Max du Preez was skaars klaar met sy vergoeiliking van die UCT-studente se weersin in, en skending van Rhodes se standbeeld toe stroom die berigte in van ander soortgelyke skendings. Du Preez het probeer beklemtoon dat die SR-voorsitter, wat namens die studente praat, eintlik oulik is; hulle wil nie die beeld breek nie, hulle wil hom net weg hê want hy is ‘n simbool van wit meerderwaardigheid en/of oorheersing.
Die SR-voorsitter spreek sy misnoeë ten opsigte van die standbeeld uit terwyl hy in westerse kleredrag staan, studeer aan ‘n universiteit gevestig deur westerlinge, ‘n bril op het te wyte aan westerse tegnologie en dalk stopsels in sy tande (indien nie hy nie, ‘n klomp ander wat daar rondgestaan het), met ‘n kar varsity toe gery het (of ‘n fiets, ook deel van die westerse nalatenskap) en so kan ek aangaan; die lys is net te lank om neer te skryf.
‘n Swarte, ‘n koerier, vertel my nou die dag hy moet ten duurste lemoene – waarvoor hy besonder lief is – koop omdat daar nie meer lemoene in sy omgewing is nie. Die plaas waar die lemoene vandaan gekom het, het weens ‘n grondeis van eienaar verander en die nuwe eienaars het al die bome afgekap; alle tekens van enige blanke bedrywigheid moet verwyder word.
Hierdie vernielsug – plaasaanvalle, standbeeldskendings en dies meer, selfs straat- en pleknaamveranderinge – is niks anders as woede wat as wraak manifesteer nie. En waaroor sou ons medeburgers so woedend wees? Natuurlik omdat ons vir hulle gesê het, deur middel van verskoningvraery, dat ons hulle vir jare ingedoen het. Natuurlik sal hulle die moer in wees, hoe anders? Hoe sal jy reageer as jou bankbestuurder jou laat weet jy moet hom vergewe, hy’s baie spyt hy het die afgelope hoeveel jaar ‘n tiende van jou salaris na sy bankrekening toe oorgeplaas? Jy sal sê nou goed, betaal terug met rente.
Hierdie gevoel van woede word aangeblaas deur ouens soos Price en Du Preez wat onbesonne aksies goedpraat, dit versterk die idee dat die wittes in die skuld is; die voorheen-benadeeldes kan nie kwalik geneem word nie, want ons skuld hulle. Die ontkenners, meelopers en agterryers, met hulle verskoningvra- en boetedoenery, werk polarisasie aan die hand.
Die eerste stap om hierdie waansinnige vernielsug te kortwiek is om die gepamperlang te staak.
Jan Rap

