Antwoord op Angus se “Grammatika is logika ...” van gister

  • 2

Dagsê Angus

Jou eerste vraag was waar is ‘n taal se grammatika en ek sê dis in jou kop. Jy sê nee dis taalstruktuur wat in jou kop is en jy is gedeeltelik reg want verskillende tale het verskillende strukture (soos byvoorbeeld die kleefstruktuur van Zoeloe of die Onderwerp-Werkwoord-Voorwerp van Afrikaans) en die uitset van sinvolle sinne in hierdie strukture word voorgeskryf deur die onderskeie tale se grammatika. Soos dit gestel word in een van die skakels wat Dirk Rigter gegee het (wat hy selektiewelik nie aangehaal het nie) “[grammatika is] ... ‘n instrument, ‘n stel reëls, waarvan die uitset al daardie sinne is wat toelaatbaar in ‘n gegewe taal is ...”.

Dus, sodra jy ‘n begrip, wat per slot van rekening ‘n sekere konfigurasie van aan- en afskakels in jou brein is (soos die binêre 0’e en 1’e in ‘n rekenaar) wil bewerkstellig in ‘n ander ou se kop, roep jy die betrokke woorde op en skakel hulle aanmekaar volgens die grammatika van daardie taal waarin julle kommunikeer.

Jou tweede vraag was “hoe lyk hierdie grammatika?” en jou eie antwoord is (in weerlegging van my stelling dat dit abstrak is) dat dit “ ... duidelik herkenbaar [is] aan die terminologie van die dissipline: woord, voorvoegsel, agtervoegsel, woordstam, sin, sinsdeel, byvoeglike bysin ....[ens].” Dit is nomenklatuur Angus, dit is nie hoe grammatika ‘lyk’ nie. ‘n Motor se masjien, byvoorbeeld, ‘lyk’ nie soos blok, silinder, vergasser, kopnokas, petrolpomp ens nie, dis bloot ‘n lys onderdele.

‘n Masjien is egter konkreet en ‘n mens kan al daardie onderdele besigtig en kyk hoe hulle lyk sonder dat jy die name hoef te ken. Met grammatika, wat jy nie kan sien nie, kan jy slegs die manifestering daarvan ervaar, of waarneem, of ondervind, aan die hand van die verbuigings, vervoegings ens.

Jou derde vraag, naamlik “hoe weet jy dit lyk so?” is dus sinneloos.

Grammatika, in wese, is die elemente van enige wetenskap, kuns of onderwerp. ‘n ’59 Chev Bel Air se vinne gaan glad nie goed lyk op ‘n 1959 Bentley nie, die grammatika is net nie reg nie. ‘n Russiese kerk, watter styl ook al, en ‘’n Japanse pagoda, watter styl ook al, albei houtstrukture, se ‘grammatika’ verskil, jy kan dit nie meng nie. Prakties kan jy seker (struktureel), maar die eindresultaat is ‘n aborsie.

Net ‘n woordjie oor Chomsky se ‘dieptestruktuur’: Ek dink hulle (Chomsky en die na hom om jou woorde te gebruik) weet nie presies wat hierdie dieptestruktuur is nie; dis iets wat hy (hulle) vermoed daar moet wees om die mens se besondere taalverwerwing (in vergelyking met ander diere) te verklaar. Dit is ‘n term soos die astro-fisici se skim-energie (dark energy); hulle weet nie wat dit is nie maar daar moet so iets wees om sekere verskynsels te verklaar. Hulle soek nog, Chomsky-hulle en die astro-fisici.

Ek moet nou waai, praat later oor die res van jou brief.

Groetnis
Jan Rap

  • 2

Kommentaar

  • Hallo Angus,

     
    Nou weet ons darem een ding: Volgens Jan Rap sal die stileerder / ontwerper van 'n nuwe motor eers tevrede wees met sy ontwerp, wanneer die kar se "grammatika" reg is. En nou weet ek hoekom my buurman se huis so lelik is vir my. Sien die argitek het nie die huis se "grammatika" reg gekry nie!
     
    En Chomsky en die ander honderde spesialis-linguiste het nog al die jare hulle tyd gemors met hul taalwetenskaplike studies. As hulle net na 'n kar se enjin of bakwerk gekyk het, dan kon hulle sommer die totale linguistiese wetenskap aan die hand daarvan beskryf het. Om die waarheid te sê, elke fakulteit aan elke universiteit moet nou maar begin kyk na die grammatika van hul vakgebied, want...."Grammatika, in wese, is die elemente van enige wetenskap, kuns of onderwerp ..." Dit staan wraggies net so in Jan Rap se skrywe!
     
     
  • Beste Jan,

    Ek sal jou maar nie hierop antwoord nie. Ek sal ook nie my hond kan leer skaak speel nie.
     
    Groete,
    Angus
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top