Braaivleis bederwery

  • 3

"My hart is in die Boland
 En niks kan dit ontwy nie;
 Dis gebêre in 'n kissie
 In Wit Wellington"

My goeie buurman Hans, 'n Wellingtonse WP-man in murg en been, vertel nouse Saterdagmiddag voor die CB Finaal by die lapa langs sy aftreehuis in Sewende Laan van 'n vriend wat nie 'n vryersklong met 'n Bloubul-trui aan toegelaat het om 'n eerste keer vir  sy dogter te kom kuier nie: "Nee, Boeta jy kom nie met daai behangsel  by my voordeur in nie!" En Hans jok nie want sy van is Van Eeden.

En terwyl hy so half op aandag  sy WP-vlag by die lapa seremonieel na bowe hys, en jy die gelade atmosfeer oor die Streeptruie se imminente  oorwinning soos biltong met 'n broodmes kan kerf,  vervolg hy dat die vryer, wat ernstig  op die WP-oom se mooi dogter verlief was, die volgende keer met 'n WP-trui opgedaag en binne 'n jaar die oom se skoonseun geraak het!

Wys jou nou maar net, het Hans dit opgesom.

Ons klomp kannetjies in die grensdistrikte van die OP het dié soort kultuur van ingebore of oorerflike lojaliteit teenoor 'n span  wie se roepstem jy op pad Nuweland toe met jou lewe of sterwe sou beantwoord,   natuurlik glad nie geken nie.

En wat die nuwerwetse Amerikaanse voetbalkaperjolle voor en tydens  wedstryde oral betref,  sou ons met vrees en bewing terugdink wat ons skool se prinsipaal, die oud-Springboksenter meneer JC van der Westhuizen, of ons afrigter meneer HJ Louw, en veral Dok Craven, se reaksie op die soort uitbundigheid  sou wees wat vandag universeel aan die orde van die dag by spelers en ondersteuners is: soos om op die veld die driedrukker te  soen, omhels, op sy rug te spring, op hom te gaan sit of lê of handjie-handjie te vryf!

Dit was eers in Pretoria onder vriende by Justisie se hoofkantoor in Burolaan dat ek as balling uit die Onderveld  Saterdae die innemende Bolandse manne en hulle menings uit byvoorbeeld Calvinia, Koekenaap of die properse Kaap  rugby- of politiekgewys beter leer ken en persoonlik - self vir die eerste keer die ontem- en onstuitbare rugbylojaliteit met stomme verbasing as byna 'n politiek of godsdiens beleef het. Dit was steeds gesellig en ek het dit soos nou maar  goedig in my eie gemoed as blote waterblommetjie-heimwee afgemaak.

Toe ek egter meer gesout na jare weer in die Baai kom werk en vir 'n  groot  jag-entoesias familielid vanaf Calvinia op die dag van 'n CB-finaal 'n koedoejag by my goeie vriend Kriek Kruger op sy wildryke plaas te Willowmore  gereël  kry, moes ek tot my verbasing ontdek hoe diep en ongeneeslik dié liefde vir die Streeptruie nou eintlik lê!
.
Want met die karkasse van drie springbokramme en een koedoebul veilig onder die seil in die bagasiebak weggesteek, het ons met die terugry naarstig die karradio vir die rugbyuitsending van die Curriebeker Finaal op Loftus aangesit en met oorgawe begin luister  hoe Gerhard Vivier al hoe meer geesdriftig en intens die verloop voor ons oë laat leef het en nie uitgepraat kon raak oor hoe Naas manies-onkeerbaar besig was om amok te maak deur die WP en sy ondersteuners noodlottig met lynskoppe, stelskoppe en skepskoppe tot wanhoop  te dryf en hulle uiteindelik te kelder nie.

Die wedstryd was nog nie eens driekwart klaar nie toe my familielid, toevallig ook met die doopnaam Hans,  intussen  ewe skielik uit die bloute  soos 'n (hans-) lam ter slagting langs my ongemaklik begin rondskuif en toe kennelik onder groot druk gevra het  of ek sal omgee as hy maar die karradio afsit!

