27 Februarie - Majubadag!

  • 0

Goeiedag.

Ek hys my Vierkleur met trots.

Die roemryke Boere-oorwinning met die Slag van Majuba op 27 Februarie 1881, is 'n simbool van die ontwaking van ons volks nasionalisme en daarom ’n besondere herdenkingsdag vir die Boere-Afrikaner.

Majuba se oorwinning en die betekenis daarvan het ver en wyd oor Suidelike-Afrika uitgekring. Die manier waarop die Boere in die Zuid-Afrikaansche Republiek weerstand gebied het teen Ingeland se grypsug, het die verbeelding van die Afrikaner in die Vrij Staat, Natal en die Kaapkolonie destyds aangegryp.

Die slag van Majuba is ook 'n bewys dat Dawid en Goliat nog menigmaal gaan woed. Menige onderdrukker sal nes die Ingelse Empaaier nog leer dat hulle nie so onoorwinlik is soos naïewelinge in die massa en populêre media gebreinspoel word nie. Die weerstand en die vegvermoë van ’n klein volkie wat alles in die stryd gewerp het om sy eie te beskerm, was vir ’n oomblik sterker as die hebsug van ’n magtige Empaaier.

Tydens die geveg was dit gou duidelik dat die Boere meer gedissiplineerd as die was Britte wat geglo dat hulle die Boere maklik sou oorwin. Vir die Britte was dit ’n groot vernedering om verslaan te word deur ’n klomp plaasseuns met gewere. Die slag het gelei tot die vredesverdrag  en die beëindiging van die Eerste Vryheidsoorlog. So gesien is Majubadag ’n deel van ons groot en mooi erfenis wat ons trots kan laat voel om ’n Boer te wees.

As ons terugkyk in die geskiedenis word dit telkemale duidelik dat ons ’n besondere nasie is en dat ons nasie se pad in Afrika nog nie doodgeloop het nie.

Majubadag wil juis aan ons sê dat geen vreemde besetting van ons vaderland permanent is as ons Boere-Afrikaners dit nie wil hê nie.

Lees gerus hier meer oor die Slag van Majuba.

Laat die wêreld maar kennis neem!

Boeregroete,

Cornelius Henn

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top