As daar net manne in die omtes is dan noem mens die betrokke dame wat agterop die fiets is dikwels so. Selfs in die normale gangtaal is dit die aanspreekvorm vir enige dame wat haar man, metgesel of wat ook al vergesel as sy agterop enige standaard fiets klim.
In die gemeenskap van die tweewielendes en selfs verder is haar stereotipe sekerlik die mees skreiende vorm van misbruik, en tog sien ek hulle en wil hulle tog nie anders hê nie: Stywe denim, deurtrekker wat altyd wys dis 'n properse G-string, los toppie wat eendag lank terug 'n T-hempie was en wat die dinge waarvoor selfs die grootste prediker en filosoof en selfs alte dikwels die grootste veldheer voor geswig het skalks wys.
Soos my groot vriend T altoos beduie as die manne sy stuk innie denim wat ek steeds wonder hoe de hel sy daarin geklim het beduie as hulle haar oopmond aangaap:
"My girl het mooi tiete, nè? Kyk jy lekker my bra?"
Waarop selfs groot manne stil raak en maak asof hulle gekyk het wat op haar T-hempie staan. Want niemand stry met my president as hy jou beduie dat jy bietjie moet kyk en jou wysmaak dat kyk kyk is maar meer as kyk vir jou groot nadelige gevolge mag inhou nie. Want ek het al gesien hoe val manne wat bly kyk het na dit wat ooglopend ten toon gestel word. En as die groot manne geval het en die bloed loop dan klim sy terug op my President se skoot en dan kyk sy die manne aan want jy mag kyk maar iewers is daar 'n grens wat bepaal wanneer kyk nie meer kyk is nie en as jy nie meer net kyk nie dan moet jy pa staan vir jou begeertes wat jy nie in toom kon hou nie.
En tog, is daar die anderkant. Wat ek dikwels beleef en wat dalk hier en nou nie van pas is nie, maar ons praat mossie nou met kinners nie:
Al ooit 'n biker girl werklik beskou as sy van daardie hemelse stuk masjien stadig afklim? As sy die helm afhaal en haar haredos uitskud? Haar al ooit beskou as sy later sit en haar Marlboro Gold sit en teug? (Vergeet van die hemelse stuk masjien vir die oomblik). Al ooit gesien hoe sy kan teug aan 'n doodgewone glas Coke?
Harde uitdrukkings. Harde trek om die mond. In een woord: Gatvol. Gatvol gesit want geen motorfiets se sitplek is al ooit ontwerp om die deursnee vrou se wense en belange in ag te neem nie. Buiten die Harley, maar 'n Harley issie 'n motorfiets nie ... of is dit? Daaroor gaan ek nie redekawel nie, want ek hettie geld om met die deursnee prokureur in hofgedinge betrokke te raak nie (in ag geneem dat dit deesdae algaande die prokureurs is wat Harleys ry...).
Ek bekyk die ewe gatvol groengesig oorgegrimeerde dames wat uit hul duur Europese motors uitslinger en ek sien die gatvol uitdrukking op pappie se gesig want hy is gatvol vir die grimering en die gebitch en gekla en ek sien hy bekyk die Busa met verlange aan en ek sien hy bekyk my President se girl asof hy nog nooit 'n stoot gehad het nie en ek wonder wat die verskil is tussen die twee?
Dalk die basiese feit dat die man met die Busa se reëls geld hier en nou en die man wat met sy duur Italiaanse skoene uit sy ewe duur Italiaanse voertuig klim wens sy reëls wat hy toegepas het voor hy met vakansie gegaan het steeds kon geld?
Ek wetie. Al wat ek weet is dat die wet van die natuur altyd, solank ons met mense werk, steeds geldig sal wees hier onder op die grond: Die sterkste een maak die reëls. En pas dit toe. Al het hy lankal nie meer nodig om dit self en fisies te doen nie.
Ek beluister selle biker girl toe sy in haar nagjurk en ewe groot tiete (want jy kyk nie na jou president se girl se tiete nie) sit en vertel hoe trots sy is op haar jongste wat nou gaan graad vang. Hoeka innie Regte, bid jou aan ...
En soos sy praat en beduie vannie kroos versag sy en sien ek geen harde trek om die mond nie. Want daar is iets wat selfs die gehardste biker girl die een of ander tyd in 'n moeder verander. Al is die kinners ver en al is ons besig om ons besig te hou met die Buffalo nou.
oester


Kommentaar
Daai bokkie het een erg pikante gatjie, erg pikant. Kyk net so effens bo daai stel tierstewels.
Laat my dink aan die ouerige skralerige kêrel wat by die poort van die Hemel opdaag. "Het jy ooit iets noemenswaardig op aarde gedoen?" vra Petrus, die hekwag, hom.
"Man ja," sê die ourige skralerige kêrel, "ek het, toe ek by die kroeg uitstap, op 'n spul bikers afgekom wat 'n jong meisie treiter en ek stap toe na die grootste biker met die meeste tattoo's, ruk sy neusring uit sy neus uit, skop sy bike om en sê 'los die dametjies uit, vat eerder jou eie portuur' "
Sint Petrus is nogal beïndruk. "Wanneer het dit gebeur?" vra hy.
'So vyf minute gelede" sê die oukêrel.
Jan Rap