In Buurman-Hans se pront Wellingtonse idioom opgesom: Dit wys jou nou maar net ... Want dit was niemand minder as die nimlike Naas wat daardie dag, soos Patrick Lambie (!) Saterdag, die Baas van die Plaas was nie!

By die lapa langsaan was dit Saterdagaand ongewoon en leweloos stil en het daar 'n voelbare stemming van droefgeestigheid geheers toe ek uitkyk en merk dat die donker  soos 'n doodskleed by 'n begrafnis  droewig oor die proteabos langs die dooie vuurherd van my buurman gehang het.

Humphries

  • 3

Kommentaar

  • Ek is in die Laaste vesting van Liesbet se Ryk gebore en grootgeraak. My oupa, sy pelle en broers het almal grond in die provinsie gehad. Ek weet nie hoe hulle dit bekom het nie, maar sal nie te veel daaroor uitwei nie. 'n Oorle tante van my het te vertelle gehad dat hulle die Ingelse gehelp het om die Zoeloes te beveg. Ek sien my as erg Haai man/ Natal ondersteuner. Die Saterdag waarvan jy in jou brief melding maak, was plein groot lekkerkry. Dit is mos maar die ou storie, wat op die groen gras tussen die lyne gebeur, bly op die groen gras tussen die lyne. Jy wen nie 'n wedstryd in die koerant of op papier nie. Die Haaie het die skuins vermoeë om my emosioneel binne sekondes van die hoogstes van ekstase na die dieptes van depressie te vat. Ek het op 'n stadium vroeër die seisoen nie vir hulle geskree nie, maar op hulle. Dit was vir my een goeie Saterdag, en het ek die produk van die wingerd terdeë geniet. 

  • Ja nee, kyk. Wanneer die Streeptruie die slag in die hek duik soos nou, en dit nogal nie waar nie maar op Nuweland, is dit nag vir ons as trotse Province fans. Dis iets onbeskryflik. Ek twyfel soms of die dood  erger kan wees.

     

    Jare terug het Leon Schuster 'n fliek gemaak (ek het vergeet waaruit dit kom) met 'n toneeltjie waar die senter baie windgat wegbreek, met die bal al sirkel-swaaiend voor sy bors hardloop en dan met 'n swierige lang aangee die bal vir die opponent 'pass' wat toe onder die pale gaan druk het, gemaak.

     

    Hierdie soort onderskepping van die bal wat gereeld voorkom, is sedertdien onder ons klomp vrinne bekend as 'n "Leon Schusterpass". Dit spreek vir ons van algehele en uiterste onnoselheid.

     

    Hierdie Leon Schusterpass van Schreuder wat Saterdag die Shark-scrummie weggestuur het (ook onder die pale), het yskoue water op die opgewondheid wat geheers het, gegooi. Ons almal het geweet, net daar na 5 min se spel, die WP is in sy moer, die S14 halfeind teen die einste Sharks in 2012 ook op Nuweland, was weer hier vlak voor ons.  Currie-beker finaal en jy is 10-0 agter ...! ?

     

    Lank na die eindfluitjie het die perfek gespitte lam nog aan die spit gehang met net so hier en daar 'n happie uit, met baie minder empties as gewoonlik by die toonbankie.

     

    Hulle het maar gevat wat hulle wil hê en vroeg gaan slaap.

     

    Raed-na-Gael

     

  • Ai toggie dat 'n "looks at the scoreboard" tot sulke depressie kan lei.

    Dan lees ek op die web dat:

    "Kliniese depressie is 'n toestand wat gepaardgaan met hartseer, swaarmoedigheid of wanhoop wat sover gaan dat dit 'n indiwidu se deelname aan sosiale en/of daaglikse lewensaktiwiteite ontwrig. Alhoewel 'n slegte gemoedstoestand of 'n gevoel van neerslagtigheid wat nie 'n mens se daaglikse deelname aan aktiwiteite beïnvloed nie, dikwels na verwys word as depressie, is kliniese depressie 'n mediese diagnose wat onderskei kan word van die alledaagse gebruik wat verwys na terneergedruktheid."

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top