Boewery op die rugbyveld

  • 3

Ek het al by verskeie geleenthede geskryf dat indien ek jonger sou wees ek nie my pote op 'n rugbyveld sou sit nie. Ek kyk Saterdag bietjie rugby en in die laaste wedstryd van die dag nl die Haaie teen die Chiefs skakel ek voor halftyd oor na 'n ander kanaal. Die rukkie wat ek na die wedstryd gekyk het, het ek weereens tot die volgende gevolgtrekkings gekom: Die spel word nie meer vir die liefde daarvoor gespeel nie.

Die sportmangees is tot 'n groot mate weg. Die gemoedelike wedywering tussen die spanne bestaan nie meer nie. Daar is weg van die bal voorvalle wat my nie geval nie. Die skeidsregters wil die bruid op die troue en die lyk by die begrafnis wees.

Ek wil nie in diepte oor die voorvalle uitbrei wat Saterdag gebeur het nie. Ek het al voorheen genoem dat die All Blacks die grootste sondebokke is van bogenoemde spel. Sean Fitzpatrick was 'n "meester van die spel". Hy was nie 'n uitermate goeie haker of speler nie. Hy was 'n uitmuntende kenner van die spel en sy teenstanders. Richie McCaw is amper so goed soos hy. Hulle speel die skeidsregter, die skare die TV-manne en die teestanders. Hier geld die oudste reël in die boek. Die ou wat tweede slaan word altyd gevang.

Jy kon Saterdag sien hoe die Chiefs vroeg in die wedstryd die Haaie begin intimideer het. Daar werk dit toe. Bismark du Plessis neem reg in eie hande en "skop" 'n teenstander. Wat de donner het die man gedink doen hy? Dit nogal voor die skeidsregters en kameras wat self jou neushare in die boonste rye van die oostelike pawiljoen sal optel. Daar kry die Chiefs-speler 'n week vakansie en Bismark 'n maand. Die Chief-speler kon Mtawarira se nek ernstig beseer het. Daar is drie stelle reëls wat geld. Een stel vir ons die ander twee vir die res van die wêreld.

Ek is bevrees dat indien daar nie daadwerklik teen die tipe spel opgetree word nie, sal die spel ook tot niet gaan.

Reusedwerg

  • 3

Kommentaar

  • Die volgende staaltjie het hom erêns op 'n Oos-Randse dorp afgespeel.

    'n Bekende voorryman wat gehakkel het, het hom bloedig vererg vir sy opponent se taktiek. 'n Oud-onderwyser van my, Piet Robbertse was die dag die skeidsregter en het geduldig gewag en geluister om te hoor wat die probleem en klagte was.

    Rooi in die gesig trek die ou toe los met 'n vieslike haakhou en slaan sy opponent plat en toe kom dit ewe glad, sonder hakkel 'Ek sal hom donner ref.'

    Daarmee praat ek nie Bismark se optrede goed nie, maar dit kan nie weggeredeneer word nie dat die die ouens wat die nonsens begin dikwels skotvry daarvan afkom veral as die skeidsregter nie die ongeoorloofde taktiek wat veral sekere NZ voorrymanne  beoefen raaksien of bloot ignoreer - miskien omdat hul nie van beter weet nie.

  • Reusedwerg, Jy weet mos self rugby, deesdae, is nie sport nie. Dis  werk.
    Jy word geld betaal daarvoor. 
     
    Dit begin op skoolvlak waar die "spelertjies" met beurse en ander aansporings betaal word. 
     
    Lank gelede het 'n wyse ou my meegedeel, "onthou,  money has no sentiment". 
     
    "Produce"  of loop.
     
    (Bismarck is beboet, hulle het baie geld vat hom gevat. Hy voel dit en hulle nie.)
     
    Raed-na-Gael.
  • Ek glo nie die spel sal tot niet gaan nie, dit word net meer en meer 'n geldmakery. Die spelers word salarisse betaal en die klubs bie teen mekaar om die beter spelers te kry. Dit gaan oor borge, hekgelde, advertensieregte en uitsaairegte. En dit trek uiteraard die tipe atleet wat gemaklik is daarmee. Geen lojaliteit tot enigiets behalwe geld nie.

    Hier in Oz is rugby baie klein, dit word net op "pay-tv" uitgesaai en meestal in die dooie ure van die laatnag, die koerante sal dalk 'n klein stukkie daaraan afstaan as dit 'n groot wedstryd in Oz was, anders nie.

    Hier is net een groot spel, footy, footy en nogmaals footy, 'n meer belaglike spel is daar seker nêrens op aarde nie, maar hier is dit groter as die kerk en die shopping mall saam. En dit is groot geld, baie groot geld. Die spelers pas mooi daarby, hulle is gedurig in die nuus oor dwelms, aanranding, vrouslaan, dronk-op-straat ens.

    Hulle word omtrent aanbid deur die publiek, dalk soos ou Griekeland en Rome waar idiote mekaar se koppe met klippe platgeslaan het in arenas en die skare hulle gillend aanbid het.

    Die gewone mens het nie juis verander nie, lyk dit vir my.

     

     

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top