Luister maar as die manne begin gesels, die een of ander tyd gaan dit oor spoed. Hier by ons praat hulle oor hoe vinnig jy kus toe kan ry, Kaap toe of Gauteng toe. Die motorvervaardigers speel saam en al lekkerder voertuie kom op die mark om hierdie dors in die man te voed. Mens sou dink dat hierdie ding dalk met die motorkar by die mansmense prioriteit geraak het, maar luister as die oumense praat en jy sal stories hoor van hoe hulle vier hele dae met wa en osse moes trek om in Windhoek te kom om materiaal en proviand te gaan laai vir die plaas en hoe, die dag toe daar 'n ou aankom met 'n lekker span donkies en hy ry net drie dae in en drie dae uit, hoe die manne almal vir hulle donkies gekry het. Dat 'n donkie nou weer 'n ander soort van bliksem is, die praat ons nie nou oor nie ....
Vandag steeds, vir die plaaswerker wat onafhanklik wil beweeg, is die donkiekar steeds 'n baie belangrike ryding. Wat uniek hier in ons land is, is dat hulle die donkies nie net in 'n paar voor inspan nie, daar is altyd 'n derde een aan die linkerkant ingespan en as mens hulle teorieë reg luister, dan neig die sterker trek van die tweede donkie aan die linkerkant die kar altyd weg van die pad af. Aan die ander kant kan dit ook 'n spaar 'piston' wees, wie weet?
Wel, Klein Kosie doer duskant Aranos se wêreld het na sy army-jaar 'n stuk grond gehuur en 'n klompie dorpers by 'n weduwee gekry en daarmee vir haar geboer vir helfte van die aanteeld. So het hy deur die jare al beter begin vaar en uiteindelik kon hy 'n lening vat en die plaas koop. Sy skaap se getalle was al heel skaflik, hy het al so 'n paar bees bygesit en uiteindelik kon hy sy gehawende ou bakkie vervang met 'n lekker tweedehandse ligblou Ford F100-bakkie wat hy uit 'n boedel op 'n vendusie gekoop het. Hierdie bakkie het hy blinkgevryf en versorg en hy kon waardig by die begeerte van sy lewe gaan kuier en uiteindelik het Klein-Klein Kosie op daai wye banksitplek van die Ford sy wegtrek gevind.
Toe's dit natuurlik 'n groot storie, want hulle moes trou voor sy 'wys' en sy ou gehuggie van 'n plaashuis wat heel OK was vir kuier met sy pelle, was vir 'n vrou nou nie meer goed nie en so het sy kapitaal al kariger geraak. Toe begin die huispos se boorgat se pomp kak maak en hy't begin soek na iets, êrens tweedehands wat goedkoop te kope is waarmee hy dié pomp kan vervang. Hy hoor toe van 'n vendusie op Stampriet en hy maak sy kontantjies bymekaar, gaan laai sy een pel en hulle sny 'n lyn af vendusie toe.
Die pomp was toe heel skaflik en hy was warm om te koop en het entoesiasties gebie daarop, maar daar was hierdie ou een ryk donner van 'n oom doer van Hardap se plotte af, wat twintig van hierdie pompe splinternuut kontant kan gaan koop en dié jaag vir Klein Koos op tot hy nie meer kon nie en daar het hy g'n pomp toe nie. Met 'n 'laat ons ry' vir sy pel is hulle in die Ford in en hy lóói die Ford op die grondpad Aranos toe. Sy kop maal want wat gaan hy doen om daai kapoet pomp van hom nog 'n stuk te laat werk? Sy pel het maar stil in sy hoek gesit en sy bek gehou, want hy het Klein Koos se teleurstelling verstaan en ook het hy Klein Koos se humeur geken en hy't nie lus gehad vir loop vandag nie!
Hulle kom toe af op 'n donkiekar wat so half skuins van die pad af staan en twee plaaswerkers wat wild arms swaai vir hulle om te stop. Kosie-hulle sou toe sien dat van die man se drie donkies, nog net een op sy voete staan en twee wat lê. Hulle stop en vra uit en die manne vertel vir hulle dat die donkies siek is en dat hulle by Aranos by die veearts moet uitkom sodat hy kan kom kyk, maar nou het hulle gedink 'as die baas so genadig sal wees om hulle donkiekar te haak en dit saam te sleep Aranos toe, sal hulle darem baie bly wees'. Die los donkies kan mos later so met die gesond word, self na hulle-se huis se kant toe staan?
Kosie was glad nie lus vir sulke stront nie, maar wat kon hy maak? Hy kan die mense nie aan eie genade daar in die warm son los nie, maar hy't glad nie smaak gehad vir die gekruie met die donkiekar agter die bakkie vir die volgende 40km Aranos toe nie. Die manne stem in en hulle maak toe maar die donkiekar se disselboom vas aan die trekhaak van die Ford met rieme.
Hulle trek toe daar weg so stadig-stadig om eers te sien hoe vat die donkiekar dit. Kosie sê toe die F100 maak lekker stof en hy kan net-net die manne se koppe deur die stof sien, maar hulle sit stewig. Toe stoot hy die Ford so bietjie en die eerste ding wat gewaai het was die manne se hoede. Toe stoot hy hom nog so 'n bietjie en toe's beide manne se koppe ook weg in die stof! Hy sê elke keer as hy 'n knik tref in die pad, dan sien hy net twee sulke vaal gestofde koppe wat uitstyg uit die stof agter die bakkie ... hul monde wyd oop soos hulle skrou.
Hy reken dis toe dat hy begin dink oor die storie en besef wat hy eintlik besig is om te doen en dag toe dis maar beter dat hy stilhou en die manne toelaat om eerder agterop die bakkie te klim. Toe hy egter uitklim en die twee manne so op die donkiekar so bekyk, toe sien hy net blink oë en spierwit tanne so deur die stof op hulle gesigte en hulle wil g'n niks weet van afklim van daai donkiekar nie! Sê net vir hom hy moet nóg petrol gee, want 'vandag lôp hierdie dongiekar baie lekker'.
Hmmmm. Makie sakie, mans bly mans!
NAMIB


