Brand my hart
Steek my hart aan die brand vir die hartseer van ons land. Laat die reuk van omgee waai met die wind van desperaat tot in elke donker hoek en straat tot onkunde my verlaat. Breek los die kettings wat my vasbind en gee my lewenseile wind sodat ek kan hardloop sonder terughou en grense breek met elke vuishou.
Want ek is vry tussen vasgevange mense. Loopsoldaat tussen goed en sleg se fyn gesnyde grense. Help my dapper wees, om diep te staar in die oë van pyn en te veg met lig en moed tot die donker dae verdwyn.
Breek die deure van my hartklop oop en sleep die ossewa van hoop teen die berge van armoede uit. Maak my bereid om diep te delf in die skat van onselfsugtigheid en gee my toe mond vlerke om ver te vlieg en hoog te praat van die gebroke siele wat lê op elke donker hoek en straat.
Want ek is vry tussen vasgevange mense. Loopsoldaat tussen goed en sleg se fyn gesnyde grense. Help my dapper wees, om diep te staar in die oë van pyn en te veg met lig en moed tot die donker dae verdwyn.
Skeer oop my hart van simpatie en laat dit bloei. Laat die bloed van omgee vloei in die krake van ons samelewing. Laat my trane sing van beter dae vir dié wat ly aan armoede en dié wat verdrink in die lewensvloed van langverlore moed. Maak my bereid en maak my dapper vir die lewenslange stryd teen onregverdigheid.

![]() |