Sit ek hier en onthou. Ek is geneig om sekere datums te onthou. Die bulhonde lê om my voete en gee nie om nie. Ek is stadig maar verseker besig om gekletter te raak. Dit is waarvoor hulle nie omgee nie. Honde doen dit. Hulle aanvaar jou. Met jou dinge. Sit en luister na klettermusiek. ’n Mengsel van klassiek en 60’s. Myse liefie het die pad gevat want sy reken sy kan dit nie aanskou nie. Dis miskien hoekom ek lief is vir haar. Sy vat my soos die bulhonde. Met skete en skeute en al. Dis seker maar ’n ding van ouderdom. Die onthou-ding. Soms is die onthou ’n skaterlag-onthou. Soms klou die dêm ding om jou hart vas.
Ons was maar ’n rowwe spul so met die jonkheid saam. Nie soseer rof met kwaaddoen nie maar rof in onse verwaandheid in gewaande intellek. Ons was nie slim genoeg om te besef dat ons eintlik stokonnosel is nie. Nagte om geredekawel.
Het nog nie besef dat dit wat jy dink, nie noodwendig die waarheid is nie.
Die vyf van ons. Aggie was in sy eie gat opgekruip, Vuil Piet was ... wel, vuil. Piet Wortel het verbete op syse wortel gefokus en ek was gewoon vervelig. Toe Piet kaalgat deur die kampus gehol het, is hy nie geskors nie, maar beloon met ’n weeklikse uurlange sessie met Prof Tits. Hy moes haar vertel en delf oor hoekom hy punt in die wind met sy spies die akademie getjaarts het. Hy kry nou nog so ’n veraf kyk as ons van Prof T praat.
Ons het eintlik net twee dinge in gemeen gehad. Hoe om die akademie te bedonder. En bedonder het ons dit bedonder. Dis egter ’n heel ander storie. (’n Gekletterde onthou maak dat mens moeilik “by die punt hou”.)
En Bella. Haar storie is eintlik ’n lang ene. ’n Boekvol-storie. Hierdie skryf is dus nie haar storie nie. Dis net oor my onthou van haar. Dis ... Hoekom Bella by ons groepie astrante mannetjies aanklank gevind het weet ek tot vandag nog nie.
Ons was meer voël as verstand. Slim die meisietjie. En mooi. Met ’n mooigeid wat mens in hogere dinge laat glo. Piet Wortel het gesweer dat Bella se bestaan voldoende bewys is dat Charles die kat liederlik aan die gat beetgehad het. Sy het sterk en slim jong manne vir wie ’n ereksie (kognitief óf fisies) net ’n handskud weg was, bang gemaak. Die mooigeid het hulle aanvanklik senuagtig. En as sy begin gesels besef hulle dat hulle eintlik geweldig dom is. In vergeleke nou. Daar is vir sommige niks soos die besef dat hulle met ’n meerdere intellek te doene het, om ’n Jakobregop in die se dop te laat kruip nie.
Was ons verlief op haar? Natuurlik. Maar ek dink ons het instinktief besef dat Bella die liefde op ’n ander manier verken het. Die laaste keer dat ek haar gesien het het sy my haar storie vertel. Het sy kalm en saaklik vertel van dinge van donkerte en boosheid. Van haar soeke na ’n lewe. Sy is daar uit by my kamer uit. Ek het lam van woede daar bly sit. Ons het later na haar gaan soek. Maar Bella was weg. Die koshuismoeder weet te vertelle dat sy uitgeteken het.
Met haar motortjie jaag sy in ’n brugpilaar vas.
Bella Mia
Bella blom
die gedagtes warrel
om en om.
HJ


