Daar is niks, of nie meer as die gewone, verkeerd in daardie kind se ouerhuis of met die kind nie. Die kind is bloot 'n boelie, iemand wat iets of iemand treiter wat homself nie kan of mag verdedig nie en daar is baie kinders wat aan hierdie boeliesindroom ly.
Om te boelie, soos by ander slegte dinge soos vernielsug, steel, traak-my-nie-agtigheid, luiheid, ongemanierdheid, lieg ens is in die mens se gene en om dit teë te werk moet vroeg in die kind se lewe werk daarvan gemaak word. As dit te laat aangepak word is dit soos 'n boom wat nie vroeg gesnoei word nie; die boom is bederf.
Soos die geesteswetenskappe ontwikkel het sielkundiges, sosioloë en maatskaplike werkers deesdae metodes om hierdie natuurlike lelike manifestasies te beveg. Dit behels lang beradingsessies en verg baie geduld en toewyding (hare op die tande) van almal betrokke soos die gesin, onderwysers ens.
Die metode wat vir eeue gebruik was voor die ontwikkeling in die geesteswetenskappe plaasgevind het is aan almal bekend: Kinders was pak gegee. Daar is geen wetenskaplike verklaring oor hoe 'n enkele drag slae maandelange beradingsessies vervang nie; dis net die geskiedenis wat bewys dat daardie oeroue metode wel werk.
Dus, tot tyd en wyl lyfstraf weer ingevoer word in skole gaan al hoe meer kinders dissiplineloos groot word, rogues noem die Engelse hulle. Daar kan nie van onderwysers, en veral onderwyseresse, verwag word om skool te gee in die huidige omstandighede nie. Hier en daar mag 'n kind dalk onskuldig, of 'n onredelike, pak kry maar dis deel van sy opleiding; hy sal vroeg leer die lewe is nie altyd regverdig nie wat hom beter vir sy toekoms sal voorberei. Dit is nou INDIEN sy pak onregverdig is wat baie onwaarskynlik is.
Jan Rap


Kommentaar
Ek het 'n video gesien van 'n knaap wat 'n onderwyser aanval. Eerstens sal dit die kind se laaste aanval wees en tweedens die ouers moet ook in die bek geruk word, maar Jan ek stem volmondig met jou saam. 'n Goeie pak slae verrig wondere aan 'n kind. Die ouer of die persoon moet dit net nie in woede doen nie, wat ook maar flippen moeilik is. Dit is nie die onderwyser se plig om die kind op te voed nie, dit is die ouer se plig. Die onderwyser is daar om die kind te onderrig. Daar is soos in die lewe maar is, die wat daarvoor en daarteen is. Ek wil nie in 'n ewige relaas en dermuitryg betrokke raak nie. 'n Kind het reëls, regulasies en gesag nodig, en as jy nie wil hoor nie, moet jy voel. Daardie waks in die ore word met warm agterstewe losgemaak.