Antwoord vir Dirk oor sy vergeefsbrief

  • 4

Dirk, nie alleen het jy die korrespondensie gevolg nie; jy het deelgeneem. Jy het egter verkas na my antwoord op jou aardskuddende coup de grâce naamlik “ ... die tyd van suiwer Afrikaans is vir ewig verby” of so iets (met die nuwe SêNetformaat is dit moeilik om jou (of my) presiese woorde te kry aangesien mens nie kommentaar kan ‘soek’ nie). My vraag daarop was “ ... verby soos veilige plase, strate, dorpe, stede en parke, skoon strande, funksionerende dienste ens verby is?” en jy het geswyg soos die graf.

Jy reken my refrein is elke keer dieselfde, naamlik dat die land in ‘n gemors is. Miskien, maar dis in antwoord op julle refrein dat alles nou wonderlik is en goddank die land is uit die ‘bose wittes’ se hande uit. Maar ek praat tevergeefs met julle; julle sit en harp speel en besing die kaal keiser se wonderlike teknikaller droomkleed terwyl die land brand.Maar hoe anders, die verlede móét as boos uitgebeeld word om bestaansreg aan julle ‘bekering’ te gee.

En ja, PW wás liberaal (hoekom dink jy het partye soos die HNP en KP ontstaan?); hy sou dieselfde pad as FW geloop het maar miskien net stadiger. En daar wás ook nie die apartheid wat julle voorhou sou bestaan het nie naamlik dat die Afrikaner ‘n onderdrukker en uitbuiter was. Julle moet egter volhou met hierdie leun want dit verg te veel morele moed om te erken julle is vir suckers gevang.

Jou stelling dat ek die ou is wat nie weet van liberaal of konserwatief of links of regs in die politieke konteks nie is dus verkeerd; jý is die een in ‘n dwaal. Jy sal ook meer moet omskryf wat jy bedoel met jou stelling oor die “ ..skade van apartheid ... ook aan die nalatenskap van ons as Afrikaners” want die apartheid in jou kop, naamlik dat Afrikaners onderdrukkers en uitbuiters was, is ‘n hersenskim en die “nalatenskap aan ons Afrikaners” is dus ‘n hersenskim gebaseer op ‘n hersenskim. Die sak waarin jy sit en die as wat jy op jou kop gooi is koerant- en/of selfgeïnduseerde skuldgevoel. Maak oop jou oë; die waarheid maak vry.

Jammer om jou borrel te bars oor die ISS maar dis presies die oukoeistorie waarvan ek praat; verboos die verlede om die teenswoordige gemors te regverdig. Die sogenaamde inligtingskandaal was glad nie ‘n skandaal nie – indien wapens gekoop was in plaas van te gepoog het om ‘n koerant te koop sou niemand gehuil het nie. Die ‘ander kant’ het geen klip onaangeroer gelaat in hulle verdagmakery nie en naïewes, soos jy, het hulle stories met sinker en al gesluk. En, soos ons nou sien, is julle verplig om met ‘n charade voort te gaan.

Om boikotte te omseil is nie korrup nie, dis oorlewing; hoe kan dit nou enigsins korrup wees om ‘n ou se vingers van jou keel af te haal as hy jou verwurg? En as Nic Diederichs naastenby so korrup was sou hy nie ‘n byna bankrot boedel agtergelaat het nie. Wat die BSB en Lang Hendrik betref, hulle het ‘n joppie gehad om te doen waarvan die uitsette soortgelyk was aan die van MI5, MI6 (SIS), die CIA, die KGB en soortgelyk. Dit regverdig natuurlik nie onreëlmatighede nie.

Jy noem die Smitmoorde asof dié gepleeg sou gewees het deur die ou bedeling. Dink weer; die inligtingsbom wat hy kon bars het dalk die totale aanslag ontbloot (wat altyd afgelag was deur die anti-Afrikanerfaksie).

Jy sê die “ ... die rede vir [jou, Dirk se] skrywe, wat Jan Rap eintlik tussen die lyne te kenne gee, is dat die vorige bedeling dan nie so ‘n gemors was soos nou nie, nie korrup was soos nou nie.” Jy’s verkeerd; ek sê dit nie tussen die lyne nie, ek konstateer dit kategories. In die vorige bedeling (wat so 1970 se kant tot ‘n einde gekom het) was daar nie 30 opstande per dag nie, was plaasboere nie met eentonige reëlmaat vermoor nie, was daar nie beurtkrag nie, het rioolplase gewerk, was dorpe en stede nie toiinrig nie, was Afrikaans ‘n amptelike taal en het die Rand nie afwaarts getuimel nie. Hospitale en klinieke was skoon en het gewerk. Universiteitstudente het nie nodig gehad om onder polisiebegeleiding klas toe te gaan nie, kampusse was nie vol staalheinings nie en klasse was in Afrikaans en die standaard was van so’n aard dat gegradueerdes ‘n bydrae kon lewer. En dis alles maar onder andere.

Ek hoef jou nie na ‘n webwerf te verwys om my stellings te staaf nie; jy hoef net bloot om jou rond te kyk, die skille van jou oë af te haal. Jou verweer, regverdiging vir die huidige sirkus, naamlik dat mense nie in hulle geboorteland kon stem nie is absurd (ek het jou al gewys hoekom). Die standaardverskoning wat jy aanhaal uit Business Day, naamlik dat dit normaal is vir regeringsverandering, is belaglik flou: ‘n Regering word mos juis omvergegooi omdat hy nie ordentlik funksioneer nie; om dié nou te vervang met een wat glad nie werk nie hou net nie water nie.

