
Foto: Canva
Breyton & Olga 1975
By Die Burger spook en sweet elke sot
om die nasie te staal teen Breyton se lot.
Bewys na bewys word wyd oopgestrooi
dat die volk kan sien ons digter is rooi.
Op ’n vergadering sit hy langs ’n kommie.
Ons weet almal goed dit maak hom sy tjommie.
Sy skuilnaam is die van ’n Poolse knaap
dat hulle bloedrooi is, dit besef elke swaap.
Ook word sy werk so elke nou en dan
deur ons hoogedele sensors die land uit verban
Ek help dan nou graag in die grootse taak
Hier is bewyse om die knoop deur te haak
’n Paar jaar gelede in ’n nanag so duister
het hy na ’n Russiese opera gaan luister
Kort daarna lag neef Breyten betower
toe Olga Korbut ’n goue verower.
Slegs nou die dag nog eet die kêrel ’n vy
in Russiese sonlig gekweek en gedy
en net om ons nog meer die hel in te maak
seg hy die ding het die heerlikste smaak
Oorgenoeg bewyse so lyk dit vir my
om ’n slapende nasie om die bos mee te lei!


Kommentaar
Geagte Redakteur, verduidelik asb waarom LitNet hom met anonimiteit hier so kan vereenselwig. Iemand wat na vyftig jaar nog doekies om homself moet draai, is eerder 'n geval vir 'n ander tipe instansie, dink ek.
Nou wie sou dit nou kon gewees het? Dog eers (so met die eerste hierjy-staan-opsy stanzas), maar ek hét mos al gehoor van hierdie "Breyton"-vent (véraf aangenaaide familie het nie skoolopleiding gehad nie; spel dikwels krom), en toe sien ek laer en later dit gaan gelukkig oor ene "Breyten" vir wie ek van g’n Adamskant ken nie. Selfs ’n kommunis het sy druthers en smaak. En beginsels. Maar ek verneem dat hy vreeslik grootbek is (seker maar soos dit 'n verloopte kameraad betaam), orals en oor alles 'n eiertjie te lê, siestog. Solank hy maar net agter die woorde kan wegkruip. Is ek reg as ek vermoed hy soek 'n joppie by Sjymbos Joeniewersitie? Gelukkig vat niemand hom kop toe nie.
Maar wie sou die "Olga" wees? My vrou se oudste suster - lewe nog (ook maar net) - ’n baie streng oujongnooi met ’n sagte hart so groot soos ’n ganse verlore (’skies) verlede - se naam is Olga. Nou wat op aarde sou Grootsus Olga (sy’s ’n goeie pianis, maar goddank probeer sy nie sing nie), wat regtig nie avontuur-lustig is nie, al het sy ook toe sy jonk was haarself "Ana" laat noem, en bang is vir muise, in daardie gedig loop soek?
So van name gepraat: ek hoop die stomme Breitoon het toe nie vir hom een van daai onuitspreeklike Poolkse name gaan kies as koesnaam nie - want soos húlle darem kan mors met ’n alfabet is net nie te glo nie!
(NS: Die saamgaande foto van die kanaal in Moskou is darem maar mooi, né? Mooi was nog nooit lelik nie. Ek hoop Poetin onthou om vir my, sommer so saam met ’n trossie gelowige pelgrims - ek sal my nie opdring nie, maar ter wille van old times' sakes - nooi om die keistene te kom soen voor dit te laat is. Hy is nog perdfris en lig op sy gebreide voete, en hy loop nog mooi met daai matroserige swaai van die skouers sommer so straight met ’n jakkalasdraai of twee uit ’n Russiese film, en dit met net ’n paar knarsies vodka agter die blad (wil gedóén wees!) - ag, en dis so lieflik wanneer die soldatekoor begin sing, ek huil sommer saam - maar hy sal mos nie vir ewig kan lewe nie? Of wat praat ek alles?)