Lang John lê al 'n ruk onder die kluite maar oor sy "wedervaringe" word daar nog dikwels gepraat. Dit vat nie lank voor iemand wat bekend is met hom vorendag kom met 'n: "Onthou jy nog die tyd toe Lang John dit of dat aangevang het" nie. En dan lag mens weer van vooraf.
Lang John het 'n goeie ses voet ses of wat in sy skoene gestaan. En soos sulke lang manne mos maar gewoonlik is, was hy aan die dun kant, wat hom nog langer laat lyk het. Handlanger gewees daar waar die manne met die blou oorpakke sorg dat die trokke loop. 'n Mechanic het nie nodig gehad om vir 'n sestien of neëntien "spanner" te vra as hy onder 'n Mercedes-trok gelê het nie. Want Lang John het geweet watter grootte boud waar op die enjin sit. Maar John het soms vreemde goete aangevang. Soos die slag met die varkkop.
Want 'n varkkop is mos goeie vleis. En goedkoop. Jy
Maklik: Jy loop vra 'n ou verfblik en jy maak hom so kwart vol water en jy sit vark se kop met die wawiel snoet ondertoe in die blik. En jy maak vuur onder die besigheid. Maar die kokery vorder mos nie soos in 'n nommer drie potjie nie, jy kook die ding net stuk-stuk gaar. Van die snoet se kant af. So eet Lang John soos 'n koning. En die volgende dag is sy kosblik vol vark. Snoet en een wang. Die manne het uitgevra of hy nou 'n nuwe liefde, wat die kuns van vleis kook in 'n sjefskool loop leer het gevat het, maar hy het blinkmond (van die vet, sien) aan daai wang gekou soveel so dat die manne later hul jambroodjies op 'n ander plek loop eet het. Want hy wou nie deel nie. En hy het niks gesê nie. Volgende dag selle storie. En so het die dae verbygegaan met Lang John wat homself dik eet aan vark. Later begin die manne egter onraad ruik, want die kosblik begin gesels. Soos in die besigheid het 'n klankie. Maar Lang John eet, en lek die (later galsterige) vet van sy vingers af.
Na meer as 'n week kom die storie toe uiteindelik uit: So met die verfblik kook saam het Lang John die vark se kop maar van die gaar kant af geëet. En soos hy by die rou deel gekom het het hy bloot die dunnerwordende kop dieper ingedruk en weer vuur gemaak. Maar jy weet mos van 'n slagding. Hier by die nek se kant waar die dik vleis sit wil die besigheid nie heeldag en dag in en dag uit in die wind en die weer lê nie. Later draai die brommers mos rond veral hier by die murg se kant. Hulle sê Lang John het, toe die kop net nie meer wou inpas nie, maar die besigheid met sy handbyltjie in twee gekap en die murg en breins vir die honne gevoer (mens eet mos nie vark se murg nie want dit maak mens mos mal). En so kook hy die kop van onder af elke dag stuk vir stuk gaar en los die rou deel vir more.
Gesiggie het my later vertel dat hy die besigheid moes stopsit toe Lang John se asem na die dood begin ruik het. Want as mens onder 'n lorrie na aan mekaar lê en jy moet in mekaar se gesigte praat deug dit nie as die ander ou se mond na 'n kadawer ruik nie. Ek wassie darie maar Gesiggie sê toe hy daar by Lang John se blyplek aankom en daai varkkop uit die blik haal het die vleisies sulke stukke afgeval. Hy het vertel hoe stommerik kwaad Lang John vir hom was oor hy die oorblyfsels vir die honne loop voer het. Hy sê die honne het wye draaie om die twee halwes geloop en lank later eers begin ruik-ruik aan die besigheid.
Hy sê dat dit 'n wonder is dat man nie lankal sy longe uitgeskyt het nie. Sommige manne se mae is eenvoudig net meer gehard as ander s'n, smaak dit my.
oester


