Bokomo-brekfisbrief; 31/01/09: Die lyf

  • 0

 

 

Dit het lank terug begin. In my dokter se spreekkamer, om presies te wees.

“Is jy seker jou ID is korrek.”

Ek, só ernstig vra: “Hoekom?” Sommer in ’n oomblik reg om die lui, vet, sleg, en noem maar nog, Binnelandse Sake-beampte aan te vat.

“Jy lyk nie soos my MA nie, en sy het dieselfde ouderdom as jy.”

Ek het met ’n gevaar in my stem gevra: “Wat bedoel jy?”

Hy het vinnig verduidelik dat die jare my goed behandel het. Ek het goed gevoel. Dit was toe. Nog voor die Gautrein begin is, nog voor die bane op die snelweg van vier na twee, na een verander het. Nog voor die nagdonkerte my ingehaal het. Nog voor tieners ook.

Nou, hier by ons in die kantoor is ’n mannetjie van by die 69 jaar oud. Stywe boudjies en wie weet wat nog alles styf is. Toe hy nou die dag die trappe so twee-twee voor my op spring. Toe weet ek, die tyd het aangebreek om ernstig na die self te kyk. ’n Opname te doen van die goeie, en die nie meer so goeie nie – die lyf.

So het ek van ’n ywerige stapper na die gym verskuif. Werk te laat, nag donkerte vang my elke dag, en dan doen ek maar al die dinge sit-sit wat eintlik op ’n meer aktiewe manier gedoen moet word. Die moegheid slaan my. Orals sien ek net ’n bed. In my verbeelding skuif die bed al onder my in nog voor ek eers my huis se voorstoep betree het. Ek drink al wat ‘promising’ pil is, maar net ’n rukkie dan is ek weer terug op die bedgedagte.

My dogter wat deesdae ’n vlymskerp tong het, alle tieners kry dit glo – soos ’n siekte wat hulle kry, het sonder vele omhaal van woorde te vertel dat ek drasties iets aan my self moet doen.

Die liggaam sit in die gym. Die gespierde, fiks seun vra my of ek reeds “menopause’ bereik het. My dogter lag so, sy skuif haar eintlik oor die rusbank om enige aanval te vermy. Die res van die storie is dat ek daardie vorm so vinnig teken, nog voor die man by die ander vrae kon uitkom het ek alles gedoen. Betaal, geteken en my gymklere gaan aantrek. Toe drink ek sommer twee Myprodols vir die voorbaat pyn.

In die kleedkamer skuif so ’n tannetjie van die by die 80 by my verby met haar kierie. Ek sien haar later op die oefenfiets. Die kierie klap so saam met die trappery. Ek vergeet om my mond toe te maak.

Ek het die eerste Body Consultant gaan soek – sy naam begin met ’n M. Geen mens kan dit uitspreek nie. Ek noem hom sommer BC. Hy is ernstig simpatiek. Ons gaan goed klaar kom, dit het ek toe geweet.

Ek sien so soos die dae verbygaan, pyn en lyding. Die menopause-mansgroep is die ergste. Hulle dryf die liggame vreeslik. Die sweet spat links en regs. Die menopause-vrouens spin. Dit trap die fietse met ’n verbete stryd om die ouderdom te oorwin. Die gymklere is skraps en klein. Ek sien ’n duisend stories in elkeen. Soms maak ek net my oë toe en BC vind dit snaaks. “Hoekom doen jy dit?” “Hierdie pyngesigte maak my konsentrasie verloor.” Ek sien net spierwit tande soos hy lag.

In die kleedkamer het die storie van: eerder swart en vet as wit en vet, ook ’n stadige dood gesterf. Daardie haelkorrelmerke is ewe erg. Kleur speel geen rol nie. Goddank daarvoor, want om daarmee ook nog te cope!

Nou vanoggend is die lyf nie meer op die Myprodols nie. Net een, partykeer nog. Hang af wat BC vir die volgende stap uitgedink het. Die spiere en die jeans sit weer saam en baklei nie teen mekaar nie. Ek maak my oggendkoffie. Terwyl ek wag dat die water kook tel ek sommer gister se koerant op. Ja, hier staan dit geskryf: “Wise Woman Range.”

Dit is genoeg om alles net daar te los. Ek lees:

“The Body Shop got into the mature market with the launch of its “Wise Woman” range. (Presumably because they figured that calling it “Old Woman” or “Wrinkly Woman” wouldn’t hold quite the same appeal for the target market.)

Ek los die koffie net daar en skuif spieël toe. My kollega vra, en sy is pragtig, jonk, het die mooiste tjoklit bruin vel: “Wat kyk djy jou so vanoggend?”

Plooie. Ek soek my “Wise old Woman”-plooie.

Helena Botha

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top