"Brief aan jou verlore liefde"-kompetisie: Daleen Venter

  • 0

Mannemarak

Wanneer ek terug dink aan ons tyd saam weet ek dit was die gekste tyd van my lewe. Die dinge wat ons twee aangevang het is materiaal vir Robin Wood-flieks.  Jy, die vreeslose ordentlike held en ek die brawe volgeling met haar hart in jou hande. Ons tye saam was altyd vurig en met 'n plan van aksie. Nooit net doellose tye gevul met alledaagse dinge.

Die Turkish delight-boksie met ons briewe laat my besef  hoe sms'e,  e-posse,  whatsup's en bbm's,  die romantiek van ons saamwees sou steel. Ek weet nou vir 'n feit as geld,  seks ,  kinders,  wasgoed, selluliet,  snork en TV ooit deel was van ons saamwees, was ons romanse vlietend soos al die ander na jou.

Ek wil jou vandag bedank dat jy deel was van my lewe in 'n tyd wat seerkry my asemhaling was. Dankie dat jy hierdie tyd vir my draaglik gemaak het. Ek verstaan nou waarom jy soms weemoedig was in my  heldeverering vir jou. Ek weet nou dat jy ook soms smag om net menslik te wees. Foute te maak.

Ek wil jou egter vandag bemoedig met my brief aan jou. Elke dogtertjie reg oor die wêreld het jou so ontsaglik nodig. Jy dra die swaarkry vir elke vrouehart wat teleurgesteld is deur die werklikheid. Jy gee hoop aan elke eensame tiener.

Ek weet jy raak soms moeg om nou 'n Cowboy en later 'n getatoeëerde motorfietsryer te wees ... maar my geliefde hartsman, jou perfektheid in watter hoedanigheid ook al, dra menigte vroue deur krisisse, seerkry , depressie en alleenheid.

Ek voel teleurgesteld om jou mee te deel dat ek oor jou is. Vir solank was jy deel van my aan die slaap raak, my dagdroom en my hoop. Ek was rou oor ons twee nooit saam kon wees nie. Ek moes leer dat foute deel is van karakter en dat verstaan in myself lê.  Dit wat jy my kon gee was net tydelik. Dit wat ek nou het is vir altyd. Innerlike vrede en die wete dat ek okay sal wees.

Ek groet jou nou finaal al sal ek nooit vergeet dat jy my geleer droom het nie. Jy het enige uitdaging van 'n beesboer tot 'n Kilimandjaro-gids met passie uitgeleef.  Jy het nooit jou swakheid laat deurskemer  en nooit maar nooit my dogtertjiehart teleurgestel nie.

Liefdegroete

Jou verlore liefde

 

Klik hier vir nog besonderhede oor die kompetisie.


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top