Apie en die nommer

  • 1

Om vrou te vat is een van die belangrikste dinge wat enige mens moet doen. Of wil, want niks moet mos nie. Dis erger as huiskoopverband en baie meer bindend as karkoop al is die moeilikheid uiteindelik dieselle. Want hulle sê mos 'n kar en vrou se moeilikgeit is basies dieselle: As hy eers die dag op jou naam is beginne die moeilikheite. Nie dat ek nie reeds self die hempie dra nie.

Ek het geweet die moeilikheid lê en broei die dag toe Apie begin rondstaan daar by J. Want sy was los maar was nou nie los soos in los klos nie. Weliswaar geen kerk of binnelandse sake ID getjapte nommerplate en die lot nie. Maar los soos in: Die man is net vir 'n wyle weg tronk toe.

Ek weet nie of Apie gedag het die man gaan vir ewig weg wees nie, want deesdae sit mense nie langer as ses jaar selfs vir die twee moorde waarvoor J se man weggevat is Pollsmoor toe nie. Hy het heel waarskynlik nie rekening gehou met "goeie gedrag" en "hervorm" nie. J se man is destyds (ons weerhou sy naam sommer heeltemal hier) vir ek weet nie hoe lank of hoeveel keer lewenslank tronk toe gestuur. Vir twee moorde waarvan die stelsel weet. Om daar 'n nommer te word. Watter nommer weet ek nie, want dit is mos maar soos 'n dobbelspel tussen watter nommers jy beland en uiteindelik self moet deel wees as jy jou lewe agter tralies hoegenaamd wil geniet.

Die tyding het stilweg en met 'n fiets gekom. J se man is vrygelaat. Goeie gedrag en al die nodige en noodsaaklike. Hele lyf vol tjappe. Keel met die opsigtelike strikkie op. Hierdie man is nie sommer net so 'n nommer nie, hy dra rang. Hy beduie vir 'n bewaarder wanneer en watse kos en drank en ander noodsaaklike spyse hy wil geniet. Want dis hoe dit is al ontken die regime dat dit 'n probleem is.

Die storie loop dik dat die man vir J wil kom terugvat, lendelam en verrinneweer soos wat sy is. Want die mannetjie is nou wel nie skuldig bevind aan vrou verrinneweer nie maar ons weet mos maar almal hoe sy destyds aan die knoppe gekom het en hoekom sy vandag nog so mank loop. Ek vra vir Apie hoe hy gaan maak as die man daar opdaag en vir J wil terugvat. Hy lig sy hand en loop weg.

Net vanoggend pols ek hom weer oor hierdie probleem wat nie meer op die horison is nie maar sommer net hier anderkant. Fiets de lot. Want ek hoor hy wil hê wat hy gehad het al is sy nou so lendelam. Apie is kort maar baie filosofies oor hierdie man wat eintlik vir ewig weggebere moes wees: "Hierdie mannetjie is 'n boer. As hy daar by die Klipkop inkom word hy vrekgemaak"

"Rustig wees, Apie, jy kan nie sommer net mense loop bydam nie, en jy is nou nie Bruce Lee die Ninja-kampioen nie"

"Ek gaanie lat hy my vrou vat nie. Hy het sy kanse gehad. Ek donner hom!"

"Maar sê nou hy daag daar op met sy bicycle en hy vra haar om saam te kom en sy loop gewillig saam, Apie? Jy kan haar tog nie vasbind nie?"

"As jy al ooit in jou lewe gesien het hoe 'n H****** 'n boer donner dan gaan jy groot moleste sien, laat hy kom. Sy gaan nêrens."

En toe verstaan ek hierdie ding en waarom mense so gaande is oor daai deng. Of nee, ek verstaan dit steeds nie.

oester

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top