Dit is nie verbasend dat, die oomblik toe die wette verslap is, meeste van ons onsself vergryp aan dit wat met 'n penstreep ewe skielik nie net wettig geword het nie maar die norm vandag is. Baie soos die Scope en die sterretjies destyds. Die oomblik toe die hekke oopgemaak is het almal die nuwe goed gekoop en was meeste manne amateur ginekoloë. En toe sien Scope sy gat want sterretjies kom nie naby ginekologie-lesings nie. Tog sien ek steeds soms hier en daar die legendariese name opduik: Sam Fox, Sian, en daardie bruinkop met die mooi, wel, oge.... haar naam ontgaan my nou helemal.
So het ons almal maar destyds Maroela Sun toe, toe dit nog onwettig was, terwyl dobbel by Turffontein en Greyville sosiale geleenthede was wat weinig besorgde politici vermy het. Rolletjies twintig sente stukkend geslaan en die bodemlose put van hoop gevoer in die hoop om petrolgeld terug States toe te wen.
Ek sien haar sit en die manne met die rooi uniforms maal om haar. Nie te onaardig nie. Juwele wat klingel as sy die arm van die masjien trek. Nuwe geld. Of nee, ou geld hierdie, want jy kan sien sy is meer as die gewone drenkeling se sente gewoond. Ek knik vir haar en sy kyk anderpad want as jy in die Prive dobbel dan is daar nie tyd vir baie praat en groet nie. Elke druk van die knoppie of trek van daai gewillige arm is R500 werd. Die prysgeld nooit te versmaai nie.
Die ligte flikker en die alarms gaan af en die manne in rooi dra goedkoop Franse vonkelwyn aan want sy het die jackpot geslaan. Ek vermoed 'n klein persentasie van dit wat sy ingesit het maar wie gaan nou donderweer wees op 'n parade? Ons glimlag na mekaar en ek sien geen verligting op haar gesig nie. Die drank vloei soos water en Mammon klingel en ek sien die nie te onaardige dametjie voer die masjien en ek slinger uit want mens kan nie in hierdie kringe beweeg en jou sak is plat nie.
Met die uitstap sien ek die privaat WP nommer en die blink Mercedes en toe herken ek die nommerplaat. Sy het vergeet om die afslaandak terug te plaas en ek sien die sitplekke is natgedou en die manne wat waghou beduie nee, hulle ken haar en hulle sal plan sien met die duur leer want sy word ingeboek sommer in die hotel. Die dop en die bed kom mos maar so saam met die instap.
Ek hoor later sy het meer as twee miljoen daar geblaas. Sy is redelik desperaat want dis eintlik maar erfgeld wat sy so probeer vermeerder het.
Nie te lank later nie sien ek hierdie ou model Volkswagentjie en die nommerplaat val jou op want was dit dan nie.....? Kry haar in die Prive en die oë is moeg en die grimering is nie wat dit was nie. Die goud is weg vannie arms maar daar is darem nog 'n groot knoets aan die vinger langs die ringvinger.
Ek vra haar of sy al lucky was en sy vra my of ek nie vir haar 'n dop kan koop nie. Ek beduie na my gatsak en dat ek self redelik shit luck het vanaand. Met die uitstap beduie ek vir die rooibaadjie dat hy vir M 'n glas beleë nagemaakte Franse vonkel moet gee. Ek vra hoeveel dit kos per glas en hy beduie dat hy weet wat ek wil doen en hy sê dis ok. Hy sal een van die halwe bottels ledig, want daar’s altyd 'n sopie of twee oor.
Ek hoor sy kom nie meer daar nie. Sy werk blykbaar iewers hier in Oesterland in 'n apteek. Waar sy werk weet ek nie regtig nie en ek hoop nie ek vind uit waar nie. Want die herontmoeting kan mos nooit dieselle wees nie?
oester

