Breyten dans met digters, woorde en die dood

  • 0

Breyten Breytenbach, enigmatiese middelwêreldbewoner, digter/filosoof/skilder/skrywer wat altyd sy voetspore terugvind na sy vaderland, is vanjaar bedrywig in Suid-Afrika, hoewel hy ook in New York, Parys, naby Barcelona in Spanje en by die Gorée Instituut in Senegal woon en werk. Op 10 en 11 Mei is hy gasheer van en deelnemer aan die internasionale Dansende Digtersfees / Dancing in Other Words, ’n byeenkoms van ’n tiental genooide meesterdigters en digkuns op Spier buite Stellenbosch (www.dansendedigters.co.za).

Breyten (76), die “woordgoëlaar en oëverblinder; man met ’n enorme verbeelding; die meester van verbysterende metafore” het die plaaslike digters en skrywers Antjie Krog, Petra Müller en Marlene van Niekerk ook genooi om deel te wees van die groep uitgelese  buitelandse digters wat vir ’n week vooraf saam verkeer “om poësie se eeue oue funksie as die ‘droom-aar in die liggaam van die samelewing’” te verken.

Die openbare tweedag-program bestaan uit gesprekke en meesterklasse deur die dag en voorlesings met musiek saans. ’n Beperkte aantal kaartjies is vir die publiek beskikbaar. Die gesprekke is gratis en kaartjies word vir die aandvertonings verkoop.

In Januarie het Breytenbach ’n groot versameling van sowat 100 hoofsaaklik surrealistiese skilderye, pen- en potloodsketse by die Suidoosterfees  ten toon gestel nadat hy verlede jaar ná vele dekades ’n uitstalling by die Breytenbach Sentrum in Wellington gehou het. Breyten se skilderwerk en sketse is veel bekender in die buiteland as in Suid-Afrika – hier is voorheen maar twee uitstallings gehou.  

Breyten het in November 2011 sy twintigste digbundel, katalekte, die lig laat sien – nóg ’n kosbare toevoeging tot sy reeds merkwaardige oeuvre wat sedert 1964 bestaan. Dit dra die subtitel artefakte vir die stadige gebruike van doodgaan.

Hoewel nie doelbewus nie, sê Breyten, wat internasionaal as een van die grootste skrywers en kunstenaars van ons tyd beskou word, vorm dit deel van ’n drieluik met die beginsel van stof (2011) en sy drie maal bekroonde bundel die windvanger (2007) – onder meer met die Hertzogprys.

In 2009 het sy tweetalige bundel Oorblyfsel/Voice over (deur sy gereelde uitgewer Human & Rousseau gepubliseer) en ook ’n “skryf- en leesgids”, Intimate stranger (deur Archipelago Books) verskyn.              

Die dood is immer, sedert sy vroegste publikasies, en ook steeds in katalekte, wroegingloos teenwoordig in sy woord en werk. By die bekendstelling van sy bundel Papierblom in 1998 het Breyten reeds sonder morbiditeit of angstigheid gesê hy is “haastig om dood te gaan. Doodgaan loop tog vanaf jou eerste bewuste tree saam met jou. Jy hoor hom net beter hier na die einde toe, die ou sleepvoet-bliksem … Maar ek het nog voluit plesier aan vele dinge. Maar die ou Grootbeer moet mens darem ook nie te lank aan ’n lyntjie hou nie! Ganôg is ganôg.”

Dié gedagte blyk ook uit sy onlangse YouTube-gesprek met Jo Prins oor die Dansende Digtersfees, toe Breyten gevra is waarom juis dansende digtersfees.

“Daar is ’n hele klomp oorwegings – die dans met die dood … die Sjamaan-konsep of waarskynlik die populêre siening daarvan, dat jy jou lewe dans – finaal; uiteindelik.

“Dis ’n dans met woorde … dis ook ’n aanduiding van ’n verskuiwing van iets wat baie belangrik is … ’n Gedig bestaan nie net uit die betekenis van die woorde nie – dit het veel meer ook te doen met die ritme, met die tekstuur, met die beweging daardeur. Miskien ook om die aandag te vestig op die prosesmatigheid van waarmee ons besig was en nie soseer die produk self nie.”