So, ek sê weer, maak jou oë oop en klim uit onder die hipnose; die waarheid bevry.

Jan Rap

  • 4

Kommentaar

  • Jan Rap,

     Partye soos die KP en HNP het nie ontstaan oor PW Botha liberaal was nie, nee hulle het ontstaan uit stiksienigheid, verstoktheid en doodgewoon omdat hulle nie verstaan het dat Groot Apartheid besig was om sy gat te sien nie. Net soos jy vandag nog nie verstaan dat 'n mens, metafories gesproke, nié 'n geklitse eier kan "ontklits" nie. Teen die 1970's was die RSA demografies so ineengestrengel dat dit nooit in aparte "tuislande" ontstrengel kon word nie. Trouens dit was al so vanaf die ontstaan van mynbou en industrialisasie vroeg in die 1900's. Dis die koue feite.

     

    Weet jy wat, jy is nes die ANC. As jou mense korrup is, dan is dit reg so, want die doel heilig mos die middele. Toeka se korrupsie was reg, want dit het die boikotte omseil. Vandag se korrupsie is reg, want die nuwe elite dink hulle is geregtig om so gou as moontlik so veel as moontlik in te palm. Regstelling van die verlede, so sê hulle. Dis twee kante van dieselfde muntstuk.

     

    Jou regverdiging om regeringspropaganda met belastingbetalersgeld te finansier grens aan die totale naïewe. Vandag kla jy oor belastingbetalersgeld wat wanbestee word, maar toe Connie Mulder en kie. dit gedoen het, was dit goed so. Watter soort dubbele morele standaarde is dit nou?

     

    Jy het verseker nié die ISS verslag gelees nie, want jy wil die waarheid nie sien nie. Dus het jy eintlik nie 'n ingeligte opinie oor die kwessies wat ek opgehaal het nie. Jou hele antwoord-brief bevestig dus die slotopmerking in my vorige brief:  "Dis onmoontlik om debat te hê met mense wat die verlede verkeerd interpreteer en die hede gewoon nie verstaan nie." 

  • CorneliusHenn

    Beste Jan Rap,

    Ek dink jou insig is gewoon ver bo-oor die kop van 'n "useful idiot" en "wenner" soos Dirk Rigter.

    Nes sy maatjies lees hy die koerant, kyk TV en kruip voorts by ewe onthutste slimjanne om gewigtig te probeer lyk.

    Nietemin, ek is altyd dankbaar vir jou deeglik antwoorde soos weereens hierbo - al verstaan die "useful idiots" dit nooit nie.

    Ons eerstehandse ervaring en waaroor hierdie gebreinspoeldes so kwyl, raak ongelukkig wel aan't kwyn.

    Die afgelope verkiesing het net weereens bewys hoe maklik die "wittes" - selfs makliker as die res in Afrika aan die neus gelei word.

    Ons is inderdaad 'n klein minderheid - niks te doen met wen of verloor nie - net 'n handvol beginselvaste harte in 'n onstuimige see vol opdrifsels en dooie vis wat saam met die stroom ronddryf.

    Boeregroete,

    Cornelius Henn

  • Jan ek verstaan jou irritasie met die briefskrywers wat die realiteite miskyk, ontken of wegswymel. Vat nou raad van my. Daar is nie salf te smeer aan die persone nie. Jy kan jouself blou in die gesig redeneer, dit help nie. Daar is niemand so doof soos iemand wat nie wil hoor nie. Ek gee toe daar is dinge beter deesdae, maar ten koste van wat. Demokrasie is 'n edel gonswoord wat net nie op die kontinent werk nie. Demokrasie is harde werk. Dit verg verantwoordelikheid en verantwoordbaarheid. Wat my verbaas is die mense wat met allerhande voorbeelde en aanhangsels die vorige bestel in 'n swak lig probeer stel om die huidige regime te regverdig. Dit werk nie. Ek verontskuldig nie die vorige bedeling nie. Ek kyk na die funksie van die huidige en vorige staatsbestel. Dit het gewerk, nie perfek nie maar darem. Wat is die plig/funksie van die staat. Ek verbaas my telkemale dat mense op die Net oor goed skryf waarvan hul beslis nie insae het of oor kennis dra nie. Daar word te maklik en vinnig name en insidente genoem wat al holrug gery is. Wat my die meeste verbaas is, wanneer jy kritiek lewer is jy 'n regse, booswigtige rassis wat in die verlede leef. WDF?

  • George Redelinghuys

    Fassinerende stukkie skryfwerk ter verdediging van die régime ancien met sy gepaardgaande nasionalisties-rassistiese bourgeois interpretasie van die realiteit soos gesien deur die bril van die wit bevoorregte elite, en onderdrukker van die meerderheid Suid-Afrikaanse burgers.

    So interessant om waar te neem dat daar soveel realiteite in parallel in Suid-Afrika kan bestaan waar persone totale  kontrasterende interpretasies van die sosio-historiese landskap kan skep. Ek sou reken dat Dirk Rigter se siening ooreenstem, en weerklank vind, met die breë Westerse demokratiese tradisie, n tradisie wat die Afrikaner langs die pad verloor het, en hy sal geen probleem ondervind nie om met kollegas in gesprek te tree  wat in hierdie tradisie geskool is.

     

    Beste groete,

     

    Pieter Redelinghuys

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top