Vir Broer Pieter op sy 80ste verjaardag 23 Mei
Soos die Hantam met sy handvol gruis en gedroogde blare vir Leipoldt ’n hele wêreld was, was Adelaide met sy magiese en mistieke Winterberg en kronkelende Koenaprivier om die dorp vir my die paradys van weleer wat mettertyd vir goed verlore geraak en ek in Pretoria as student en dosent en later in PE in ballingskap beland het...
Dit was aan die einde van my hoërskooljaar (standerd 8) in 1950 dat ek en broer Piet, met die trein, vir die eerste keer sover van huis, op pad Pretoria toe was vir die ses weke vakansie.
Vir dié doel was ek vooraf as voorspel elke vroegaand as die 12-af van Oos-Londen arriveer, op my pos op die bankie voor Frikkie se kaartjieskantoor vir al die kleure, geure en klanke: die rumoer van die rangerende en stomende lokomotiewe, die geklingel van melkkanne, die verwisseling van sinjale, die verskeidenheid van menslike vorme in hul kleredrag en dekor.
So is ons toe een soel aand om nege-uur oor Kookhuis, Cradock en Rosmead weg Pretoria toe met onder andere ’n windgedroogde karkas van ’n vetstert skaap in ’n soetkys as deel van ons bagasie om ons tante se kosvoorraad enigsins aan te vul en vir die lekker die vervoerverbod op vleis te ontduik. En het ant Rena nie haar hande vol gehad om die klankie uit die karkas in die steenkoolkoeler vir twyfelagtige gebruik met asyn en sout en vreemde kruie uit die dooie skaap te kry nie: want vleis was in 1950 so skaars soos hoendertande!
En met pa se tjek gewapen vir ‘n ordentlike uitrusting op ouderdom 13 was dit my tante se eerste taak om die beloofde navy blue pak by die deftige Andersons in Kerkstraat te gaan koop waar ek in oordaad ‘n losboordjiehemp en das, velthoed en ‘n paar nuwe skoene en kouse summier agter die gordyn aangetrek en die oues in ‘n royal blue drasak gestop en saamgedra het na die dieretuin as eerste bestemming.
Met die martelende somerson in my nek en die nuwe kerkskoene wat die kruisbande ongenadig gehelp knyp en skaaf het, bereik ek en my fyn tante toe die dieretuin in Proesstraat en bevind ek en ant Rena ons toe spoedig voor die ystertralie-gevangenis waarin die ongelooflik buitewêreldse oerang-oetang verveeld in die koelte aan ‘n wortel lê en kou.
En deur die tralies loer ek vir die oerang-oetang en hy loer vir my. Want in die subtropiese hitte van Pretoria in ‘n omhulsel wat die groot aap kennelik uitermate verstom het, verbeel ek my toe dat hy sy verbasing en sin vir humor met ‘n knipoog vir my tot vandag toe as vraag in die midde gelaat het, naamlik oor wie van ons twee nou eintlik agter tralies is en wie uiteindelik die grootste aap was.

