Bokomo-brekfisbrief; 30/01/09: Wat’s inne naam?

  • 0

 

 

Ek kan nie name onthou nie, maar 'n gesig vergeet ek gou.

Niks met ouderdom te make nie (in elk geval baie minder as wat party mense mag dink). Het die probleem van jongs af. Geneties vermoed ek.

My pa se oplossing vir dié aandoening is nou nie juis elegant nie. Hy sal enige naam wat volgens hom by 'n persoon pas aan hulle toedig en basta. So is 'n vriend van my se vrou byvoorbeeld Phillippa. Dis nou ten spyte daarvan dat haar ouers besluit het om haar sommer van babatyd af Lizanda te noem en die res van ons natuurlik nog steeds hulle besluit respekteer.

Ek weer het besluit op die 'jakkalsdraai-en-eierdans'-benadering. Weet mos, jy praat maar so innie lug hopende daar sal 'n liggie aankom voor jy uitgevang word: "Jis, lanklaas gesien, wanneer was die laaste?" of "Wat doen jy deesdae met jouself?” (Hopende daar word verduidelik wat gebeur het vandat hy/sy klaar geswot het of by 'n vorige gemeenskaplike werkgewer weg is of so iets). Dié benadering is pynlik frustrerend en het maar beperkte sukses. Maar ten minste ís daar 'n kans op sukses. Die eerlike alternatief gaan altyd sleg uitdraai, glo maar vir my.

Pas nadat Mejuffrou Reg in Mevrou Papkop omgeskakel is, sit die tweetjies van ons af bank toe. Al die grootmensgoed moet gereël en gedoen word, mos. Meld onsself aan en gaan sit op die lekker bankies en wag op een of ander bankamptenaar met 'n fênsie titel om ons te woord te staan. Nie lank gewag voor sy daar aankom nie. 'n Netjiese vroumens, so omtrent my ouderdom. Nogal mooi ook.

Ons staan op en ek wil nog groet toe sy afhaak met: "Haai! Hallo Papkop. Hoe gaan dit nog met jou?" "Huh?" antwoord ek, wat nog nooit juis vinnig op my voete (of enige ander deel van my anatomie) kon dink nie. Sy deins so effens terug, en toe raak sy 'nasty': "Onthou jy my dan nie meer nie?" vra sy, kamtig stroopsoet.

My verwarde blik vang vir 'n oomblik die nuwe Mevrou Papkop se gesig. Daai glinster in haar oog en die mondhoeke wat geamuseerd so liggies boontoe trek, kan dalk vir die oningeligte lyk asof sy op die punt is om te glimlag. Ekke weet toe al van beter. (Dis verbasend hoe vinnig selfs 'n stadige ou kan leer waar dit gaan om oorlewing.) Ek raak moer benoud. Vir 'n vlietende oomblik wens ek selfs ek het nog nooit eers van drank gehóór nie. Ek hum en ek pip en ek kry uiteindelik iets uitgeprewel soos "kan jou net nie op die oomblik plaas nie" of so iets stjoepit.

Ons deel 'n Alma Mater kom dit toe uit. Het blykbaar selfs hier en daar dieselfde klas gedraf. Verligting spoel oor my. Net toe ek my gemoedelik wil berus in die onskuldige aard van die vorige verbintenis val bankpop alweer weg met "Onthou jy my nóú?" (Wat ís dit met die vrou?) Natuurlik! moes ek geantwoord het en sonder meer oorgeslaan het na jakkalsdraai en eierdans. Maar ek is mos stadig en ek vermoed bankpop het bloed geruik. "Uhh¡ ¬nie eintlik nie," spring dit in 'n "o fok!"-oomblik by my dom bek uit.

"Toemaar", sê sy ysig (en soos bankpop verder praat rek nuwe Mevrou se oë pieringgroot) "Jy sál my nie onthou nie, ek was 'n ordentlike meisie."

Papkop

NS: Die "was" in bankpop se stelling het my nie ontgaan nie. Ek wou nog daaroor navraag doen, maar Mevrou Papkop het toe al sonder 'n woord op haar hakke omgedraai en bank uitgestap. Ek't gedog dis nogal naais dat sy haar so wip oor iemand my beledig.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top