Neptune Castle 91
Avondale
Atlantis
7349
01 Desember 2013
Hallo Anoniem
Ek hoop dit is okay dat ek vir jou die brief skryf. Hoe gaan dit nog met jou? Dit gaan okay met my. Wel, so okay soos wat dit kan gaan na ek jou laas gesien het. Jy wonder seker hoekom ek vir jou uit die bloute ’n brief skryf, maar my sielkundige het aanbeveel dat ek vir jou skryf, so hier is, soos sy sê, “my siel op papier.”
Nadat ek in hoërskool uit die kas geval het was jy daar om my op te tel en af te skud. En in jou beste Britse aksent het jy gesê “Now walk baby, walk”. Deur my snot en trane het ek hardop vir jou gelag, onthou jy dit? Ek onthou dit soos gister, omdat daai dag het ek besef ek het jou lief. Jy was altyd daar vir my, na my ouers se verwerping en my pa se sterfte. Jy het my in jou bakhand weer heel gemaak. Nadat ek jou uitgevra het was my boek natuurlik vol belaglike hartjies, soos ’n behoorlike bakvissie. Dit is wat jy aan my gedoen het. Jy het my in liefde laat glo, dat dinge beter sal raak. En dit het, met jou. Ek het altyd gedink dat ons verewig saam sal wees. Ons laat aande op Melkbosstrand met die son wat sak en Kaapstad se liggies in sig, was altyd my ontsnappingsoord. As die lewe my rond geslaan het was jy altyd daar om te keer dat ek nie te seer kry nie. My probleme was jou probleme en jy het my onvoorwaardelik lief gehad. Ek mis jou. Ek mis ons poësieaande en hoe jy my ma naboots as sy oor my slordige kamer kla. Ek mis hoe ons vir tannies met verskriklike hoë broeke giggel. Ek giggel steeds daarvoor, maar dit is nie meer so snaaks nie.
Ek weet wat ek gedoen het is onvergeeflik. Ek verwag nie dat jy my moet vergewe nie. Ek wil net hê jy moet weet dat ek jou altyd lief sal hê en dat ek jou ewig dankbaar sal wees.
Soos Antjie in haar gedig “Omdat” sê my kers bewe nou- dit bid en sê dankie vir jou. Lover, as ek jou dit steeds mag noem, in my hart brand ’n kers steeds vir jou; net vir jou.
Groete
Jou Lover
Klik hier vir nog besonderhede oor die kompetisie.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