Oor die bestaansrede vir poësie het Breytenbach só geantwoord: “Dis weer die dans. Die dans met die onkenbare, dans met die bonatuurlike, nie omdat dit buite ons is nie, maar omdat ons altyd daardie donkertes in ons gaan hê wat ons waarskynlik net kan betrek op ’n byna ritmiese omgang daarmee.

“Ek dink poësie is ’n taal op sigself, dis ’n uitdrukkingsmiddel wat losstaan, alhoewel dit baie diep bepaal word deur die taal waarbinne dit gebeur. Dis die oudste vorm van menslike kommunikasie onderling, en mens met boom en met dier en met wolk en met klip en lig en waarskynlik ook voorvaders en geeste. Dis absoluut noodsaaklik.

“Dis ook absoluut, totaal – veral binne ons moderne samelewing –  geheel en al nutteloos. Jy gaan nooit ’n lewe daarmee kan verdien nie; jy gaan niemand daardeur ’n  revolusionêr maak nie. Jy gaan niemand daarvan oortuig nie, en tog dink ek dis absoluut noodsaaklik. Dis daardie kombinasie van die totale nutteloosheid en absolute noodsaak daarvan wat my fassineer,“ aldus die digter.

die gedig is tog woordeliks ’n verdigsel
’n dig-maak van die gate
sodat die niet die omskrywing
van ’n gesig mag kry
miskien is die bestemming
om ’n skil te skryf
vir die stil kreet –
wit krytlyne in die grond
waar die lyk gelê het
                                    “Dig”, katalekte, 23)

Breyten stel homself in ligter luim aan sy lesers voor in ’n “praatgedig”, “BB: Intieme en beknopte CV”, in katalekte (57). In teenstelling met die meeste van sy gedigte bevat dit leestekens:

Sy naam is Bittergesig Buiteblaf. Hy is baie, baie jare gelede
met verrimpelde ooglede gebore uit ’n diep verlede in Bonnievale
op die oewer van die Breërivier –
vandaar die skuilnaam Breytenbach.
Sy tweelingboetie vroeg doodgevrug daarmee heen se naam was Gabba.
Uit mismoedswilligheid het sy oupa daarna nooit weer ’n woord gesê nie.
BB raak al gou die pad byster en verdwaal as lyster in drome van gedigte
se gesigte en skilderye en as.
Hy kom af en toe terug na die moederland op soek na sin
of, by ontstentenis, betékenis.
(Sin vir waardes, ho! Mannekyne!)
Maar bly darem nie lank nie.
Hy is bywoner aan die Gorée Instituut op ’n vroeëre slawe-eiland
in die baai van Dakar. Vir enkele verspilde maande elke jaar gee hy les
en lyste leeswerk aan skryflastiges by die New York Universiteit
asof hy kop sou weet van hoe dood lyk of stert van bewende lewe.
(G’n wonder Amerika is so in die verknorsing nie.)
Hy wou nog altyd die gom by elke huwelik en die oorlede lasgas
by iedere begrafnis wees.
Sy mooimoedige vrou probeer kry hom hoeka aanmekaar op die regte pad
en sy lieflike lieflingsdogter se naam is Gogga.

Ampie Coetzee, literator en kundige van sy jarelange vriend Breyten se werk, het die volgende oor katalekte geskryf: “Die eerste reël as ’n mens met Breyten se poësie wil kommunikeer, is om die bundel volledig te lees en te bekyk – dit is van die buiteblad af van voor tot agter. Sy nuwe bundel katalekte het 'n skildery op die voorblad [getitel péché de pécheur]: 'n persoon soos 'n hofnar (of 'n sot) met 'n stok en op die punt 'n vis in 'n mikkie. [Op bl 51–2 is ’n gedig ‘die ou nar’. Op bl 113 ’n rekenaar-gemanipuleerde skildery van Cèzanne van twee narre met Breyten se gesig.]

