (5625). 'n Kritikus het gesê "she prefers the later, shorter books, for their simplicity, directness, and urgency" (5779). Sy laaste boeke is geskryf "into the twilight of my talent" (5355). Van een van die karakters word gesê: "He has been reduced to little more than his disabilities" (5572). Roth het gesê dat hy nie verdere romans gaan skryf nie: Hy "hasn't the strength anymore 'to keep pulling something out of nothing'" (5943). Hy noem dit "fiction-fatigue" (The Facts, p 7). Maar hy produseer nog "writings for the record, for the future" (5943). "He can't stop writing, can't stop turning life into words" (5947). "He doesn't read fiction anymore" (5874), behalwe "rereading the books that mattered so much to him when he was young" (5879).
Roth het toenemend oor bejaardheid en die dood besin. Oor bejaardheid: "The only thing you understand about the old when you're not old is that they have been stamped by their time ... To those not yet old, old means you've been. But ... you still are" (The Dying Animal, p 36). "That's what it's like to be an old man ... To be in the corner at the dance" (The Human Stain, p 34). "When you get older, it's what's inside that matters" (Everyman, p 85). "The best of old age [was] the longing for the best of boyhood" (aw p 126).
Oor die dood: "What cemeteries prove, at least to people like me, is not that the dead are present but that they are gone" (Patrimony, p 21). "He refused to sidestep the most brutal of all facts" (aw p 33). "Why should a man die? ... He was indispensable ... if no longer to others then to himself" (aw p 193). "Dying is work and he was a worker" (aw p 233). Death, a necessary end, will come when it will come" (The Human Stain, p 107). Die natuur bied "reminders of the nothingness of a life span and the vastness of extinction" (aw p 345). "Awaiting the blessing of an eradication that was absolute" (Everyman, p 88). "Death is just death - it's nothing more" (aw p 119). "Once one had tasted life, death does not even seem natural" (aw p 169).
Hierdie drietal, boeke, lees en romans, kan volgens Roth nie die stryd teen die drie skerms, dié van die rolprent, televisie en rekenaar, wen nie. Maar romans word verfilm en in bioskope en op televisie aangebied en teks word op rekenaars en op 'n vierde soort skerm, naamlik dié van leesmasjiene, gelees. Elektroniese publikasie het die potensiaal om leesstof (mettertyd) wyer as gedrukte teks te versprei. Dalk het lees en romans 'n beter toekoms as die gedrukte boek.
Johannes Comestor
Kommentaar
Hello,