Boodskap van die muse
gegroet meneer die klavierspeler, dis jou muse hier,
hoe het jy gedink gaan jy my teruglok met jou dwase wysies,
jou gehamer op middel C,
wat sit jy daar en tokkel in die laatnag-uur,
hoe dink jy voel ’n muse wat haar klee in fluweel en kant,
as daar net leë blaaie in haar skoot beland
muse waar is jy, kry jou vanaand om sewe
in die konsertsaal van my hart
kom let nou op of jou adrenalien-dae is getel,
jy bly smag na inspirasie, maar jy is lou en lui,
daar is niks wat jou ontroer nie,
bêre tog jou plan met die konjak en die glas
wysies kom nie van droom nie, hulle staan geskryf in sterre
in die tuimel van die melkweg, selfs nog verder
muse waar is jy, kry jou vanaand om nege
by ’n tafel in café riche
as jy my weer oproep, bring jou hart, jou heel gedagtes
probeer ’n ander sleutel, dalk ’n nuwe harmonie
dit is te laat vir uitstel, vul note in wat tel
het jy als vergeet, alles van jou klein begin
t’rug na kontrapunt, of dis jou laaste pianissimo
jy’s op jou eie in jou leë studio
muse waar is jy, soek jou drieuur vanmore
in die stil kamers van my huis
![]() |
![]() |