"Brief aan jou verlore liefde"-kompetisie: Bernice Saulse

  • 2

Johannes Petrus

Ek het jou adres by jou ma gekry, kan jy dit glo. Oumies talm in haar sterwensuur, dié dat sy seker besluit het om “jammer” te sê en my na soveel jare te laat kontak maak met jou. Wel, jammer sê soos sy dit ken – sal nooit erken sy was verkeerd nie.

Julle’t mos nou kouete daar oor die waters. Dis helwarm hier op die plaas so naby Krismistyd. Stefaans het reeds nou die dag gesê as Oumies dit nie maak tot na die warm dae nie, moet ons gou speel om haar onder die aarde te plant. Hierdie Karoo-hitte het geen genade vir ’n lyf – lewend of dood – nie. Haai, onthou jy hoe ons kleintyd saam-saam kaalbolyf in die plaasdam rondgeplons het om af te koel? Dan het die son se strale jou wit lyf rooi-rooi geskroei. En myne? Net nóg bruiner. Ons lywe saam was so rooibruin soos die plaasgrond. Soos dit in die natuur moet wees ...

My ma het altyd gesê dit sou ’n seunskind wees, want ek het laag gedra. Maar dis oor sy gemengde bloed laat hy nie hierdie plaas met sy eigene ogies kon sien nie, het sy ook gesê. Dit het hom glo vergiftig. En voordat my hart ophou sweer het oor ek jou en hom verloor het, het ek dit ook geglo. Ma’s weet mos van beter. Dis seker hoekom joune jou weggestuur het na jou antie oorsee toe sy uitvind ek is met die lyf. Een en een bymekaargesit toe Stefaans sy mond verbypraat en sê het hy’t ons in die wingerd betrap daai dag toe ek 16 raak.

Ek het maar ’n mannetjie gevat wat hier op die plaas aangekom het. Hy’t later so begin drink, ai. Maar my lewe is orraait. Ek werk nog al die jare vir Oumies – ek sê altyd ek het ’n belangrike jôp, want jou ma se hele huis is my kantoor. Ek en die mannetjie het drie klôgoed. Almal meisiekinders. Dis nou ’n jammerte laat jy nie kinders het nie. Ek het julle troufoto wat jy gestuur het in Oumies se album gesien. So ’n skone vrou; dis hartseer dat sy nie kon baar nie. Julle kinders sou soos engele lyk. Ek wonder hoe onse basterkind nou sou lyk. Jou blou oë en my tolboshare?

Ek hoop jy kom sien darem jou ma af vir haar reis na die hiernamaals.

Katerina

 

Klik hier vir nog besonderhede oor die kompetisie.


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.


  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top