Borg ’n Woord van die WAT

  • 0

Beste Klaas

Dankie vir jou positiewe kommentaar op Borg ’n Woord van die WAT en die interessante woorde wat jy sou borg. Iteratiewe soos bietjie-bietjie, nou-nou en gou-gou is inderdaad eie aan Afrikaans en natuurlik ook iets soos ja-nee. Na analogie hiervan het now-now reeds inslag gevind in Suid-Afrikaanse Engels en modale woorde soos nogal kom in Suid-Afrikaanse Engels sowel as verskeie Afrikatale voor. is ook ’n gunsteling onder die sprekers van Afrikatale.

Deelnemers aan Borg ’n Woord kom ook met baie kreatiewe neologismes na vore en ek noem graag enkeles: trekstrop (vir cable tie), gonsplek (vir chatroom), tietiekiekie (vir mammogram) en loslithoender (vir free range chicken).

Deel I van die WAT is in 1950 gepubliseer en in 2009 het Deel XIII (die letter R) verskyn. Twintig dele word beplan en dit duur tans vier jaar om ’n deel te voltooi. Vanweë die krimpende staatsubsidie raak die personeel egter kleiner, maar ons voltooi steeds die dele vinniger as in vroeër jare toe ons baie beter deur die Staat ondersteun is. Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal is ’n omvattende verklarende woordeboek en sulke woordeboeke neem tradisioneel meer as ’n honderd jaar om te voltooi. Die WAT se Nederlandse eweknie, die WNT, het 146 jaar geneem om te voltooi met heelwat meer geld en mannekrag tot hulle beskikking.

Die Elektroniese WAT bied ons wel die geleentheid om foute in vorige dele reg te maak en onder andere ons beleid vir die hantering van rassismes en seksismes ook op vorige dele toe te pas, maar ons het nie die tyd om die voltooide letters behoorlik by te werk nie. Dit sal by die uiteindelike herbewerking gebeur.

Vriendelike groete.

Willem Botha

Lees Naomi Meyer se onderhoud met Willem Botha, hoofredakteur van die WAT, hier. – Maggie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top