Ateïste of te not

  • 6

Die debat oor ateïsme en evolusie sal seker in my dag des lewens nooit tot 'n einde kom nie. Ek lees van die briewe op die Net en verstaan van baie van hulle vet mooi nokkol. Hier is darem slim manne op die Net, en vernaam as ek kyk die spoeg en plak briewe, verstaan ek nog minder. Gewoonlik is die spoeg en plak goed in Ingels, en sokkel ek maar om die taal onder die knieg te kry.

Ek verstaan elke persoon se siening oor sy/haar geloof. Daar is iets wat my krapperig maak en dit is die veroordeling van mekaar. Die ateïste vir die gelowiges en andersom. Ek kan net van my eie ervaring praat en ek sal staan by my Geloofsoortuiging. Ek het nie 'n Damaskus of 'n ligstraal of blits geloofsaanvaarding gehad nie. Vir my was dit 'n wilsbesluit soos ek dink dit almal se besluit is om te maak. Ek glo jy word "geroep" om die besluit te maak. Dit is maklik, ja of nee. Daar is geen voorwaardes daaraan verbonde nie. Dit is vir my 'n aangename ervaring om as bevryde gelowige te leef en te laat leef.

Ek loop ook nie daarmee te koop dat ek 'n Christen is nie. Ek probeer deur my lewenswyse en optrede my Geloofsoortuiging uit leef. Dit is vir my net hartseer dat mense mekaar te maklik oordeel oor hul sienings. Ek respekteer die nie gelowiges en verwag dieselfde van hulle.
Vir die nie gelowiges, dit is julle besluit en moenie te hard op ons gelowiges wees nie asseblief.

Reusedwerg

  • 6

Kommentaar

  • CorneliusHenn

     

    Goddank vir welopgevoede Christene soos jy Reusedwerg!  

    Dis werklik hartseer hoe die werf se super-Christene "namens die HERE", hand met die werf se super-dekadente-promiskue-homoseksuele-ateiste vat, om met hul spoeg-en-plak-bedrog (te veel in Ingels boonop) mekaar tot gees vervulde trane te dryf, en daarmee ander se harte met allerlei lasterlike spekulasie en geveinshede verkrag.  

    Ek vra nie hul genade nie - ek voel myself genoop om; soos ‘n beskaafde mens wat ‘n papier op die vloer sien lê, dit op te tel en in die snippermandjie te gooi - of om die stuk onkruid of kakiebos uit te trek, voordat dit vervuil ... (dankie Dan Roodt)  

    Hou maar hierdie spasie dop.  

    Namaste!  

    Cornelius Henn

  • Dag Reusedwerg,

    jy het dit erg goed gestel. Omtrent 25% van alle gelowe is "inheems" bv die aanbidding van voorvaders. Dan is daar 5 groot gelowe wêreldwyd. Van die wêreldbevolking is omtrent 33% Christene, 21% Moslems, 14% Hindoe, 6% Boeddiste en slegs omtrent 'n kwartpersent is Joods. Al die groepe bestaan uit aktiewe en passiewe lede, sommige Christene het nooit die Bybel gelees nie, sommige Moslems wil heeldag Jode doodmaak ens ens.

    Soos die ontwikkelde wêreld meer en meer G_dloos raak, so speel geloof minder van 'n rol, hulle hang die nuwe geloof, wetenskap aan en kap nie meer mekaar se koppe so gereeld af nie.

    Dis anders met die Moslems, nie net groei hul getalle nie, maar die deel wat militant/histeries/fanaties is groei geweldig. Die Westerse wette wat so verdraagsaam is wat geloof betref maak dit vir Islam so maklik om oor te neem in 'n demokrasie, wat hulle daarna doen is alles behalwe verdraagsaam of demokraties.

    So, ek stem saam, ek wil in vrede gelaat word om my geloof uit te leef, maar die Moslem asook die fanatiese Ateis wil dit nie aanvaar nie.

    Ons sal seker maar moet vasbyt tot Messias terugkeer.

