Ivor het nou die dag, toe ‘n gas van ‘n ‘biljoen’ praat, baie taktvol die idee oorgedra dat die regte word ‘miljard’ is (hy het bloot verder in die gesprek die word ‘miljard’ gebruik). Tien uit tien vir Ivor, dit is hoog tyd dat mense besef ons (en Europa) se ‘biljoen’ ( 10 tot die mag 12) ‘n duisend maal meer is as die Amerikaanse biljoen (10 tot die mag 9).
Izak op Monitor praat nou die dag met ‘n vrou wat haar toilet by die werk sluit sodat net, wat sy ‘bestuur’ noem, dit kan gebruik. Izak het die arme vrou vreeslik geboelie; hy wou weet, oor en oor gevra, of die vrou die toilet sal oopsluit vir swartes. Die vrou het haar uit die ding probeer wurm (want tussen die lyne was dit duidelik dat sekere mense koerantpapier gebruik en sodoende die toilet gereeld verstop) maar Izak was soos ‘n Bulldog; hy wou opsluit weet of swartes uitgesluit is.
Wat sou hy gedoen het as die vrou uiteindelik toegegee het? Vir haar gesing het “a la falala, jy wi-il nie hê swa-artes moet die-ie toilet gebrui-uik nie?” Nul uit tien vir deernis en takt, tien uit tien vir ‘n genadelose geboelie. Sommer nul uit tien ook vir RSG.
Jan Rap


Kommentaar
Beste Jan,
Ivor is oorspronklik van Kraaifontein en ek sekondeer hom graag.
Wat Izak en die noodsaaklike gerief by die werk betref. Die werkgewer moet tog toiletpapier voorsien en dan is die enigste doel van die koerant om gelees te word? Sou die werkgewer nie die regte papier voorsien nie, is die baklei met hom en nie met "sekere mense" nie. Het ook self 'n "kleinerige besigheid" besit. Daar was net twee geriewe (en ek het die regte, nodige papier voorsien) en die is toe sonder probleme tussen mans en vrouens verdeel. As daar vier was raak dit moeiliker en moet 'n mens seker onopsigtelik tussen bestuur en ander onderskei, ens. Gelukkig het ek nie meer 'n sake-onderneming nie en net 'n privaat-gerief wat ek sonder probleme privaat hou. Izak werk natuurlik ook vir 'n baas wat nie die woord "papiere" wil hoor nie - nie as daar na kwalifikasies verwys word nie!
Jan, jy is mos ook al in my posisie. Sit by die huis en hoef nie eers 'n kennisgewing op die betrokke deur aan te bring nie?
George B
Ek het 'n buitetoilet wat deur my tuinboukundige assistent - en per geleentheid die werkers van elektrisiëns, loodgieters en dies meer - gebruik word. Ek voorsien OORVLOEDIG die regte papier (want ek betaal die loodgietersrekening) EN nog borsels en sepe in spuitbottels en goed en daardie toilet lyk naar, NAAR sê ek jou, as jy nie gereeld SPESIFIEK opdrag gee dat hy skoongemaak word nie. Skoonhou, lyk dit my, kom nie vanself nie. Ek kan duidelik sien hoekom die vrou 'n plan moes maak.