Aanklag van vriendskap

  • 1

Vriendskap is die mooiste, kragtigste, en mees waardevolle skat in die lewe. Dit is eintlik ons mensdom se ware rykdom. Maak nie saak hoeveel status 'n persoon verkry of hoe ryk 'n mens kan raak nie; 'n lewe sonder vriende is inderdaad hartseer en eensaam, maar meer nog, dit lei ook tot 'n ongebalanseerde, self- gesentreerde bestaan.

Gistermiddag staan ons voor die ingang van ’n Kerk. Die mense se trane lê vlak en ek moes selfs help om die kis op ’n trollie te laai. ’n Vriendin van ons gesin is oorlede. Skielik, na ’n paar maande se siekbed. En sy was maar jonk – net 49, soos die dominee gesê het: “te jonk om te gaan ...”

Binne-in die kerkgebou het ons flits-kiekies van haar lewe gesit en kyk. Dit, terwyl sagte voëltjie- en panfluitmusiek die atmosfeer in die warm aanbiddingsplek, na rustigheid moes lei. Die familie en gevolg het in die voorste banke gaan sit en ons moes opstaan en sing. Die predikant se boodskap was treffend vir almal, lewend en nie-lewend. Ek het nie vir tee en broodjies gebly nie; ek kon nie, die rasende onstuimigheid in my gemoed was nie lus vir die “onthaal” nie.

So skraps aan die twintig jaar het ek en my vrou die vriendin geken. So skraps was ons kennis egter, dat ons nie geweet het dat sy tennis gespeel het nie; of geweet het dat haar gunsteling kleure wit en swart was nie; of dat sy pannekoek help bak het nie; en dat sy iemand was wat waarde aan ander se lewens gevoeg het nie. Tot vandag toe en uiteraard nooit, sal ek regtig weet wie werklik oorlede is nie.
Gister het baie sogenaamde vriende se trane van hartseer geloop, maar die klug daaragter, is eintlik die hartseer weens die verlies van ’n geleentheid om ’n vriend te kon wees. Dit is wat gesterwe het.

Ek is beslis nie die slimste ou wat ek ken nie, maar so dan-en-wan, moet mens oor goeters dink...

Die droom van ’n vriendskap hang van my af, nie van die ander persoon nie. Dit kom alles neer op jou eie gesindheid en bydrae. Die vriendskapsding, myns insiens, loop oor die grense van bloedverwante. Hoekom mag my neef nie my beste vriend wees nie; Of my vrou; of my seun?

Vriendskap bestaan uit 'n vorm van deugde-etiek. Die middelpunt van die hele verhouding is 'n mens se persoonlike ontwikkeling, die kweek van ervare eienskappe en die beëindiging van die onervare gemorsies, wat mens soms verkies, om mee saam te lewe. Elkeen van ons het ’n behoefte daaraan om diep verbind te wees; om in ’n verhouding te behoort. Die lewensdinamiek hiervan, is die heel beste in ons vriendskappe en verhoudings sigbaar.  As ons vriendskappe nie in ooreenstemming met die uitlewe van groei is nie, sal die vriendskap al hoe moeiliker raak om te bestaan. Totdat dit doodgewoon sterf.

In terugblik en selfondersoek is dit baie duidelik dat hierdie soort vriendskap by hierdie adres maar dun is. Dit is ’n gegewe dat ons almal tog poog om nie 'n mooi-weer vriend te wees nie; een wat ander net help wanneer die omstandighede goed is en hulle dan hoog en droog laat wanneer 'n probleem ontstaan nie. Ja, verseker wil al ons goed opgevoede verantwoordelike mense die soort vriend wees wat, onveranderlik en in lojaliteit, deur dik en dun by ’n ander staan.

Êrens het ek onlangs gelees dat 'n moeitewerd-om-te-hê-vriend, iemand is wat toegerus is met die volgende:
- Om te gee wat moeilik is om te gee.
- Om te doen wat moeilik is om te doen.
- Om te verdra wat moeilik is om te verduur.
- Iemand wat sy geheime aan jou wil openbaar.
- Iemand wat jou geheime hou.
- Iemand wat nie padvat wanneer teëspoed tref nie.
- Iemand wat opkyk na jou, selfs wanneer jy af en om is.

Eienaardig hoe Salomo se woorde skielik opkom: “Reukolie en wierook is iets om te geniet, maar die genot van vriendskap lê in die raad wat jy kry.”

Tot weersiens vriendin.

Hennie Fritz

  • 1

Kommentaar

  • Beste Hennie, daar is dae wat 'n mens wonder of dit die moeite werd is om SêNet op 'n daaglikse basis te volg. Jou brief is weer 'n bewys dat dit die moeite werd is.

    Jy skryf: “Ek is beslis nie die slimste ou wat ek ken nie, maar so dan-en-wan, moet mens oor goeters dink...” Dis een ding wat die dood doen om ons tot stilstand te ruk en weer te laat dink. Jy het wonderlik daarin geslaag om die boodskap aan ons oor te dra. Ongelukkig het ek 'n moedswillige streep en sal só graag wou hê dat sekere spesifieke ouens jou aangehaalde woorde hier sal herhaal. Sommer lus en noem 'n paar name, maar sal dit liewer los, aangesien ek reeds min vriende het.

    Ja, ons ken seker almal die tee drink en broodjies eet na die begrafnisdiens en ook die oppervlakkige gesels van vele. Dis miskien 'n manier om die werklikheid te vermy, maar ook 'n geleentheid om te vertel wat die oorlede persoon vir jou beteken het. In ons materialistiese wêreld is daar min waardering vir ons predikante, maar dit is juis by begrafnisse wat hoë eise aan hulle gestel word. Ons moet meer erkenning aan ons goeie predikante gee, want die lewe stel erger eise aan hulle as aan die meeste van ons. Laat my byvoeg dat ek groot waardering het vir die groot meerderheid leraars.

    Goed gaan, George

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top