Beste Angus
Soos jy sê, elke taal het ‘n struktuur. Struktuur is die wyse waarop ‘n ding ‘n entiteit, abstrak of konkreet, saamgestel is uit elemente, deeltjies. In taal is hierdie deeltjies woorde en die grammatika skryf voor hoe hierdie woorde aanmekaar geskakel moet word om sinne (en sin) te maak.
Op een van die skakels wat Dirk gegee het, het ek die volgende gesien: “Die taak van grammatika is om woorde in sinne te organiseer.” Terloops, Dirk het dit nie aangehaal nie; hy’t mos net selektief aangehaal.
Die HAT (ook ‘n skakel van Dirk maar hy’t dit aspris uitgelaat) sê onder andere die volgende: “[Grammatika is] die kuns van ‘n taal reg praat en skryf.”
Jy skryf:
"Geen taal het sommer so vanself ? grammatika nie. ? Taalgeleerde moet dit doelbewus skrywe. Hy moet die struktuur van die taal bestudeer, en dit met taaltegniese woorde beskryf (naamwoord, werkwoord, voorvoegsel agtervoegsel, voorsetsel, naamval, nominatief, genitief, datief, akkusatief, ens, ens, ens). Sodra hy dit gedoen het, dan eers het die taal ? grammatika. Hy kan dan hierdie gegewens aan ? uitgewersmaatskappy gee, en hulle kan dit dan in boekvorm laat verskyn."
Dit maak nie sin nie; as die taalgeleerde die taal bestudeer dan teken hy bloot op wat hy agterkom of ontdek, hy teken dus die bestaande grammatika op, stel dit ten boek. Begrippe kan nie deur sprekers gebou word as hulle nie die deeltjies korrek aanmekaar kan skakel nie en hierdie bouproses word deur daardie taal se grammatika voorgeskryf.
As ‘n spreker nie begrippe kan saamstel nie kan hy nie daardie taal praat nie; hy moet die korrekte grammatika aanwend. Die taalgeleerde skryf dus nie daardie taal se grammatika nie, want hy skep niks; die mense praat na sy boek nog steeds soos hulle voor sy boek gepraat het.
Jy sê:
"Laat ek soos ? vasgehaakte grammofoonplaat herhaal: geen taal het ? grammatika voordat die taalstruktuur daarvan beskryf is deur grammatici in grammatiese terminologie nie. Alle tale het ? taalstruktuur, anders is dit nie taal nie."
Laat ek maar weer antwoord soos daardie plaat wat vashaak: As daar ‘n entiteit is wat as ‘taal’ bekend staan, dan het dit noodwendig sy eie grammatika anders sou mense dit nie kon praat nie, of ‘n taalgeleerde hulle grammatika nou ten boek gestel het of nie.
Wat die musieknote betref, dit was na aanleiding van jou en Dirk se idee dat mens in ‘n taal dink. Mens dink nie in ‘n taal nie. Iemand kan bladmusiek lees en dit verg denke om dit oor te dra in musiek en taal is nie daarby betrokke nie. Jou argument dat mens nie bladmusiek sou kon leer as iemand (dmv taal) dit vir jou geleer het nie hou ook nie water nie want ‘n ou kon, in ‘n poging om musiek op te teken, self een of ander notasie uitgedink het om dit te bewerkstellig.
Baba’s kan nie praat nie maar dis nie te sê hulle kan nie dink nie. So ook honde, enige dier; hulle kan dink (miskien nie redeneer nie maar dis ook nie seker nie as jy na veral kraaie kyk) maar hulle het nie taal nie.
Wat die kunsmatige tale betref (dié waarvan die grammatika wel geskep is) het ek van Esperanto gepraat, geskep deur Dr Zamenhof, nie Sanskrit nie; dit is ‘n natuurlike taal. Sanskrit is ‘n ou Indo-Europese taal (so 1 nC volgens sekere bronne) wat onder die Indiese tak val en dié sal wel naamvalle hê. Latyn, onder die Italiese vertakking onder Indo-Europees, is min of meer in dieselfde tydvak as Sanskrit. Sanskrit bestaan vandag nog maar dit is seker effens anders as 2000 jaar gelede.
Die rede hoekom ek Esperanto genoem het is dat hy wel naamvalle het, ‘n eienaardigheid aangesien daar moderne tale is wat nie naamvalle het nie soos Afrikaans en Engels. Nog ‘n interessantheid, ‘n ander kunsmatige taal is Jakelimotu en al letters wat in die taal gebruik word is daardie letters waaruit die naam van die taal bestaan (jy sal die volgorde van die klinkers herken). Klingon (Startrek) is blykbaar ‘n taamlik uitgebreide kunsmatige taal. Maar ja, hierdie is die tale waarvan die grammatika geskryf is, die natuurlike tale het ‘n bestaande grammatika wat deur taalgeleerdes bloot opgeteken is.
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Beste Jan,