As die nuwe skoene nie brand nie

  • 0

Nuwe skoene en ek was nog nooit werklik vriende nie. Vanaf die dag dat ek destyds die belofte van huweliksverbinding voor die predikant afgelê het, tot op hierdie dag, het ek nog nie vergeet hoe in der ewigheid nuwe skoene kan brand nie!

Dis 09:30 op ’n Woensdagoggend diep in die eerste maand van die jaar. Ek staan in ’n ry om ’n verklaring af te lê, om ’n saaknommer te kry, om die versekeraar tevrede te stel, om die skade aan ’n klompie winkelruite te laat uitbetaal. In die aanloop na en hoop ter uitvoering van hierdie beskeie takie, het ‘n sersant met ‘n maag my in gelid voor ’n toonbank staangemaak.
Die mengsel van bekende en vreemde nasionaliteite en geure en kleure en droë bloedspatsels op die vuil vloer, waar ’n paar peuters kruip en speel, kondig sonder seremonie die begin van hierdie ervaring aan ...

“Volgende ... next ...”

’n Kaapse konstabel roep die ouerige vrou voor my.

Sy begin: “My wendyhuis is gesteel ...”

“Sit eers mevrou,” kom die reaksie.

My aandag draai na ’n verwese tranerige meisie, wat met haar geswelde gesig in haar bewerige hande langs my op die bankie sit. Sy het ‘n reukie aan haar.

Haar hande is geswel en die vingerpunte is gekrul en kaal, amper rou, daar waar die naels eens gesit het; net voor sy dit begin afkou het. Haar voete is vuil en het in hul bestaan nog nie die binnekant van ’n pedikuurplek se mure gesien of die salwende olies van ’n behandeling gevoel nie.

Sy is stukkend.

Op haar gesig, wat aansienlik rooier en ouer as haar werklike ouderdom blyk te wees, lê die spore van ’n bakleibestaan in die strate van hierdie onderdorp, diep getrap.

‘n Groot man met gewone klere en ’n pistool aan sy sy roep haar ... “Melissa, kom f@3% hier!”

“ Wanneer het mevrou die wendyhuis gekoop?”

Die ouvrou gee vir hom ‘n verslete vel papier wat soos die kwitansie van een of ander “wendy”-plek lyk. Ek rek my nek en span my oë, maar dit is net te ver.

“Is hierdie die datum waarop u die wendy gekoop het; het hulle dit dadelik vir u gegee of het hulle dit kom opsit?”

“Kan u onthou wanneer en hoe laat omtrent hulle dit kom aflewer het?”

‘n Uitlandse man en wat soos sy Moeder lyk, wikkel hier verby my na die volgende strak sersant agter die toonbank.

“ Affidavit?”

“ No we want to make a case of attack.”

“No wrong queue, wait there.”

Die ou is briesend, sy Moeder is hakkelend. Ai die mensdom. “Wie sal die tweetjies dan wil aanval? Hulle lyk alreeds vervalle.”

My oë dwaal na die tafel met die plestiekdoekie en blomme. En ’n rooi kers.

Bokant die uitstalling is daar portrethouers met onderskrifte: “Officer of the Month” en “VRCID Officer of the Month”.

Daar’s niks in die portretraam nie. “Hulle soek seker nog ’n wenner,” dink ek.

Met dié, kyk ek slapregs na die 24/7 snoepspoeger wat breë bors teen die oorkantse muur staan. Net langs die hek waar die onbeskofte speurder netnou vir Melissa geroep het.

Ek wonder stil waar sy nou is, toe ’n dame in ’n swartkatpak voor die glaskas inskuif en haar geel toonnaels by die snoepmasjien laat aantree. Sy kyk noukeurig deur die verskeidenheid “chips” en “tjoklates” en toe druk sy ’n geldjie in die gleuf.