“Die stok wys deur die titel, katalekte, na die naam 'breyten breytenbach', en verder op na 'n hond. Diegene wat Breyten se soms surrealistiese skilderye ken, sal dit alles kan interpreteer. Dis klaarblyklik op 'n doek geskilder; en hy praat van doek/gedig in die boek. Dis dus albei tekste. Die agterkant van die boek is 'n gedig, romanties en 'mooi'. Die een strofe lui so: 'wat het geword van die bosduif/ se skiet in die hemel/ so stil soos 'n fluit uit die donker bos/ om baie later eers in die gedig te kom fladder?'

“Hierdie laaste reël dui op een tema in die bundel: die verhouding gedig tot werklikheid, en veral die beperkings van die woord, soos die gedig ‘dig’waar woorde op mekaar inspeel, en meer en meer betekenisse oproep: ‘miskien is dit wat ons sin noem/ slegs die struktuurmaak van waansin …’

“Die tema is dan die digterlike 'teoretisering'. Die ambag van die 'woordwerker' is een van die sterkste temas in sy  twintigtal bundels. Hier word weer die liefde (sensuele liefde) verwoord, die dood, reis, landskap, herinnering, die verlede (dikwels geromantiseer), die krag van verbeelding – Suid-Afrika gesatiriseer ...   

“Die bundel se  titel het met die gedig te doen. Uit die klassieke Grieks, en die betekenis is ongeveer hier fragmente, oorblyfsels, onvolledigheid. Die subtitel artefakte vir die stadige gebruike van doodgaan wys op die maak van kuns, maar gemanipuleer ...

“’n Mens moet hom natuurlik nie te ernstig opneem nie: katalekte is nie fragmente nie en artefakte is nie kunsmatig nie. Dis die gedig wat nooit volledig kan wees nie. Daar is geen volledige, alles-omvattende, betekenis-volle gedig nie.

“Die soeke na betekenis is net so 'n sterk tema, en daarin openbaar Breyten sy grootste talent: die metafoor. Sy natuurlike transformasie van betekenis tot betekenis. Om die metafore hier te omskryf is onmoontlik,” aldus Coetzee.

In ’n ongepubliseerde YouTube-onderhoud wat Human & Rousseau tydens die bekendstelling van die beginsel van stof in 2011vrygestel het, het Kerneels Breytenbach, skrywer, voormalige publikasiebestuurder by NB-uitgewers en oudjoernalis, ’n gesprek met Breyten oor sy werk en lewensbeskouings gevoer, wat ewenwel op katalekte van toepassing gemaak kan word.

Breyten het ’n gedig uit dié bundel voorgelees:

Wat ’n wonderlike reis was dit
oor vasteland en seisoene
deur sneeu en deur sand
verby stede met name
wat sing op die tong
Laatnag was die vrou se hand ’n gelofte
die kind het met stokkies in die stof gespeel
in boekwinkels het papierstemme gemurmel
in galgkamers het mense aan toue geswaai
soos pendulums oor ’n landkaart van lewe

Vanaf bergpieke was daar rook in valleie
voëls het in die klowe gesing
eilande was drywende arke op die kim
wat ’n wonderlike reis was dit oor vasteland en seisoene.

Volgens Kerneels Breytenbach bevat dié bundel van Breyten se toeganklikste verse met die eenvoud wat meermale bedrieglik is. “Ek is seker dat dit later beskou sal word as een van die twee groot skemerbundels in die Afrikaanse digkuns, naas [NP Van Wyk Louw se] Tristia.”

“Dis opvallend, veel meer nog so in die skilderkuns as in die skryfkuns,” het Breyten geantwoord, “hoe mense as hulle ouer word – die bedrywer, die maker – losser kom. Ek dink aan die laat werk van die skilders Picasso, Titian, Tintoretto of Goya – sy donkerkamerskilderye byvoorbeeld. Ek dink dis asof mens miskien bietjie minder behep word met die vaste gegewens van jou vak. Met ander woorde jy begin meer eksperimenteer, jy begin wyer vloei, maar jy kom ook op ’n punt waar jy vir jouself sê: Wel, ek kan mos maar in elk geval sê wat ek lus het om te sê.