    Cheers

    Duitswester

  • CorneliusHenn

     

    Dis waar Duitswester, ek beaam; ek wil in vrede gelaat word om my geloof uit te leef, maar die [fanatiese] Moslem asook die fanatiese ateïs wil dit nie aanvaar nie - EN - net so die super-Christene, wat sogenaamd namens G_D septer swaai; hulle (Trienie Mahne, Kobus de Klerk, Dolf van Loggerenberg ...), wat ons so nimlik as die "ware gelowiges" op die werf leer ken het! ... Namaste! Cornelius Henn

     

     

  • Jammer, Cornelius, jy het die gees van die debat  besoedel met die noem van sekere persone se name.Laat jou argumente op eie bene staan en slegs dan kan 'n mens miskien  notisie neem van wat jy te sê het.

     
    Enjee
  • CorneliusHenn

     

    Enjee, gun my asseblief 'n geleentheid om my rede te stel; net so min as wat jy jou kommentaar kon maak sonder om my by die naam te noem, net so onsinnig is dit om nie my vereenselwiging aan die woorde "super-Christene", "Christen- fundamentaliste" of "ware gelowiges" te noem nie - probeer gerus jou kommentaar so stel, sou jy konsekwent kon wees: "Die gees van die debat  word besoedel met die noem van sekere persone se name. Laat argumente op hul eie bene staan en slegs dan kan 'n mens miskien  notisie neem van wat iemand te sê het"... Enjee, die vraag ontstaan; gee die noem van name soos die van Trienie Mahne, Kobus de Klerk  en Dolf van Loggerenberg jou dalk aanstoot? ... of dink jy hulle beskou dit as belediging om as super-Christene", "Christen- fundamentaliste" of "ware gelowiges" genoem te word? ... nee Enjee, hulle roem self -  en gewoonlik juis daarop (vryf dit gereeld onder ons neuse)! ... nes 'n straatveër elke dag die rommel op tel; of 'n tuinier onkruid roei ... as jy gereeld hier saam met my hier was, dan sou jy dalk beter verstaan het ... derhalwe het ek nes enige ander vullisverwyderaar en tuinier, ook my af dae, en tik ek dan gereeld my argumente wat op hul eie bene staan - gaan lees gerus onder my "profiel"; dis nie privaat nie ... jy is nie partydig nie; is jy? - Cornelius Henn

     

     

     

  • Persoonlik sou ek ook verkies om my ongeloof in vrede uit te leef, maar dit is my ongelukkig nie beskore nie. Die dominee het al verskeie kere my daaroor kom berispe; die ouderling wat my so een keer elke drie maande kom besoek het, het al gepraat daaroor. Die breekpunt het gekom toe ek my debietorder vir die maandelikse tiende stopgesit het, toe het drie ouderlinge en 'n diaken by my besoek afgelê. So 'n maer mannetjie met 'n yslike adamsappel en bakore, het al gepraat van dat ek 'n pak slae moet kry. Hy sal net iemand baie frisser moet kry om te kom probeer. So 'n week gelede het 'n vrou en haar seun aan my deur geklop, en my daarvan verseker dat dit beter met my siel sou gaan as ek net een van hulle traktaatjies wil neem. Hou ek by die winkelsentrum stil, is daar ook gereeld iemand om 'n Christenboekie onder my neus in te druk. En almal wil vir my bid. Waarvoor? Ek kyk gereeld in die spieël en sien niks armoedigs of verkeerd of biddenswaardig aan my nie. 

     
    Een ding moet ek darem van ateïste sê, hulle het nog nooit aan my deur geklop en pamflette onder my neus ingedruk nie. Hulle het nog nooit van my tiendes geëis of gedreig dat ek vir ewig sal brand as ek dalk enigiets glo nie. 
     
    Vir my is die debat: skepping x evolusie, geloof x kennis, Bybel x wetenskap, Christendom x ateïsme, individualisme x totalalitarisme,  of wat dit ookal genoem word, baie interessant. Om te 'n volle beheer te hê oor so 'n debat , is natuurlik menslik onmoontlik, tensy jy alle vakdissiplines behoorlik onder die knie het. Dit kan ook op alle vlakke gevoer word vanaf 'n graad ses-skooldebat oor wat eerste was, die hoender of die eier tot by 'n debat oor bv. oor stamselnavorsing en of dit moreel is. Ongelukkig loop die meeste debatte uit op persoonlike slegsêery en swartsmeerdery.
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top