Sy kies 4 pakkies chips (dis seker nou al aanvaarde Afrikaanse volkstaal), druk die knoppies en staan terug om die vallende aanwins uit die bekken van die masjien te lig.

Te midde van die wegskeur van my staar na haar oordadige agterstewe, dink ek so by myself ... “miskien moet jy nie eintlik daai goed eet nie...”

Maar dis lekker. Ek hou ook van Fritos.

“Wanneer het u agtergekom dat die wendy weg was?”

“Nee, die wendy is nie weg nie. Dis steeds net daar.”

“ Ek verstaan nie...”

“ Sien, die man het die wendy aan iemand anders verkoop en met my terugkom van die Touwsrivier af, het húlle daar gebly. Hulle sê hy het die wendy aan hulle geverkoop.”

Melissa kom agter die hek uitgestap; kop omlaag soos ’n tiener wat met ’n sigaret betrap was. Sy kom sit weer op die bankie. Nou het sy ’n vaal trui of so ’n ding by haar.
Selwers is dit ook nie baie skoon nie.

Meteens ruk my smaakkliere en alle onbewaakte sintuie tot stilstand. Nik-naks.

Ek ruik Nik-naks!

Daai kenmerkende kaasgeur ken ek maar net te goed. Ek kan die kraak en die kaasgeur proe en my mond raak dadelik waterig. Ek sluk stadig terwyl ek seker maak dat ek reg hoor en ruik.
Ja, die dame in die knopperige swartkatpak staan so half skuins hier agter my. Sy hoort eintlik reg agter die persoon agter my, maar soos dit binnekort sou blyk, is sy nie net ’n bedrewe southappie-eter nie, nee, sy het ook ’n diepgewortelde behoefte aan lotsbeklading.

Sy wil haar storie vir iemand vertel ...

En ek moes vanoggend vir haar soos die gewillige aanhoorder gelyk het!

“Het u die naam en nommer van die persoon wat die wendy verkoop het?”

“Nee meneer.”

“ ’n Adres of die nommer van iemand wat hom ken?”

“Nee meneer. Hy’s die pa van my kinders. Hulle sê hulle het hom daar gesien oor die Christmas.”

“Nou waar’s hy nou?”

“Hulle weetie.”

Ek grinnik in bejammering vir hierdie arme konstabel, wat ten spyte van die 4 geskrewe bladsye, om vir hierdie verontregte landsburger ‘n verklaring te skryf (en dit teen ’n frustrerende 14 woorde per minuut), nou die dossier van diefstal na betreding toe sal moet verander!

“Wie is die mense wat nou in die wendy bly?”

“Ek weetie meneer.”

Tussentyds het katpakdame ongestoord haar moleste met die bure op my onwillige, maar tog beskikbare, oordrom neergevel.

“Sy moes hom lankal gejaag het ...”

“Hy slaan haar dogtertjie; sommer met ‘n belt oor die gesig. Kyk hier’s ’n foto op my foon.”

Sy wys my die foto van ’n kleuter met gesigsmerke.

“Hy’s ’n rubbish man. Rook tik en moer haar net. Maar sy hou hom!”

“Dis nie eers sy huis nie.”

“Weet jy, dat hy einde verlede jaar my weed-eater gesteel het?”

“Ek sê jou, dis hy wat vannag by my garage ook ingebreek het. Al twee bicycles is weg. ’n Groene en ’n rooie...”

“Volgende...next!”

Dis my beurt!

Ek spring vorentoe; amper soos ’n hekkiesatleet - nou wil ek net klaarmaak.

Dis 11:25 op dieselfde Woensdagoggend diep in die eerste maand van die jaar, toe ek die mense rondom my groet, die swartkatpakdame sterkte toewens en verby ‘n borsvoedende moeder op pad deur toe skuur.

Ek was al oorkant die straat, toe dit my vir die eerste keer weer byval dat die nuwe skoene die lewende hel uit my voetsole brand!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top