Dis naweek. Ek kan bietjie laat slaap voor ek gim toe gaan en ek beplan my dag. Nogal baie om te doen, maar niks gejaag nie. Na my Pilates-klas klim ek in my motor. Ek trap die brandstofpedaal diep in, die pragtige motor ry sag en heerlik. Ek voel bederf om so te ry na daar waar Antie Stienie se storie vir TV gemaak is. By 'n armoedige huisie draai ek in. Dis arm en vuil, die twee kinders is bly om my, hulle pleeg-ouma, te sien. Ek gee die geskenkies, sy word 11; hy is nou net 8. Hulle het skaars kos, maar daar is drie honde en 'n babakatjie.
Op pad terug gaan ek by my Pa se woonstel aan, hy is 86. Ek vra hom wat maak dat hy elke dag opstaan. Hy antwoord my: "My kind daar is so baie om te doen, so baie mense om te sien, dinge waarna ek uitsien."
Terwyl ek huis toe ry, kyk ek na die helder blou lug, die bome vol bloeisels en ek draai in by my groot huis met die groen grasperk, pienk en pers gesiggies en petunias wat vrolik blom.
Ek huil in my man se arms, oor armoede. Oor ek maar net soveel kan doen, oor mense wat hulle lewens opmors.
My twee skoonseuns arriveer, hulle skop 'n bal op die grasperk en toe hulle moeg is, speel ons Balderdash. Ek verlustig my in my dogters en hulle mans se kreatiwiteit, intelligensie, humor en hulle uitbundige lewenslus. Maandag sal hulle weer in hulle besigheidsklere verantwoordelike besluite neem oor begrotings, huisverbande en werksgeleenthede.
Gister was ek en laatlammetjie na 'n spa. Ons het oor die pragtige rivier uitgekyk, ons stresknoppe laat uitpommel en daar uitgestap met blink vel en pragtige tone. Die alien wat vyf jaar terug my jongste se identiteit gesteel het, haar laat glo het dat haar ouers niks weet nie en haar liggaam vol gaatjies laat skiet het, is darem besig om haar tas te pak en uit te trek. Ek sal hopelik een van die dae my kind terugkry.
Al my vraestelle is gemerk, daar is te veel druipelinge, maar die klompie A-plusse maak op daarvoor. Maak alles die moeite werd. Ek werk gou die finale punte uit.
Nou kan ek met 'n boek gaan sit terwyl manlief Grand Prix kyk. Ek is pas klaar met Koos Human se 'n Lewe met Boeke. Was vir 'n oomblik spyt dat ek nie 'n paar dekades vroeër gelewe het nie. Die ontstaan en groei van ons uitgewerswese moes opwindende tye gewees het. Nou lees ek The Book Thief. Wat 'n ondervinding, om weggevoer te word na 'n meisie se lewe tydens WW2 en haar ontdekkingsreis na woorde en boeke. Die beste aanhaling vir my is, toe die dood, wat die verteller is, sardonies opmerk: "It kills me sometimes, how people die." Die boek skuif na die top van my all time favourites. LEES DIE BOEK!
Ek sien uit na Aardklop volgende week. Ons program is uitgewerk, blyplek bespreek en kaartjies gekoop.
Addison het geskryf: "Wat 'n mens in hierdie lewe die nodigste het, is iets om te doen, iets om lief te hê en iets waarop hy kan hoop.
Ek klim aan die einde van die dag in die bed, skuif tot teenaan my man se sterk skouers en voel dankbaar.
Ek voel soos God se witbroodjie.
Vega