“Die vergelyking met Tristia is wonderlik, maar ek weet nie of ek in daardie skoene sou kon instap nie. Maar ek dink in Tristia se geval en tot ’n mate Komas uit ’n bamboesstok van DJ Opperman [sy outobiografiese bundel] het jy die gevoel van ‘hier het jy iemand wat terugkyk’ – nie net oor die lewe nie, maar ook oor die aard van jou werk of jou verhouding met taal. Gedigte, byvoorbeeld. Dis ’n soort bestekopname ... Jy weet natuurlik nooit hoeveel tyd jy nog vorentoe het nie. Iemand sê nou die dag vir my: ‘Jy skryf so baie oor die dood.’ Ek sê ja, maar die dood is so lank, jy weet.”

En later: “Daar is ’n ou gesegde, ‘die politiek is die kuns van die moontlike.’ Ek sou sê ‘poësie is die noodsaak van die moontlike.’ Maar jou wegspringpunt – die feit dat jy beelde, klanke, ritmes, gedeelde begrippe hanteer en tot ’n mate manipuleer om iets daarmee te bereik – dit maak dit so moeilik.”

Volgens Breyten het hy nog nooit gevoel sy werk beweeg in terme van tydvakke nie ... “‘Hierdie is die jong werk; daardie is volwasse werk; dís middeljarige werk; dís ou werk’ nie. Vir my was dit nog altyd net ’n deurlopende draad.”

In katalekte, soos in die beginsel van stof, verskyn daar verskeie prosaverse.

Breyten het aan Kerneels gesê dat toe hy nog sy (Breyten) se bundels uitgegee het, het hy gevra dat sy prosagedigte van die bloemlesing Ysterkoeiblues in die bundel Versamelde gedigte 1964–1975 opgeneem moet word. “In daardie stadium was dit wat my betref gedigte. (Kerneels: “Dit het die kwaliteit van gedigte gehad …”)  Dit begin in ’n mate al hoe meer gebeur. Dis asof ’n mens kom by ’n sekere rede vir skrywe op ’n moment wat hom nie self wil laat inpas, selfs aan ’n epiese vormgewing van ’n gewone gedig nie. Ek kan my nie indink dat ek ’n verhaalmatige gedig sou kon skryf soos byvoorbeeld Uys Krige nie. Dis amper asof jy hom ’n bietjie dieper moet wegsteek, en dit is natuurlik iets wat lyk of dit ’n kortverhaal is – dan is dit prosa.

“Wat is daar dan nog wat hom meer laat oorhel na ’n gedig as na ’n kortverhaal toe? Dan is daar iets anders wat op die spel kom. Dis ’n soort logika, ’n klemverskuiwing na ’n groter bewuswording van die klank, kleur en tekstuur van woorde self wat ’n mens ’n bietjie onderspeel wanneer dit kom by kortverhale of verhale skrywe. Dit kom voorop.

“Dit beteken ’n losmaak van byvoorbeeld normale semantiese logika. Die spronge wat daar kom, is meer soos droomspronge en die een begrip of die een beeld groei in die ander, wat as ’n mens narratief te werk sou gaan, soos jy doen met ’n langer kortverhaal of selfs met ’n kort vorm kortverhaal, dan is die narratief vooropgestel.”

In so ’n prosagedig (katalekte, 84) skryf hy aan sy gestorwe vriende en broer Basjan:

Ek kyk namens julle na die eerste lenteblare in die bome,
die vaal hemel wat skitterend sal verbleek tot blou,
die wit bergpieke wat soos as hul skerpheid in my geheue verloor
want al wat aarde is draai na ’n nuwe seisoen van lewe,
en wat ek sien is omsoom met spyt se donker gloed …

Tydens die Dansende Digtersfees sal diegene wat in meer van die denke agter die digkuns belang stel, kans kry om nie net van die meester Breyten Breytenbach self verder te kan leer nie, maar ook van die internasionale ghoeroes van poësie wat hy na ons land genooi het.

Lees ook die volgende artikels oor Breyten Breytenbach en sy werk op LitNet Akademies:

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top