Beste Angus
Ek het hier in my agterkop dat ek jou steeds antwoorde, of ten minste kommentaar, skuld oor taal, denke ens. Jou stellings is iewers in die kommentaargedeeltes en ek kan dit nie opspoor nie (hierdie kommentaarfasiliteit werk nie lekker nie) maar wat ek kan onthou is die volgende:
Ek wil nie hê Afrikaans moet kompeteer met Engels soos jy beweer nie, ek wil hê Afrikaanssprekendes moet ophou om so gedienstig te wees en Engels om elke hoek en draai te omhels, want dit geskied ten koste van Afrikaans.
Jy reken ook Afrikaans sal nie uitsterf nie tensy iemand hom doodwurg met die uitroei van anglisismes en taalpurisme afdwing, of so iets. Dis juis toenemende anglisismes, beide wat woordeskat en sinsbou betref, wat besig is om Afrikaans dood te wurg. Dit het ‘n sneeubaleffek; hoe meer Afrikaans sy, wat jy gespierdheid sou noem, verloor, hoe meer raak Engels gevestig. Oraloor kry jy mense met Afrikaanse vanne wat nie Afrikaans meer kan praat nie, net nou die dag ‘n onderhoud met ‘n De Villiers van Tukkies nogal gesien wat net Engels praat (en dit nogal op ‘n Afrikaanse TV-kanaal!).
Jy is die ou wat altyd ‘n taal met ‘n lewende organisme vergelyk, iets wat groei en aanpas. Wel, soos enige lewende organisme siek kan word en sterf kan dieselfde met taal gebeur. Jou probleem is jy verwar verandering met groei maar agteruitgang is ook verandering. So is die sinnelose gebruik van Engelse woorde en sinsbou simptome van ‘n kwaal wat Afrikaans op die oomblik byna op sy knieë het.
Jy’t ook op ‘n kol weer iets gesê wat neerkom daarop dat jy steeds van mening is dat mens in taal dink. Dit is nie so nie; soos ek sê, babas en diere dink sonder taal. Dink ook daaraan dat baie mense, ek inkluis, um en a terwyl hulle na gepaste woorde soek wat, logieserwys, daarop dui dat daar ‘n begrip in die spreker se kop is maar hy soek na die woord(e) wat hy aan daardie begrip kan koppel (of vang jy jouself dat jy um en a terwyl jy dink?).
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Beste Kobus,
Beste Kobus,
Ek dink jou probleem met taal is dat dit nie net vir die diepsporetrappers is nie; dit is vir almal. Almal wat Afrikaans praat, almal wie se moedertaal Afrikaans is, almal se idiolek dra by tot die geheelbeeld van die taal.
Jy kan maar gerus George Orwell se Nineteen Eighty-Four lees. Big Brother wil almal se taal beheer met Newspeak. Om dit te kan doen is orals, tot in die mense se huise, toestelletjies om hulle taal af te luister en as hulle verkeerd praat, word hulle gestraf. Hy het selfs apparate wat vir hom sê wat die mense dink, en as jy verkeerde gedagtes het, gaan jy kamer 101 toe. Jy sou seker so 'n Big Brother wil wees met sulke apparaatjies sodat jy die mense se Afrikaans kan beheer.
Taal is egter 'n snaakse ding -- hy laat nie vir hom voorskryf nie. Taalindoenas en onderwysers kan nog tot 'n mate 'n taal aan bande lê, maar as hulle weer sien, ruk hy handuit. Ook maar gelukkig so, anders het ek en jy nie nou Afrikaans gepraat nie.
As Afrikaans so swak is en nie op eie bene kan staan nie, as 'n ou klompie Engelse woordjies en Anglisismes hom kan doodwurg, dan het hy in elk geval nie die reg om te bestaan nie.
Wat met Afrikaans gebeur, gebeur met alle tale dwarsdeur die wêreld waar tale in aanraking met mekaar kom. Dit was nog altyd so en dit sal altyd so wees. Dit is presies hoe Afrikaans tot stand gekom het: 'n vermenging van tale.
Wat denke en taal betref, het ek gesê dat taal jou denke orden. Ek kan nie glo dat 'n mens nie gedurig met homself gesels nie. Jy sê self dat jy in jou agterkop dit het dat jy my 'n antwoord skuld. Ek laat my nie vertel dat jy nie in jou agterkop dink wat jy vir my gaan sê nie.
In 'n ander skrywe van jou het jy gesê jy kon nie 'n sekere blom wat in die skaduwee groei se naam onthou nie. Toe op 'n dag, toe onthou jy die naam. Ek weet sommer, net toe jy die naam onthou, het die prentjie van die blom uit jou gedagtes gegaan en jy het net aan die woord gedink. Jy het die woord so in jou gedagtes gevorm, en ek sal nie verbaas wees dat jy nie sommer ook aan die spelling daarvan gedink het, en dat dit so deur jou gedagtes geflits het nie.
As jy dit nie denke deur middel van taal noem nie, dan praat ek en jy by mekaar verby.
Miskien is jou verstand dan anders as ander mense s'n, en kan jy soos 'n baba of 'n perd of 'n padda dink sonder om jou denke deur middel van taal te orden.
Groete,
Angus
******
Angus, jy rig jou kommentaar aan Kobus, maar ek wonder of hierdie inhoud nie meer betrekking het op Jan Rap nie?
Webvoet.
Beste Webvoet,
Dit lyk my ek het Kobus op die brein. Pleks dat jy my sommer maar so stilletjies reghelp soos dit in die verlede al dikwels gebeur het.
Skuus Jan, ek het bedoel, Beste Jan Rap.
Groete,
Angus