Jy het die afsprake. Jy weet jy moet hierdie of daardie tyd in daai dorpie (McGregor) met sy absoluut wonderlike mens wees. Maar jy kannie sesuur voor iemand se deur kom staan klop nie. Dis 'n goddelose tyd, is dit nie? En omdat daardie mens so 'n absoluut ongelooflike mens is wil jy net nie weg nie. Jy talm en talm en talm en jy dink in jou agterkop aan die pad Kaap toe en soos die horlosie draai werk jy die km/h uit want jy moet terug. En terug wees want hier staan 'n paar manne en maninne wat na jou hanne kyk. Maar haar honne is so cool en dan is die kat nogal 'n jintelman ook! Erg cool dude, daai kat.
Nietemin, ek dwaal af. Teer, soos Cornelius beduie het, is nie geduldig nie. Hy wil gevreet word. En as jy weet jy moet terug wees op 'n sekere tyd dan is dit die tyd wat jy plesier kry, want jy het 'n verskoning om die naald te laat neig na die regterkant. En jy sit daai CD so hard dat jou ore weergalm en jy luister na Mozart se 21 ste en jy geniet wat die beste ingenieurs kon produseer.
Jy land in Nadine se dorp as 'n wildvreemdeling en jy vra uit hoe om by daai restaurant uit te kom. En die persoon wat jy vra toe jy instap ken jou van geen kant af nie. Jy doen die PR-goete en jy bemark en jy beklink die transaksie waarvoor jy in die eerste plek soontoe gegaan het. En op pad terug kry jy 'n oproep, want die wêreld is inderdaad 'n baie baie klein plekkie. Eendag meer daaroor ...
Nou, enigeen hier wat langpadry gewoond is sal weet: Mens ry altyd met 'n "partner". Jy hang aan 'n voertuig of hy hang aan jou. Daar is "method to the madness", want soos jy deur die dorpe gaan maak jy beurte wie voor ry as jy die naald hier neffens die eindpunt druk. Dis vir die speedtraps, sien. Want dit baat nie dat een persoon al die boetes kry nie, so jy maak beurte. En so kom die C180 by my verby asof hy haastig op pad iewers heen is. En jy sien hom en jy hang aan sy gat. Want hy ry mooi al ry hy nie reg nie.
By die eerste "stop & wait"-geleentheid klim julle uit en maak kennis. Die man is op pad Oos-London toe want sy vrou se neef of iets is siek. Hy moet ry want mammie is ongeduldig. Ons rook ons skywe en ons ruil adresse uit en belowe om mekaar te bel. Ons bespreek waar die speedtraps moontlik kan wees en ons stem saam oor hierdie omies wat net nie kan pad maak of kan ry nie. Hy vra oor die CD wat so hard speel en ek beduie hom van Villa Rides en ek gee hom die CD want dis bleddie goeie musiek. Ek vra hom of hy my moedertaal praat en toe praat ons Setswana. Want is daar op hierdie aarde 'n mooier taal?
Ons skud blad soos ons kleintyd geleer is en ons ry verder.
Hier in Oesterland toe ek moes afdraai wens ek ek het die man se nommer gevat, want skielik is ek in die bui om met een van my broers 'n dop te drink. Ek wens jy was nie so aangejaag deur jou mammie nie, my broer. Maar ons ken mos mammies en hul buie. En die teer is nie so geduldig nie, is dit?
Hierdie broer van my het my gehelp om my beste tyd tot op hede op te stel vanaf die middedorp waar LitNet se kantore is tot binne in Oesterland: 2 uur 18 minute. Ingereken die twee "stop & go's", die tonnel en Worcester se verkeersknoop. Terloops, jy is heel cool, Nadine, al was die ontmoeting sommer so op straat.
Dankie vir die rush, my onbekende broer! Dalk ontmoet ons mekaar weer hier op die pad en dan drink ons onsself in tien ure tot binne in Oesterland. Eendag as beide van ons nie so haastig is nie.
Terloops: Te hel met die doemprofete oor spoed en gordels en ladieda-goete, al weet ek dis nie goed vir die kinners en die broses nie. Speed kills, but wie wil dan nou stadig doodgaan?
Nna, ke a go bona, Morena! (you will know me if you read this, my brother)
oester


