Ek was Vrydagaand by die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns Bekronings.
Wat ’n belewenis om omring te wees deur die grootste Afrikaner-geeste in die wêreld.
Twee van die bedankings wat my na aan trane gehad het, is deur niemand van die media neergeskryf nie. By die onthaal ná afloop van die toekennings het ek hierdie twee wenners tromp-op geloop en skaamteloos hul epos-adresse gevra sodat hulle hul bedankings vir my kon stuur.
Hier is dit:
Sisca Julius, die beste jong skrywer in die land, vir die tweede jaar in ’n ry: “Ons skrywers se werk is om diep en hard seer te kry en diep gelukkig te wees, en om mense te vertel van dit.”
Dominique Botha, wat met die Eugène Maraisprys vir Letterkunde weggestap het: “Om in die naam van Eugène Marais ‘n prys te ontvang is ‘n blommekrans uit ‘n droom wat ek nooit durf droom het nie. Hierdie verslete prins is 'n eeu gelede met ‘n heuningvoël roepstem teruggelok deur versengde provinsies, om in die kaal takke van 'n dialek 'n korf oop te breek. Sy woorde het op versoete vleuels die veld verse aangedra, wat deur die jare vermenigvuldig het oor ver verlate vlaktes en die dieptes van die see. En al was spyt die nagrefrein in die donkerwordende partituur van sy lewe, het hy 'n wetenskap en 'n wonderskone taal tot die lig gebring. Dankie aan die Akademie wat die weerlose en waardevolle vlam van kennis en kultuur beskerm en huldig.”
Amen!

