Met Annelie se bedankingstoesprakie (Huisgenootskouspel) het sy nie een keer die woorde 'amazing', 'stunning', 'awesome' of enige van die Engelse woorde wat die slebs so gretig is om te gebruik, gebruik nie. Sy het ook nie oorgeslaan in Engelse sinnetjies so kenmerkend van die meeste slebs, soos, in die program daarna (Bravo!) die blonde dametjie wat deur, onder andere Anton Goosen se liedjies van destyds, bekendheid verwerf het nie.
In Bravo! was daar 'n aktrise, ene Van Wyk-Loots, wat ook mooi en suiwer Afrikaans gepraat het; g'n ge-oorslanery na Engels en gebruik van Engelse woorde soos slebs gewoonlik maak nie. Daar mag ander ook gewees het maar ek het nie die hele program gesien nie. Ek is oortuig daarvan dat mense soos Van Wyk-Loots en Annelie ware slebs is en dus nie nodig het om enige image na te streef nie.
Huisgenootskouspel se dekor, kontinuïteit en die soort van ding was uitstekend maar die liedjies was maar so-so, niks eintlik meesleurend, hartroerend of by-blywend nie. Inteendeel, die idee van maak-die-wysie-jou-eie, soos gepropageer in byvoorbeeld Idols, het weer sterk manifesteer. Hierdie praktyk het gewoonlik die gevolg dat 'n wysie verkrag word soos dan ook met Koos du Plessis se "Sprokie vir 'n stadskind" gebeur het; 'n melodieuse en strelende wysie is deur Karen en Emo verander in 'n diskordante gegil.
Een goeie ding van Skouspel; hulle het darem so nou en dan in Afrikaans gesing.
Jan Rap


Kommentaar
Beste Jan. Ek kan regtig beaam wat jy oor die onderhoude met oa musiekmakers genoem het. Ek weet wraggies nie wat die fout is dat mense nie korrekte Afrikaans praat nie. Dit is vir my regtig nie lekker op die oor om mense sulke geradbraakte Afrikaans te hoor praat nie. Dit is vir my nie "koel" om Afrikaans so te praat nie, nog minder om iemand so te hoor praat nie. Daar sal beslis mense wees wat die verIngelsing van Afrikaans goedpraat, vir my is dit so half platvloers. Jy sal nie 'n Italianer, Fransman of ander trotse taalgebruikers hoor hul tale verIngels nie. Wat my bekommer is die mense het nie 'n trots om Afrikaans suiwer te besig nie.