Dagsê Pieter
Ek verwys na jou brief, 16 deser, gerig aan my en Johannes Comestor.
Vir ’n gaskunstenaar, ’n spesialis met jare se opleiding en studie, praat jy darem alte maklik; dit lyk nie of jy dink voor jy praat nie. Die woorde (begrippe) wat jy in jou brief noem wat jy as ‘uniek’ beskou, en waarmee die Afrikaners nou die enigste volk op aarde sou wees om hulle eie mense mee te beledig (alhoewel ek kwalik kan sien dat ‘bittereinder’ ’n belediging kan wees) bestaan in alle tale. Dit bestaan dit ook in tale waar mense skaars kontak met ander nasies het so, noodwendig, word hierdie woorde ten opsigte van hulle eie mense ook gebruik. Kan jy jou dwaling sien?
Verder geld hierdie beskuldiging dan nie ook vir jou en jou maatjies waar julle na mede-Afrikaners verwys as ‘patetiese agterblywendes’, ‘onvermoë om te hernu’, gekkegrensers’ ens nie? Natuurlik geld dit ook maar weens jou en jou maatjies se toestand van erge breinspoeling en verhoed julle tonnelvisie julle om dinge objektief te sien. Om julle vir suckers (‘skuus Dirk, sakkers) te vang moet net vir julle vertel word ‘dis nuut’ en julle sluk enige storie. Dít is nou pateties. Julle dink nie, julle aanvaar.
Jy is egter in een opsig reg en dit is waar jy praat van die uniekheid van die Afrikanernasie. Waar op aarde kry jy dat mense wat openlik en aspris afgejak word – verandering van plek- en straatname, heksejag op hulle taal, verkleinering van hulle geskiedenis, besetting van hulle skole, kolleges en universiteite – dit gelate aanvaar? Nie alleen aanvaar hulle dit gedweë nie, hulle werk nog saam met die oorwinnaars aan hierdie ge-afjakkery. Definitief ‘n manifestasie van die Stockholmsindroom of ‘n gebrek aan trots. G’n wonder Helmine het ‘sies’ gesê nie. Gelukkig is Ons Nie Almal So Nie; goddank vir mense soos Helmine Roux , Dan Roodt en Steve Hofmeyr.
Terloops, my een suster is ook ANC. Miskien moet ek se ‘was’, want ek dink haar oë het intussen oopgegaan maar sy is te skaam om te sê daar was met haar kop gesmokkel.
Groetnis
Jan Rap

