Ek het altyd gedink ek weet wat “aan die vergetelheid ontruk” beteken, totdat ek so pas my e-pos oopgemaak het. Daar is sommer twee kommentare oor ‘n SêNet-brief met die titel: Die Bybel so ”tussen die lyne en die lakens” kastig deur my geskryf. ’n Ene Fani Vermaak wil vir my bid, en saam met my hemel toe gaan. Al voorwaarde is dat ek my knieë moet stukkend kruip. Cornelius Henn lyk my ook nie heeltemal tevrede met my nie, want hy beskuldig my van strooipoppe maak – gelukkig darem so tussen hakies.
Aikona! Wil ek eers stry, Webvoet maak hier groot fout; ek het nooit so iets geskryf nie. “Naarstigtelik”, soos Dolf sal sê, blaai ek deur SêNet se argief. Nêrens kry ek dit nie. Dan maar weer terug na die e-pos en klik op die titel. En sowaar! Daar staan dit lewensgroot voor my o? met my naam nogal sowaar daaronder. Ek kyk na die datum: amper een-en-’n-half jaar gelede geskryf. Panda se kommentaar is nog dat hy eers ook in die Bybel moes kyk om te sien of ek die waarheid praat; Erika Henn (wat het van haar geword?) slaan my met ’n plank, terwyl Kobus de Klerk vir my preek, en glad nie snap wat dit beteken om “ ’n brood in die oond te hê” nie.
Vir die eerste keer in my lewe weet ek wat “aan die vergetelheid ontruk” beteken.
Indien iemand dit dalk wil lees, klik hier.
Sjoe! Hoe lus is ek nie nou vir anysbeskuit nie; sommer 16 kilogram daarvan.
Groete,
Angus

