Bydrae

  • 0

Ek hoor, gedurende die tien dae wat betrekking het, 'n voormalige Hoogste in die Staatsdiens het die Afrikaner bedank vir sy bydrae tot ons land Suid-Afrika se vooruitgang.  Dit is baie amusant, soos wanneer byvoorbeeld die Duitsers, na hulle inval en oorheersing van Frankryk, die Franse bedank vir hulle bydrae tot Frankryk.

Nóg amusanter is dat daar toe Afrikaners was (en nog steeds is) wat hulle pap swymel  hieroor, dit as 'n klop op die skouer beskou en hulle glimlag van oor tot oor (in Engels natuurlik) en hulle aanbidding en lofsange, oor hulle nou so vry sou wees, hewiglik verintens (ook in Engels natuurlik).

Die hartseerstorie is, sou jy om jou rondkyk, is dat daar byna geen teken is dat dit hoofsaaklik die Afrikaner is wat hierdie land opgebou het nie en dit is nie per ongeluk die geval nie; die nuwe administrasie wat so besing en geloof word deur die Afrikaner, is doelbewus besig om die Afrikanerspoor uit te wis:  Uithangborde in alle stede en meeste dorpe is net in Engels (selfs – miskien veral – Bloemfontein), Sanparke, wat met die veld – waarmee Afrikaans sinoniem is (selfs die Engelse skrywerbroers Hobson sê so) – te doen het, se kamtige 'saketaal' is Engels.  Die staatsdiens is Engels, Afrikaanse radio- en televisiestasies bevorder Engels (hulle glo die stront dat hulle met 'nasiebou' besig is), spyskaarte in restourante is Engels (al is die klandisie hoofsaaklik Afrikaans), Afrikaanse straat- en plekname word verwyder, semistaatsorganisasies soos Eskom, die WNNR (alleenlik CSIR deesdae) en die Buro vir Standaarde is Engels, Afrikaanse universiteite het verengels en ons skole is besig om Engels te word.

Nog hartseerder is dat die Afrikaner hieraan meedoen:  'n Afrikaner sal 'n welsynsorganisasie stig en hom 'n Engelse naam gee, sy sake-onderneming het 'n Engelse naam en hy bedryf al sy besigheid in Engels al is die oorgrote meerderheid van sy klante Afrikaans.  Afrikaanse skrywers se boeke word in Engels geskryf en selfs die Afrikaanse tydskrif VISI (waarop ek nogal trots was), het verengels.  Afrikaanse slebs, veral die wat die image nastreef, slaan kort-kort oor in Engels gedurende onderhoude en wanneer hulle Afrikaans praat is dit deurspek met Engelse woorde en sinsnedes.

Selfs nóg hartseerder is dat dié klompie Afrikaners, wat teen hierdie golf van verengelsing weerstand bied, verguis word deur hulle eie mense; dit word as polities korrek beskou om saam met die stroom van verengelsing te gaan en die wat weerstand bied 'beweeg nie met die tye nie'.  Hollandse, Duitse en Franse immigrante sluit aan by die Engelse gemeenskap omdat die Afrikaner gewoon nie in tel is nie; hy's onbeduidend in hierdie Nuwe! Verbeterde! Suid-Afrika.

Wie moet die skuld kry vir hierdie toestand?  Beslis nie die staat nie, ook nie die Engelse of Engelssprekers, of die Voorsienigheid, of die sterre, of die noodlot, of RSG, of KykNet, of die predikante, of die Armeniërs, of die Klingons of pastore nie.  Alhoewel dit so mag lyk, want meeste van bogenoemde is daadwerklik besig om lustig mee te doen aan hierdie agteruitgang van Afrikaans en die Afrikaner, is hulle maar net simptomaties van ons Afrikaners se flapdrolhouding.

Die beste van alles is, om hierdie golf van agteruitgang te stuit, hoef geen Afrikaner die wapen op te neem, of te toyi-toyi of by die AWB of Boeremag aan te sluit nie; hy hoef hom net op ons wonderlike grondwet te beroep.  Iewers in die grondwet behoort daar tog iets te wees wat sê dat tien swart ouerpare nie by 'n Afrikaanse skool mag opdaag en daarop aandring dat hulle Kôsa-, Zoeloe-, Ndebele-, Venda-, Swazi-, Basoetoe- en Pedikindertjies in Engels onderrig moet ontvang en dat dit dus Afrikaanse onderwysers se plig moet wees om sodanige onderrig aan te bied nie.

So, hoekom doen ons dit nie, hoekom kan ons nie sorg dat die grondwet tot ons, soos vir al die ander, se heil aangewend word nie?  Daar kan net een rede wees; ons is gebreinspoel.  Soos 'n parasiet 'n mier se brein indring om 'n mier se gedrag te verander sodat hy met sy volgende lewensiklus kan begin, so is daar met ons Boere se verstand getoor om hierdie agteruitgang, nie alleenlik te aanvaar nie, maar ook mee te doen daaraan.  Ons dink nie.

Wat 'n four king skande, wat 'n four king verleentheid (verskoon die Engels).

Jan Rap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top